Julle baklei soos kat en hond en die kloue is uit. Jy was nog nooit rooier van woede nie, maar in die middel van jou sin onderbreek hy jou met ’n vuurwarm soen. Eers stoei jy verbete . . . en dan smelt jy soos ’n Paaseier in Upington.

Promosie

Om ná ’n hewige rusie op te maak met ongeïnhibeerde seks, maak die hele rusie die moeite werd, meen sommige paartjies. Om die waarheid te sê, daar is paartjies wat fight net omdat die opmaak vir hulle so lekker is! Terwyl sommige kenners meen dat dit gesond kan wees en dat ’n woede-uitbarsting so ’n bietjie ekstra sout en peper op reeds-heerlike seks kan strooi, meen ander opmaak-seks is disfunksionele gedrag.

En dié wat daarin glo? Hoekom is dit vir hulle so lekker? Want net ná julle jul emosies naak op die tafel gelê het, klim julle (naak) op daardie einste tafel! Julle is blootgestel en rou en honger vir die troos en nabyheid wat seks bring. Daar is ’n fyn lyn tussen woede en seksuele opwekking. Sommige mense krop woede op, soos wat seksuele frustrasie opgekrop word. En volgens Seth Meyers in Psycology Today, het opmaak-seks dieselfde uitwerking op die brein as ’n lyn kokaïen. Dit stel jou in ’n tydelike toestand van euforie, en bring jou van die laagtepunt wat ’n argument skep tot ’n tipe ekstase wat slegs ’n orgasme kan bied. Paartjies smag na daardie tydelike high wat plaasvind as jy ontsnap van ’n spannende en gelaaide rusie.

Wanneer opmaak-seks gevaarlik raak

Promosie

Altesaam 72% van vroulike respondente in ’n opname op redbookmag.com sê hulle weerhou seks van hul mans wanneer hulle baklei. Maar jy speel ook met vuur wanneer opmaak-seks gebruik word as ’n manipulasie-instrument om te keer dat een van julle die verhouding verlaat. Om opmaak-seks te gebruik as julle baklei, is soos om Kimberley se gat met ’n 2×2 meter afdakkie te probeer toemaak. Die verhouding gaan nie hierdeur vooruitgaan of herstel nie. Dit bring dalk tydelike verligting, maar maak nie ’n diepliggende probleem gesond nie.

Wanneer julle maar kan voortgaan

Gebruik gerus opmaak-seks wanneer julle bakleiery kleinlik was en nie regtig uitgeworstel hoef te word nie (hy het al weer vergeet om hondekos te koop!). Doen dit ook net wanneer julle albei dit ewe graag wil hê. Deur van die spanning ontslae te raak, kan julle jul argument weer met ’n helder gemoed voorsit – of nié. Wanneer die rusies nie ernstig is nie, het opmaak-seks die vermoë om wonde te heel, meen Diane Andoscia Urso, ’n verhoudingsterapeut van New York. “Hierdie volgehoue kwessies mag dalk nooit heeltemal bevredigend opgelos word nie, maar goeie seks kan die spanning daaroor verlig.” Maak net seker dat julle wel tyd maak om daaroor te praat, anders dien opmaak-seks net as ’n uitsteltegniek.

 

Só hoe doen jy dit?

  • Laat jou woede die voortou neem. Sommige paartjies word seksueel opgewek deur debat – wat in dié geval verbale voorspel genoem kan word! Die adrenalien-rush wat deur matige woede voortgebring word, stel ’n reaksie in die brein vry, soortgelyk aan seksuele opwekking (com). Gebruik dit tot jou voordeel – vermy kras woorde en aantygings wat ’n klein rusie in ’n groot argument kan laat ontaard. Moenie gemeen wees nie en gebruik die erotiese energie in jou lyf!
  • Vat ’n breuk met ’n lagbui. Om te lag, is helend en eroties. Lag – maar nie vir mekaar nie, met mekaar. Breek die spanning deur iets snaaks te sê – die ander persoon gaan nie kan help om ook te lag nie. Nou kan julle nader aan mekaar tree . . .
  • Sommige mense voel hulle moet wen met ’n sluitingsargument voor hulle kan aanbeweeg na seks. Hou dit kort en kragtig. Gee hom aanmoediging met jou oë en eindig met ’n uitlokkende: “Ons kan later verder daaroor gesels . . .” terwyl jy jou klere uittrek.
  • Speel ’n magspeletjie (maar speel dit só dat albei van julle weet dit is opsetlik). As hy in die rooi was, stel jou versoeke: Vra vir langer voorspel of ’n erotiese massering. Neem die koningin-posisie in en laat hom verstaan dat hy onderdanig moet wees as hy uit die skuld wil kom. ’n Orgasme is ’n wonderbaarlike kuur vir woede!

 

En as julle nie wil baklei nie, maar opmaak-seks wil geniet . . .

  1. Gaan bungee jump! Kry jou adrenalien aan die pomp (sonder ’n rusie) deur iets opwindend saam te doen, meen Pepper Schwartz, ’n professor in sosiologie aan die Universiteit van Washington. As jy nie ’n adrenalien-junkie is nie, gaan draf net saam vir ’n paar kilometer.
  2. Skep ’n bietjie afstand. Wanneer ’n paartjie ná ’n rusie in die bed spring, is dit ’n soort reünie. So in plaas daarvan om te baklei, spandeer ’n bietjie tyd apart. Dalk ’n naweek weg van mekaar of selfs net ’n Saterdag waarop elkeen sy eie ding doen. “In ’n florerende verhouding kan die belangrikheid van persoonlike spasie nie genoeg beklemtoon word nie,” meen Aaron Ben-Ze’ev, outeur van In the Name of Love.
  3. Wat van ’n bietjie (skadelose) kompetisie? Nee, ons sê nie jy moet manlief jaloers maak of met vreemdelinge flirt nie, maar trek jou mooiste, rooiste rok aan en wys hom dat jy steeds die koppe laat draai.
  4. Baklei maar – speel-speel! Stook ’n rusie met jou maat – maar oor iets simpels, soos wie van julle die beste braaibroodjies kan maak! Raak speels fisiek. Smeer ’n lepel mayonnaise op sy voorkop. Hy sal dit nie daar laat nie en ’n speelse stoeigeveg kan lei tot ander dinge . . .

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.askmen.com, www.redbookmag.com, www.elitedaily.com