Met liefde as hoofbestanddeel voel dit nie asof die woord “oorlog” in ’n suksesvolle huwelik tuishoort nie, maar elke vrou behoort ’n kryger te wees.
Hy frons wanneer hy die kombuis binnestap. “Wat is hier om te eet?” vra Brombeer. Jy antwoord nie, jy wéét nie, want jy het immers vyf minute gelede ook ingestap en ’n vloed in die badkamer aangetref waar jou tienermeisiekind die kraan oop gelos het. Jy bly stil.
Hy sê (selfs effens méér driftig): “Sê net of ek pizza moet bestel en of jy kos beplan. Ek moes heeldag vure doodslaan en ek is honger!” Jy gooi die nat handdoeke neer en antwoord: “Lýk dit of ek kos beplan? Lani het die bad laat oorloop en ek is besig om te red wat daar te redde is. Ek is óók moeg en die laaste ding op my prioriteitslysie is jou maag!” En dis nie net waar die rusie begin nie . . . dis ook waar jy ’n baie gulde geleentheid mis: Om ’n kryger vir jou huwelik te wees.
Die boek en fliek War Room fokus op die gedagte dat ons, soos in die Weermag, God moet nader vir die regte strategie voor ons gaan veg teen die daaglikse kwessies waarvoor ons te staan kom. In hierdie boek wys Miss Clara vir Elizabeth ’n klerekas wat sy uitsluitlik gebruik as haar “war room”, want, soos sy dit stel, is gebed die wapen wat jy gebruik teen die vyand.
Die boek, The Warrior Wife Handbook: Strengthening Marriage through the Word, deur MA Kristina Seymour, berus weer op twee beginsels: Dat jy jou krag uit die Woord kry en dat jy saam met ander gelowiges moet span sodat daar iemand is om jou te help as jy struikel. Omdat jy nie met die man voor jou of die vrou in die spieël baklei nie, maar met bose magte.
Op Crosswalk.com skryf Alicia Bruxvoort hoe sy oor haar man gekla het by ’n vrou by haar Bybelstudie-groep en dié geantwoord het: “Skattebol, jy moet besluit of jy jou energie gaan gebruik deur téén jou man te veg of vír hom te veg.” Sy het gesê: “Elke vrou is gemaak om ’n kryger te wees.”
Later daardie aand het Alicia God gevra om haar te leer hoe om te veg en sy het die antwoord deur Paulus gekry: Bid oor alles op elke manier wat jy ken. Sy het begin om God se waarheid oor haar hele lewe te spreek.
“Wanneer ek in die versoeking was om seermaak-woorde te gooi, het ek God gevra om my te help om eerder die swaard van die Gees te swaai. Wanneer ek swak en ontmoedig gevoel het, het ek Christus gevra om my te geur met Sy krag en Sy hoop. Uiteindelik het ek agtergekom ek kies om te veg eerder as om te verkleineer, om te prys eerder as om te verpes, om te glo eerder as om te vrees. En eendag het ek wakker geword en besef ek was nie meer blind vir die gawe van my man nie. My gebede het my vars visie gegee.”
Dis nie altyd maklik nie, veral nie in die scenario soos hierbo genoem nie. Soms verg dit al jou inspanning om nie uit pure verdediging te kritiseer nie. Maar, meen www.beginconfidentofthis.com, die geheim om ’n krygervrou te wees, lê in die perspektief. Sodra jy dit nie meer sien as ’n rol wat jy speel nie, maar as ’n integrale deel van jou identiteit, raak dit makliker.
Om ’n krygervrou vir jou huwelik te wees, moet jy bereid wees om oorlog toe te gaan deur pro-aktief op te tree om jou huweliksband te versterk en jou gesin te beskerm. Met jou wapenrusting aan, is jy reg vir die tawwe tye. Die webtuiste blackandmarriedwithkids.com gee die volgende maniere waarop jy ’n soldaat vir jou huwelik kan wees:
- ’n Kryger in gebed. Jy weet hoe belangrik dit is om vir jou man en jou kinders te bid, en daarom behoort jy nie te wag vir die moeilike tye nie. Jy is voortdurend in gebed en jy glo in wat jy bid. Jy is ’n gebedskryger wat sonder ophou bid.
- ’n Kryger in aanbidding. Jy veg deur lofsang en aanbidding. As kryger prys en loof jy God omdat jy weet waar jou hulp vandaan kom en dankbaar is vir alles wat jy in die Gees ontvang. Jy leef dankbaar.
- ’n Kryger in die Woord. Jy spreek lewe! Jy bemoedig jouself en jou familie, en jy gebruik jou woorde om te genees, te vertroos en te lei. Jy is egter nie te bang om jou gesin te verdedig nie, maar jy weet jou tong is ’n magtige wapen.
- ’n Kryger in ma-wees. Jy weet hoe belangrik dit is om jou kinders groot te maak volgens die wil van God en jy weet dat God jou verantwoordelik hou vir hoe jy dit doen.
- ’n Kryger in finansies. Dit is iemand wat einde-van-die-maand sente kan gebruik om ’n koningsmaal met liefde voor te berei. Dit is iemand wat met oorleg met finansies omgaan en nie kla oor tekorte nie, maar help om te beplan vir swaarkry-dae.
- ’n Kryger in onderskeiding. Sy het ’n sesde sintuig en kan fyn onderskei tussen wat goed en wat sleg is vir haar huwelik. Sy bid gereeld en kan gou agterkom as iemand slegte bedoelings het teenoor haar gesin of haar huwelik.
- ’n Kryger in huishouding. Sy beskerm die vrede in haar huis en laat nie toe dat negatiwiteit heers nie. Só skep sy ’n veilige hawe vir haar man en haar kinders.
- ’n Kryger in seksualiteit. Dit is ’n vrou wat nie bang is vir seksuele intimiteit en nabyheid nie omdat sy dit net soveel soos haar man geniet. Sy inisieer seks en hou daarvan om haar man gelukkig te maak. Sy sorg dat die vlammetjie brand.
- ’n Kryger in opheffing. Só ’n vrou laat haar man voel dat hy tot enigiets in staat is deur Christus wat hom krag gee. Sy is die een wat haar man bemoedig, beter laat voel, ophef, komplimenteer en in hom glo – selfs wanneer hy nie in homself glo nie.
- ’n Kryger in lewensdoelstellings. Sy glo in die doel wat God met haar huwelik het. Sy baklei daarvoor, selfs wanneer almal sê dat sy behoort op te gee.
Deur ’n krygervrou te wees, kan jy ’n koning in jou man kweek. En deur soms op jou tong te byt, selfbeheersing toe te pas en positiewe woorde soos heuning uit jou mond te giet, kan jy ’n krygervrou word. Teen die vrugte van die Gees staan geen vyand ’n kans nie!
Deur Annelize Steyn