Al ooit gewonder oor die waarde van ’n klein swart boekie met ’n slot – wat verslag lewer oor al jul stoutste aktiwiteite?

Promosie

Hoekom sal jy dít wil neerskryf? Wel, daar is verskeie redes waarom ’n seksdagboek julle huwelik ’n hupstoot kan gee. En nee, dit is nie net vir vermaak wanneer julle eendag met rumatiekvingers daardeur blaai en die goeie ou dae herroep toe julle die “kruiwa”-posisie nog lag-lag kon vervolmaak nie!

Seksterapeute in Australië en die VSA het bevind dat ’n joernaal wat hul sekskapades dagboek paartjies kan help om waarlik hul harte oop te maak wat kwessies en begeertes betref . . . dit is baie makliker om te skryf oor jou fantasie van hom in ’n brandweerpak as om hom te vertel! Jy dink dalk dat jy sommer vir jou maat sal sê wat jy op die hart het, min wetende dat jou stil man homself veel beter op papier uitdruk en dat jy heelwat meer oor hierdie misterieuse wese kan leer as jy hom die opsie gee om dit te doen.

’n Seksdagboek kan ook beskou word as ’n uitgebreide, stomende liefdesbrief en wanneer dinge ’n bietjie saai raak, is dit ’n wonderlike bron om na toe terug te verwys in ’n poging om jul ou self te herontdek! Julle kan sekere patrone raaklees (twee keer die afgelope twee maande – wát?!) en iets daaraan doen voor dit in ’n werklike probleem ontaard. Dit is boonop suiwer pret en baie intiem om saam te skryf aan iets wat nét vir jul oë bedoel is.

Promosie

Hoe doen jy dit? Op gracieguru.com skryf Rebecca Kerr dat jy en jou maat moet begin deur ’n paar reëls neer te lê. Julle kan dalk verskil in jul idees oor wat om neer te griffel (hy mag byvoorbeeld beslis nie dink dit is hier waar hy kan noem dat hy die ekstra tien kilo’s wat jy aangesit het, kan vóél nie!). Wees egter eerlik. Dit is ’n plek waar julle as paartjie veilig behoort te voel.

Besluit eers wát julle wil neerskryf! Is dit ’n “to do”-joernaal? ’n Joernaal waarin julle elke seksdaad gaan dokumenteer? ’n Dagboek waarin julle net jul mooiste en beste herinneringe gaan neerskryf? Gaan julle albei afsonderlik dokumenteer vir mekaar om te lees of gaan julle saam uit een mond praat? Julle kan dit ook in verskillende dele verdeel. (Elke bladsy kan in verskillende seksies verdeel word, of die boek kan ook in verskillende seksies verdeel word.)

  1. As julle afsonderlik dagboek hou (maar in dieselfde dagboek), kan julle vir mekaar vrae vra, wat die ander een dan later kan beantwoord. Byvoorbeeld: Wat het jy gedink van gisteraand se posisie, moet ons dit vanaand weer probeer?
  2. Julle kan ook ’n fantasie-gedeelte skep, waar elkeen vry kan voel om sy/haar fantasieë met mekaar te deel. Byvoorbeeld: “Ek wou nog altyd seks gehad het op die piek van ’n berg.”
  3. Dan kan daar ’n emosionele seksie wees, waar julle dít deel wat julle sekslewe beïnvloed (al is dit nie seks self nie). Byvoorbeeld: “Ek kom agter dat jy die laaste tyd te selfbewus voel om voor my aan te trek.”
  4. Daar kan ’n waardering-seksie wees, waarin jy dinge deel wat jy van jou maat waardeer. Dit kan fisiek, emosioneel of geestelik wees, en sal tipies iets wees soos: “Jy het vandag vir my só aantreklik gelyk dat ek gesukkel het om jou uit te los, veral toe jy agter my kom staan het toe ek tande geborsel het.”
  5. Die stomende gedeelte moet genoeg bladsye kry! Hier hoef julle nie noodwendig jul seks te beoordeel volgens ’n puntestelsel nie, maar hoe julle elkeen dit ervaar het en waarvan spesifiek julle gehou het.

Maak die dagboek opwindend en gaan soek saam vir materiaal! Kry helder neonpenne, plakkers, sterre, etikette, gekleurde papier, verdelings, plakboek-materiaal . . . die inkopietog op sigself behoort groot pret te wees!

Idees om julle aan die gang te kry!

  • Skryf oor jul ontmoeting, jul eerste date en jul troudag.
  • Skryf watter karaktertrekke julle van mekaar aantreklik vind.
  • Skryf oor jou gunsteling ervaring saam met jou maat (in die bed en daarbuite).
  • Hoekom is seks vir jou lekker? En wanneer is dit vir jou nie so lekker nie?
  • Skryf neer wat van jou maat hom/haar ’n goeie bedmaat maak.
  • Noem watter liggaamsdele van jou maat die dier in jou wakker maak!
  • Skryf neer hoe jy voel oor die kwaliteit en die kwantiteit van jul sekslewe.
  • Wat is vir jou romanties en hoe kan jou maat die vlammetjie aanblaas?
  • Wat is jou gunsteling tyd van die dag vir seks?
  • Watter plekke vir ’n sekskapade is op jou bucket list?
  • Wat mis jy in jul sekslewe?

Julle kan besluit wanneer om die dagboek op te dateer (byvoorbeeld elke aand voor slaaptyd of soggens). As jy wil hê jou maat moet iets spesifieks lees, dan kan jy dit onder sy/haar kussing los. Dit is die lekkerste dagboek wat jy ooit sal hou, en jy het ’n spanmaat wat jou kan dissiplineer om elke dag (of twee) jou inskrywing te maak. ’n Jaar later kan julle ’n spesifieke date night skep waartydens julle die vorige jaar se bedpraatjies kan evalueer . . . en só kan julle jaar na jaar daarop verbeter!

Deur Annelize Steyn.

Addisionele bronne: www.cre8tivelife.hubpages.com, www.writersdigest.com.