Het jy getrou omdat dit “die regte ding was om te doen”? Omdat jy ‘n broodjie in die oond gehad het? Of omdat die huwelik een van God se briljante idees was … ?
As jy mooi dink aan die rede waarom jy met jou maat getrou het, verg dit dalk ‘n bietjie kopkrap, nie waar nie? Ja, sy het sexy bene en ‘n killer sin vir humor! En ja, hy is vandag ‘n goeie pa (al was jy nie 100% seker hy sou een wees nie) met onweerstaanbare ambisie. Maar is dit groot genoeg redes om te trou? Hoekom nie net saambly nie?
“Want dit mos maar net wat ‘n mens doen.” Is dit jou antwoord? Het jy getrou omdat dit die “volgende stap” was, omdat sy jou gepressure het met ‘n ultimatum? Of omdat sy familie bekommerd was oor wat die mense sou dink van jul saamblyery?
Wanneer jy mense vra om konkreet te antwoord op die rede vir hul besluit om te trou, kan bitter min paartjies dit verwoord. En bitter min paartjies kom by die wáre rede uit: Omdat die huwelik God se goeie plan was/is. Dis eintlik ook ‘n flatervrye plan – mits jy God se oorspronklike bloudruk volg van hoe die huwelik en gesinne veronderstel is om te werk. Die huwelik was God se idee en Hy het dit geskep om ons diepste spirituele, emosionele en fisieke behoeftes te laat vervul. Vir ‘n paartjie om eenheid en intimiteit te ervaar. So staan dit in immers in Genesis geskryf. Die huwelik was nie net een van God se planne nie … Dit was een van sy heel eerste, primêre planne!
Glo jy in die ontwerp?
Gestel twee manne kom staan voor jou deur, elkeen beweer dat hulle die nuustste briljante ontwerp het om jou lewe mee te vergemaklik (een wat die Shark Tank beoordelaars se voete onder hulle sal uitslaan). Die eerste man se naam is Piet Venter. Die tweede een is Leonardo da Vinci. In wie se ontwerp sal jy glo? Natuurlik die man wat hom telkemale bewys het as een van die wonderlikste ontwerpers ooit.
Gestel God staan voor jou deur (soos hy maar elke dag doen) en stel sy huweliksplan aan jou voor. Sal jy twee keer dink? Ons praat immers hier van dieselfde Skepper wat Hemel en aarde gemaak het. Die een wat die sterre en sand in sy hande hou.
Dink vir ‘n oomblik hieraan:
Die menslike retina het drie tipe kegelselle wat golflengtes van lig waarneem wat ons as blou, rooi en groen sien. Die Mantis Garnaal het sestien tipes kleurreseptiewe kegels wat hulle toelaat om ultraviolet golflengtes raak te sien wat vir ons onsigbaar is. Elke oog is verdeel in drie dele wat trinokulêre visie veroorsaak – en elk is gemonteer op stokkies wat onafhanklik van mekaar kan beweeg.
Die Suikerbekkie kan 97km per uur vlieg en hul vlerke tot 80 keer per sekonde in ‘n figuur-8 patroon roteer! Dis vinniger as wat die menslike oog kan registreer. Dit is ook die enigste voëls wat vorentoe en sylangs kan vlieg, soos ‘n helikopter! Hulle moet daagliks soveel nektar eet soos wat hulle weeg om te oorleef – as dit in menslike terme gemeet word, is dit sowat 300 hamburgers per dag.
En dan is daar die Houtpadda, wat homself onder die grond ingrawe en homself solied vries. Vir sowat agt maande per jaar is hul bloed, vel, spiere en baie ander weefsel gevries. Hulle harte klop nie, hul haal nie asem nie en wanneer dit weer warmer word, ontdooi hulle!
Dieselfde Skepper wat miljoene van hierdie wonderlike ontwerpe gemaak het, ontwerpe waarvan ons nie eens bewus is nie, hou die huwelik aan ons voor! Wie kan dit weier?
Sy portefeulje spreek immers vanself. Wie kan nié glo in ‘n skepping wat deur ‘n merkwaardige Skepper gemaak is nie?
Glo jy in Sy redes?
Hy het hierdie idee ontwerp en hy het dit nie terloops laat insmelt met die skepping, soos die Houtpaddda, die Suikerbekkie en die Mantis-garnaal nie. Nee, hy het dit vroeg reeds in die Bybel uiteengesit. So, selfs al sou jy nie verder as Genesis geblaai het nie, jy sou steeds hierdie plan raakgelees het!
Hier word God se ontwerp verduidelik sodat ons soliede huwelike kan bou wat God eer. Die idees is voor-die-handliggend: Dit is nie goed vir die mens om alleen te wees nie. Elkeen het ‘n helper nodig, ‘n kameraad. Daardie goeie vriend, minnaar en maat met wie jy enigiets kan deel (van jou hart tot jou roomys, tot jou lyf!). Daardie een voor wie jy naak (in liggaam en in siel) kan staan.
Daar word egter ook voorgeskryf dat die huwelik met ‘n voorwaarde kom: Dit kan slegs slaag as daar drie partye betrokke is: God, man en vrou. Vir die huwelik om te kan werk, moet God aan die bo-punt van die huwelik staan. Hoe nader die paartjie (die onderste twee punte van die driehoek) aan God beweeg, hoe nader beweeg hulle aan mekaar. En die teenoorgestelde is ook waar.
In Genesis hou God die huwelik voor as ‘n primêre verhouding. Daarom moet ‘n man sy pa en ma verlaat om in ‘n permanente, eksklusiewe en intieme verhouding met sy vrou te staan.
Op die website www.bible.org skryf Steven J. Cole dat die Bybel in Matteus 19:6 verwys na ‘kleef’ wat beteken dat ‘n man en sy vrou vasgegom is aan mekaar en dat die huweliksverhouding daarom gebou moet word op toewyding en nie op romantiese liefde nie. “Romantiese liefde is belangrik, maar die fondasie van die huwelik is ‘n toewyding tot die wil. Dit is ‘n verbond voor God.”
Die huwelik is geskep as ‘n eksklusiewe verhouding. Monogamie is God se ontwerp. En dan is daar ook die intimiteit waarna daar in 1 Kor 6:16 verwys word. Intimiteit wat meer as seksueel is. Dit is ook verhoudings-intimiteit en emosionele intimiteit.
Glo jy in die groter doel?
Maar behalwe vir die voordele wat óns hieruit trek, het God ook die huwelik vir ‘n groter doel geskep: om ‘n illustrasie te wees van ons verhouding met Hom. Dis ‘n prentjie van ons as gelowiges se verhouding met Hom: Die verhouding wat bestaan tussen Christus, die bruidegom en die kerk, Sy bruid. Soos wat man en vrou een is in vlees, is ons een in Gees met God
Die outeur Gary Thomas skryf in sy boek, Sacred Marriage, dat ons moet ophou om van die huwelik te vra wat God dit nooit ontwerp het om te gee nie – perfekte geluk en ‘n konflikvrye lewe. Nee, ons moet eerder waardeer waarvoor God die huwelik ontwerp het om te voorsien: vennnootskap, spirituele intimiteit en die vermoë om sáám na God te soek.
Hy meen die grootste fout wat paartjies maak, is om na ‘n ‘sielsgenoot’ te soek, want om van ‘n ander mens te verwag om jou te ‘voltooi’ is blote afgodery. “Ons moet ons vervulling en lewensdoel in God soek. As ons van ons maats verwag om ‘God’ te wees vir ons, sal hy of sy elke dag misluk. Niemand kan sulke verwagtinge gestand doen nie.”
So het ons almal slegte en selfsugtige dae, maar God het man en vrou gemaak om mekaar in Sy rigting te stuur. Die huwelik is gesentreerd rondom die ‘ander’. Gary meen dat God die huwelik gemaak het as ‘n lojale vennootskap tussen man en vrou, die sterkste fondasie vir die bou van ‘n familie.
God het seksuele uitdrukking geskep om getroue pare te help om intimiteit te bou en die huwelik spieëlbeeld God se heilige verhouding met sy mense. Dit wys dat God se doel vir die huwelik vér verby persoonlike geluk strek. Dit beteken nie dat God téén geluk is nie, maar dat die huwelik selfs hoër waardes bemoedig. “God het nie net die huwelik geskep om ons ‘n lekker manier te gee om die wêreld te bevolk en ‘n standvastige instelling gemaak om kinders in groot te maak nie. Hy het die huwelik onder mense ingestel as nóg ‘n teken wat wys na Sy ewige, spirituele bestaan.”
Daarom moet jou doel met die huwelik nie geluk wees nie, want dan sal jy skei sodra die geluk taan. “As die ontvang van liefde jou hoofsaaklike doelwit is, sal jy jou maat los sodra hy of sy minder aandag aan jou gee. Maar as ons trou vir die glorie van God, om Sy liefde en toewyding teenoor ons kinders te wys en om Sy getuies in die wereld te wees, maak egskeiding nie sin nie.”
Glo jy in die bloudruk?
As jy God se oorspronklike bloudruk volg van hoe die huwelik en gesinne veronderstel is om te werk, kan jy nie verkeerd gaan nie. Die huwelik was God se idee en Hy het die huwelik ontwerp om ons diepste spirituele, emosionele en fisieke behoeftes te vervul.
Hy het Adam geskep en geweet dit is nie goed vir Adam om alleen te wees nie. Toe kom Eva. (So staan dit in Genesis). Daarna het God beveel vir ‘n man om sy vader en moeder te verlaat en een te word met sy vrou. Dit was God se doel vir die huwelik dat ‘n paartjie eenheid en ware intimiteit sal ervaar. En die wonderlikste van God se ontwerpe is dat dit ewig staan. Dit blý geldig en dit blý werk!
Hoe volg jy God se instruksies vir die huwelik?
Op livingontheedge.org gee Chip Ingram die volgende riglyne:
- ONDERWERP JULLE AAN GOD EN AAN MEKAAR.
As God die huwelik ontwerp het, behoort ons Hom tog met ons verhoudings te vertrou. Sonder hom, kan die ontwerp nie werk nie. Saam met sy instruksies vir die huwelik, kry ons ook die instruksie van onderwerping (aan mekaar) in Efesiërs 5:21. Dit beteken dat julle beide aan mekaar moet onderdanig wees – dit kweek liefde en dit kweek respek.
- LEER HOE OM JOU MAAT LIEF TE Hê.
Hê jou maat lief in pas met hoe God hom/haar uniek ontwerp het. God het jou maat uniek en spesiaal gemaak. Dit help nie jou maat se liefdestaal is kwaliteittyd, en jy oorlaai haar met geskenke (terwyl sy eintlik net smag na jou teenwoordigheid) nie. Leer hoe om jou maat lief te hê op maniere wat ‘n band bou en stabiliteit skep in ‘n omgewing vir haar/hom om te floreer.
- ONTHOU DAT JOU HUWELIK ‘N GROTER DOEL HET AS PERSOONLIKE GELUK.
Ja, hy het dit geskep vir vervulling en plesier. Hy het dit gemaak vir stabiliteit, kultuur en voortplanting. Maar dit is soveel groter as wat die oog kan sien. In die groter prentjie word ons lewende voorbeelde van God se verhouding met Sy kerk as ons Sy ontwerp vir die huwelik volg.
Wat ‘n voorreg is dit nie om die geleentheid te hê om deel te vorm van ‘n groot en briljante plan nie? En hoe gelukkig is ons nie om riglyne te kry vir hoe om optimaal deel te vorm van hierdie plan nie? Ja, dit is nie altyd maklik nie. Die huwelik verg harde werk en klippe kou. Julle word daagliks gekonfronteer met spanners-in-die-works en papajas in die waaier … Maar dit is deel van die uitvoering van elke goeie plan – krisisbestuur. So, dis belangrik om op jul tone te bly, want dit is só die moeite werd. Julle is immers gekies as twee hoof-instrumente in ‘n meesterplan deur die wonderlikste Ontwerper van alle tye …
Addisionele bronne: www.focusonthefamily.com/marriage/gods-design-for-marriage; www.livingontheedge.org; www.bible.org; www.foryourmarriage.org
Artikel deur Anneliz Steyn
Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!