Dis lekker om die sterre in jou kind se oë te sien en te weet sy is gelukkig. Julle gesels troue en maak planne om dié tyd vir haar en haar aanstaande so lekker as moontlik te maak, maar eintlik is jy bekommerd dat hul huwelik sal misluk of dat jy van jou kind vervreem sal word . . . dis normaal.

Promosie

Natuurlik wil jy haar beskerm teen seerkry – dit is vanselfsprekend. Jy het haar goeie waardes geleer en haar hopelik goed toegerus om gesonde besluite te neem. Jy hoop sy gebruik dit wys want jy kan nie ‘n lewensmaat vir jou kind kies nie. Daar is baie dinge waaroor ouers hulle bekommer wanneer hul kinders besluit om te trou. Sal sy gelukkig wees? Sal hy goed wees vir haar? Gaan die huwelik hou? Baie jong paartjies wat trou, sien dit as hul ticket to freedom, ’n manier om hul onafhanklikheid te bewys en hul eie paadjie te stap. Maar vir jou en manlief is dit ’n moeilike tyd. Julle moet ’n kind emosioneel laat gaan en noodwendig gaan dit gepaard met ’n gevoel van verlies. Doen die volgende om sekere te maak jou kind maak die regte besluit . . .

  1. Voor jy preek, dink eers

Jou eie huwelik sal dié een wees wat jou kind as voorbeeld nastreef. Dit is waarom ’n huwelik nie net gaan oor die verhouding tussen man en vrou nie maar ook oor die nalatenskap wat julle vir jul kinders los. Dink dus ’n bietjie verder voor julle mekaar lelike woorde toesnou . . .

  1. Maar verskil soms vóór hulle

Verskil voor hulle en praat soms oor die moeilike tye. Dit is baie belangrik vir kinders om ’n realistiese prentjie van die huwelik te hê. As hulle julle net sien wanneer alles goed en perfek gaan, kan dit by hulle ’n onrealistiese verwagting skep.

Promosie
  1. Is jy en jou kind se pa geskei?

Al het jul egskeiding sy merk gelaat, kan jy steeds optimisties wees oor jou kinders se huweliksplanne. Uit jul huwelik kon jou kinders leer wat om nié te doen nie. En jy kan jou kind help om beter keuses te maak, deur byvoorbeeld te sê: “Ek wens ek het meer opofferings gemaak . . .”

  1. Help jou kind met selfondersoek

As jy bekommerd is oor die keuse wat jou kind gemaak het, voer ’n openlike gesprek met haar sonder om te oordeel of te kritiseer. Wees voorbereid dat enigiets negatiefs wat jy mag sê oor haar keuse, sterk teenkanting van haar kant af kan ontlok.

  1. Wees bereid om eerlik te wees

Nou dat jou kind op die vooraand van haar troue staan mag sy dalk vra: “Was daar tye wat julle gedink het jul huwelik is op die rotse?” Of “Hoekom het julle geskei?” As sy jonk was gedurende die moeilike tye en min weet, is dit nou die geleentheid om eerlik te wees. Julle het wel die reg om sekere besonderhede privaat te hou, sou julle wou.

  1. Laat haar verstaan dis nooit te laat nie

Miskien bespeur jy twyfel in jou kind se gemoed kort voor die troue. Laat haar verstaan dat sy maar op die nippertjie kán kop uittrek. Natuurlik is dit nie die gewenste situasie nie, maar sy moet weet dat haar geluk vir julle baie belangriker is as die derduisende rande wat julle op die troue bestee het.

  1. Gee hulle die beste geskenk . . .

As sy en haar aanstaande tans nie vir gratis voorhuwelikse berading by hul kerk gaan nie, is voorhuwelikse berading by ’n professionele berader die heel beste geskenk wat julle vir hulle kan gee. Deur middel van hierdie sessies word potensiële probleme voortydig uitgelig en kry jou kind en dié se aanstaande die geleentheid om dit vroeg reeds uit te sorteer.

  1. Pas jul eie huwelik mooi op

Wanneer jou kind op trou staan, loop die stresvlakke hoog. As jy en manlief boonop verskil oor of sy moet trou of nie . . . of oor die kostes, troureëlings of gastelys, kan dit ’n wig tussen julle dryf. Selfs al verskil julle hieroor, maak seker dat die stres van die konflik met mekaar of met jou kind nie jou eie huwelik in gedrang bring nie. Maak tyd vir mekaar.

  1. Ondersoek jou emosies

As jy voel jou kind maak ’n fout om te trou, gaan sit en dink mooi wat die redes is. Is dit werklik omdat jy dink hy gaan sleg wees vir haar, of kom jou emosies dalk uit ’n plek van jaloesie? Natuurlik sal hy van nou af die belangrikste man in haar lewe wees en dis ’n bitter pil om te sluk, maar hoe verder jy hom wegstoot, hoe verder gaan jy en jou kind uitmekaar groei.

  1. Gee jou beste . . .

Miskien kom jy en jou aanstaande skoonkind regtig nie oor die weg nie en moontlik is dit ’n groot knelpunt in jou kind se lewe. Stel jou kind gerus dat jy jou bes sal doen om hom met ope arms in die familie te verwelkom. Maak dit ook duidelik dat jy so betrokke as moontlik in hul lewens wil wees sonder om in te meng en dat hulle welkom is om te sê wat hul grense is, nes julle kan doen.

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.marriage.about.com; www.aarp.org