In dié artikel wys ons jou keer op keer waar op jul lywe jul prutplekke is en ook wáár julle met hierdie prutplekke kan eksperimenteer – dit is, in kort, jou sekskaart!

Promosie

SY EROGENE SONE: Goed, met die erogene sones wil ons jou gewoonlik aanmoedig om nie direk vir die genitalieë te mik nie! Die menslike liggaam is vol areas met gekonsentreerde senuweepunte en as jy van meet af aan vir bull’s eye mik, mis jy soveel lekkertes om op pad te ontdek. Maar… nou moet ons byvoeg dat dit soms die moeite werd is om reëls te breek. Soos wanneer dit kom by die F-kol. Al ooit daarvan gehoor?

Die frenulum is die area waar die penis se glans die skaf ontmoet – net onder die kop. Omdat dit ook aan die onderkant van die penis geleë is, is dit maklik om dié plesierknoppie oor te sien. Groot fout! Die konsentrasie van senuwee-eindpunte word deur sommige kenners met dié van die vroulike klitoris vergelyk.

Só wat kan jy doen om rillings deur sy lyf te stuur? Streel met die punte van jou vingers baie ligweg oor hierdie area, terwyl jy hom in die oë kyk en oor jou lippe lek. Later kan jy afwaarts beweeg en terwyl jy hoofsaaklik fokus op die kroon van sy penis, kan jy jou tong af en toe oor die frenulum laat gly.

Promosie

Moenie slegs op die F-kol fokus nie, maar wissel dit af met die minder sensitiewe dele van sy penis. Hoewel hy nie sommer ’n klimaks van hierdie move kan bereik nie, kan die stimulering van hierdie area (as deel van die groter prentjie) bydra tot ’n veel groter orgasme!

Jy kan ook die F-kol gedurende seks stimuleer deur ’n posisie soos doggie style of die sendeling-posisie. Hy kan sy lyf só posisioneer dat die F-kol maksimum wrywing kry. Knyp jou bekkenspiere om dit vir hom selfs nóg lekkerder te maak!

HAAR EROGENE SONE: Hier wil ons vir jou preek soos ons hierbo vir vroulief gedoen het. Probeer om nie áltyd heel eerste vir haar borste te mik nie! Dit is só ’n vanselfsprekende deel van seks dat sy waarskynlik jou vingertaal oor haar tweeling teen dié tyd vlot kan voorspel.

Maar daarby wil ons jou herinner aan die feit dat daar ’n rede is waarom jy twéé hande en sy ewe veel borste het! Dit is nou maar eenmaal só: Jou vrou se bates is beslis een van haar erogene sones. Dit is seksueel sensitief en sommige vroue kan ’n orgasme bereik net deur borsspel alleen!

Die borste bestaan natuurlik nie net uit die twee knoppies in die middel nie en beslaan die groter borsweefsel (wat jy moontlik al tong-in-die-kies met die een of ander soort vrug vergelyk het, en wat mooitjies in jou hande pas), die areola (die gepigmenteerde area rondom die tepel) en dan natuurlik die tepels wat so mooi reageer op jou aandag!

Om jou hier ’n wenresep te gee wat hantering aanbetref, is ietwat van ’n taai kwessie, want elke vrou is uniek en vroue hou van verskillende tegnieke, maniere van aanraking en druk. As jy dus nog nie seker is wat vir vroulief werk nie, begin altyd met ligte aanraking en kyk of sy vir meer vra met haar lyftaal.

Volgens die webtuiste nerve.com bestempel sowat 81,5% van vroue hul borste en tepels as belangrike erogene sones waarmee jy ver kan kom as jy uitgebreide planne met haar het!

Sommige kenners meen dat die area reg bokant die tepel ekstra-sensitief is, en ander beweer dis die onderkant van haar bors, maar hoe dit ook al sy – werk jou weg van buite af binnetoe. As jy graag tyd aan haar tepels wil spandeer, onthou om jou mond by die spel te betrek en ná jy gelek of gesuig het oor die area te blaas vir ’n verrassende koel sensasie. Die kontras tussen warm en koud behoort die ding te doen…

WAARHEEN?

Trappe toe: Het julle al die trappe in jul huis… er… gedoop? Indien nie, die trappe bied wonderlike geleenthede vir warm seks, want dit laat julle toe om met verskillende hoogtes en posisies te eksperimenteer. Só gaan jy en jou maat te werk: Kniel op een van die trappe en stut jouself met jou hande op ’n paar trappe boontoe. Vra nou vir manlief om ook agter jou te kniel… ’n paar trappe laer. Hy hou jou heupe vas en die afwisseling in hoogte maak hiervan ’n treffer-posisie, wat ook bekendstaan as die Stairmaster-posisie.

Jy kan ook op een van die trappe sit, met jou elmboë wat jou (’n paar trappe boontoe) stut, terwyl manlief met sy voete op die onderste trap staan en sy lyf bo-oor jou laat sak met sy hande aan weerskante van jou (asof hy ’n opstoot doen). Dié nommertjie gaan ’n bietjie balans en stamina van sy kant af verg. Hy moet ook seker maak dat sy voete nie kan gly nie, só nie kan julle ’n ernstige trapbesering opdoen wat moeilik gaan wees om aan die dokter by die ongevalle-afdeling te verduidelik!

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.bennadel.com, www.pulse.ng.