Die begin van ‘n nuwe jaar is die perfekte tyd om weer nader aan mekaar te beweeg en julle huwelik te prioritiseer. Of julle nou jul huweliksherdenking vier of net weer tyd vir mekaar wil maak, ‘n romantiese wegbreek is die ideale manier om te ontsnap uit die gejaag van die alledaagse lewe en weer te fokus op wat regtig saak maak.

Promosie

In samewerking met LekkeSlaap het ons tien romantiese bestemmings uitgesoek om jou inspirasie te gee en jou volgende wegbreek te beplan. Maak van hierdie jaar een vol herinneringe, nuwe ervarings en oomblikke wat julle verhouding versterk. Ons land is propvol van die mooiste plekke en ons gaan vir die volgende paar maande elke maand tien nuwe opsies vir julle gee om van te kies!

The Cygnature Boutique Hotel, Noord-Kaap

Dié gholflandgoed met ’n uitsig op golwende heuwels en ’n dammetjie sorg vir ’n majestueuse wegbreek in die Karoo. Verblyf met ’n rustige atmosfeer weg van die stadsgedruis is deur die bank ’n goeie plan — veral as jy in ’n elegante, moderne kamer met ’n spa-bad in ’n spoghotel kan bly. Die Cygnature Restaurant op die perseel bied à la carte-etes en julle kan ’n rondte gholf speel, behandelings by die mini-spa geniet, of selfs perdry. Dís mos hoe jy ’n wegbreek geniet!

Promosie

De Kloof Luxury Estate Boutique Hotel and Spa, Wes-Kaap

Maak Swellendam ogies vir jou? Niemand sal jou kwalik neem as julle vinnig na hierdie hiérdie versteekte juweel in ’n groen, afgesonderde vallei met asemrowende uitsigte wil ontsnap nie. Verdiep jou in ’n unieke ervaring deur in een van die ontwerperskamers of -suites te slaap en in die Kolkol-houtvuurwarmbad agteroor te sit. Hierdie plattelandse toevlugsoord spog ook met ’n Sans Souci Spa wat twee behandelingskamers insluit, en ’n restaurant. Alles wat julle benodig om te ontspan, insluitend ’n binnehof met kruie, roostuine, voëllewe en koivisdamme, is hiér. Waarvoor wag jy?

Leopard Walk Lodge, KwaZulu-Natal

Hierdie privaat safari-loge skuil aan die Olifantkus in die buitewyke van ’n skaars sandwoudhabitat waar verskeie bedreigde spesies ’n tuiste vind. Hiér kan jy in jou suite met glasmure sit en die ryk dier- en voëllewe dophou. Elke suite het lugversorging, ’n mini-kluis en sy eie Jacuzzi. Heerlike maaltye kan by die Moonrise Lounge geniet word en om jul wegbreek ’n tikkie ekstra-spesiaal te maak, kan julle wittebroodpakkette of spesiale herdenking-aanbiedings versoek.

Cayley Mountain Resort, KwaZulu-Natal

’n Mooier ligging sal moeilik wees om te vind met hierdie uitsig op Cathkin-piek en Champagne Castle. Daar is verskeie suites om van te kies, maar dit is veral ideaal vir diegene wat hul hart vinniger wil laat klop; jy sal meestal besig wees met die rits aktiwiteite op die perseel, onder meer vlug- en pluimbal, tennis- en minigholfbane, en op ’n boot vaar. Ná jou besige dag, kan jy in jou privaat Jacuzzi wegsink.

The Residence, Gauteng

The Residence, ’n 5-ster-hotel, bied luukse suites met ondervloerse verhitting en Nespresso-masjiene — dís nou wat ons gerief noem! Vier van hierdie eenhede het privaat Jacuzzi’s en die Pool Villa het selfs sy eie verhitte plonspoel. Dit is die perfekte plek om jou sorge weg te sit! Wandel in die tuin, speel ’n potjie tennis of koel af in die swembad om die Afrika-son te ontduik.

KumbuKumbu Mountain Villas, Wes-Kaap

KumbuKumbu Mountain Villas skuil hoog teen die berghange en spog met ongelooflike, panoramiese uitsigte op die Langeberge. Albei eenhede het ’n ruim oopplan-uitleg en die hoogtepunt van elke kothuis is die besonderse ovaalbad voor die groot oopskuifvenster vanwaar julle die uitsig behoorlik kan bewonder. Spandeer verder gehaltetyd saam met jou geliefde op die privaat dek, in die plonspoel of lekker snoesig voor die kaggel. Omdat die kothuise se mure ook basies alles glasvensters is, word jy so te sê deur die uitsig omring!

Austrey Lodge, Oos-Kaap

Hierdie rustige kothuis is op ’n plaas geleë en skuil in die voorheuwels van die Winterberge, sowat 40 km vanaf Adelaide. Dis gerieflik ingerig vir ’n wegbreek sonder kommer en gejaag. Die natuurryke omgewing inspireer jou om af te skakel en gehaltetyd saam met jou naastes te waardeer. Tydens seisoen kan julle sneeuval verwag en dan lekker voor die kaggel kuier, maar die onderdak-area met ’n dek, braai en houtvuurwarmbad bly ’n gunsteling as dit by rus en vrede kom. Gooi lyn in die foreldam of verken die plaas se skoonheid te voet of op ’n fiets. Voëlkyk-entoesiaste word bederf met aanskoue van die majestueuse Kaapse aasvoëls, Swartarende en af en toe die pragtige Narina-trogon en Knysna-loeries.

Winterfell eco Cabin, Mpumalanga

Dié bekoorlike selfsorghuisie is ideaal vir ’n intieme wegbreek vir ’n paartjie wat net so bietjie van die stadslewe wil ontsnap en gehalte tyd met mekaar wil spandeer. Geleë in die heuwels van Dullstroom, bied die huisie selfsorggeriewe, ’n boma, ’n dek vanwaar julle rustig aan jul skemerkelkies kan teug, en ’n privaat houtvuur-warmbad. Hoewel slegs volwassenes hier kan bespreek word klein troeteldiere toegelaat indien dit vooraf gereël word.

Kleinkaap Boutique Hotel, Gauteng

Hierdie stylvolle hotel bied ’n stukkie ouwêreldse sjarme in Gauteng! Die hotel is in Clubview, Centurion en is perfek vir ’n romantiese naweek of ’n bederf as jy kantoorkoors kry. Hier kan julle inheemse tuine en ’n rustige omgewing verwag, asook luukse kamers, eersteklas kookkuns en topgehalte konferensie-, trou- en funksiegeriewe. Met aankoms word gaste ook van ’n heerlike mandjie vars vrugte voorsien. Ander geriewe op die perseel sluit ’n restaurant, wynproe en ’n swembad in.

Aerotel, Limpopo

’n Wegbreek na hierdie unieke verblyf sal een vir die boeke wees! Aerotel is ’n Aviator Boutique Hotel in Hoedspruit waar julle ’n nag in, onder meer, ’n omskepte Boeing 737-200 kan spandeer. Boonop is dit met die Afrika-bosveld en die noordelike Drakensberge omring, en is net 64 km vanaf die Krugerwildtuin geleë. Daar is lugversorging, ’n yskassie, WiFi en selfs bordspeletjies. Verder kan julle skemerkelkies op die dek geniet terwyl die son agter die prentjiemooi-berge groet.