Jy is dolgelukkig, maar vroulief lyk effens nors. Dit is ’n ongelukkigheid wat nou al . . . eh . . . weke lank duur. Het jy skeefgetrap, is die wittebroodsfase bloot verby of is jou vrou ongelukkig?
Jou vrou is nie altyd jou grootste fan nie en dit is doodnormaal. Soms verander hierdie tydelike nukke egter in iets meer permanent en kan sy ongelukkig raak in jul huwelik. “Happy wife, happy life” is goeie raad om te volg, maar dit verg geduld en moeite. Hoe weet jy wanneer jy bekommerd moet wees en hoe laat jy haar weer glimlag?
Stiltes en storms: Ry jou vrou wipplank tussen stilstuipe en woede-uitbarstings? Dis ’n duidelike teken dat iets skort. Jou vrou wil weet dat jy luister en as jy hierdie behoefte nie bevredig nie, kan jy maklik in die warm water beland.
Hoe gemaak? As jy praat, sal sý praat. Skakel die televisie af (die Bulle kan jou nie nou help nie), kyk haar in die oë en vra haar reguit: “Wat is fout?” Jy sal verbaas wees oor hoeveel sy te sê het.
Sy is altyd moeg: Is vroulief skielik moeër as gewoonlik? Emosionele moegheid kan fisiek manifesteer en haar poegaai laat. Veral as sy voel asof jy nie genoeg tot die huishouding bydra nie.
Hoe gemaak? Bied aan om takies rondom die huis te doen – selfs die wasgoed. Tap vir haar badwater in en gee haar ’n blaaskans. Sy sal jou moeite waardeer.
Sy stel nie belang nie: Waar sy voorheen nie kon wag om alles van jou dag te hoor nie, kan sy nou nie minder omgee nie. Lus vir ’n boys’ night? Geen probleem nie. Dit klink dalk na hemel op aarde, maar is eintlik ’n groot rooi lig.
Hoe gemaak? ’n Sielkundige berader, Brian Blem, verduidelik dat vroue leiding sowel as liefdeswoorde van hul mans verlang. Vertel haar hoe spesiaal sy is en neem die voortou in gesprekke deur die stilte te verbreek. Vra haar uit oor haar dag en vertel haar dan sommer van joune.
Winter tussen die lakens: Stomende sessies tussen die lakens is lankal vergete. Wanneer ’n vrou emosioneel onbevredig is, kan jy seker wees dat dit haar libido sal beïnvloed.
Hoe gemaak? Wys liefde regdeur die dag deur haar sonder rede te soen of ’n drukkie te gee. Reël ’n weeklikse date night en bederf haar behoorlik. Seks begin in die kombuis en eindig in die slaapkamer, vertel Brian. Dis wat jy die res van die tyd doen wat sal bepaal of vroulief weer ’n huppel in haar stap sal kry.
Deur Monique Steenkamp
Bronne: Brian Blem by www.lighthousetherapy.co.za, www.mademan.com, marriagebuilders.com.