Niemand hou daarvan om ingeperk te voel nie en grense beperk jou. Maar daar is ’n rede vir grense – dit beveilig die inhoud wat dit omring. Só het elke gesonde huwelik grense nodig vir beskerming . . .
Buite-egtelike verhoudings is nie ’n uitsonderlike verskynsel nie! Mans en vrouens het deesdae baie meer geleenthede (veral in die werksplek) om mekaar te ontmoet en om gemeenskaplike belangstellings en doelwitte saam te ontwikkel soos wat hulle oor tyd aan projekte saam werk. Dit is dus baie ure saam, baie intense ervarings en dan daarby ook nog baie geleenthede vir saamwees op ’n sosiale vlak – dikwels weg van die huis af en sonder jul huweliksmaats, dikwels met ’n tikkie alkohol daarby. Las nog boonop sosiale media, wat ’n heerlike geselsplatform skep, by en siedaar – genoeg geleentheid en verleiding vir die ontwikkel van net so ’n bietjie meer as ’n vriendskap.
Vroeër jare was die algemener buite-egtelike ontrouheid hoofsaaklik beperk tot mense wat ’n kortstondige seksuele eskapade gehad het met iemand anders (meestal nie die tipe situasie wat noodwendig ’n bedreiging ingehou het vir die huwelik nie).
Om getrou te kan bly aan ons spesiale vriendskappe, verhoudings met kollegas én ons huweliksbeloftes, moet ons vandag nog meer as ooit tevore bewus wees van die uitdagings en verleiding wat ons moderne lewenstyl bied. Ons moet meer as ooit tevore openlik, oop oë en eerlik wees met onsself en met mekaar.
Die realiteit: Die kanse is baie goed dat jy aangetrokke sál voel tot iemand van die teenoorgestelde geslag by die werk, op die Internet, by reünies, vergaderings of in vriendekringe – dis deel van grootmens wees en saamwees. Jy ontmoet mense wat aantreklik, intelligent, interessant en dinamies is, en jou kans om aangetrokke te voel tot só iemand is eintlik groot. Die kanse is ook goed dat, as iemand anders aangetrokke raak tot jou en vleiend optree teenoor jou, dit vir jou baie lekker gaan wees!
Gesonde grense beteken dat jy nie sal reageer op hierdie gevoelens van aantrekking en die plesier van gevlei voel nie – dat jy dit wel herken vir wat dit is en bewus daarvan sal bly sodat jy die gevoelens kan bestuur. Of jy gelukkig getroud is of nie – ons word maklik aangetrek tot die moontlikheid van intimiteit. Aanvanklik is jy net bewus van kollegas of vriende, maar hoe nader julle emosioneel aan mekaar kom, hoe meer raak julle ook bewus van mekaar as seksuele wesens. Jou rooi vlag is dus die ervaring van aangetrokke voel tot of gevlei voel deur iemand wat nie jou huweliksmaat is nie!
Beplan vooraf julle strategie van gesonde grense:
- Vertel jou maat as iemand met jou flirt of as jy aangetrokkenheid voel tussen jouself en iemand. Só ’n openlike gesels daaroor skep onmiddellik ’n duidelike grens tussen “julle” en die ander persoon.
- Hou jou maat op hoogte van wanneer jy hierdie persoon teëgekom het / hoe baie julle saam dinge moet doen ens.
- Moenie emosioneel intieme dinge met só ’n persoon deel nie.
- Moenie dinge met só ’n persoon deel wat jy eintlik met jou huweliksmaat sou gedeel het / moes gedeel het nie.
- Moenie dinge met só ’n persoon deel wat jy nie sou wil hê jou maat moet van weet nie.
- Wees veral op jou hoede vir jou gevoelens en gedrag as jy alleen saam met ’n persoon moet wees tot wie jy aangetrokke voel. Wees net nog meer bewus van die moontlikheid van die groei van julle gevoelens en “beskerm” jouself deur bv. van jou huweliksmaat te praat, nie alkohol te drink nie (met alkohol verloor jy sommer maklik al jou goeie bedoelings en inhibisies) en gou huis toe te bel.
- As jy beleef dat jy emosioneel nader aan iemand buite jou huwelik voel, praat met jou maat oor dinge wat julle kan doen om nader aan mekaar te kom. Probeer leer daaruit dat jy nader aan iemand anders voel. Wat beteken hy vir jou? Kan jy identifiseer wat jy nodig het om net so naby aan jou huweliksmaat te kan wees? Praat met jou maat hieroor en druk jou behoeftes akkuraat en eerlik uit.
- Noem doelbewus jou huweliksmaat se naam / dinge wat julle saam doen wanneer jy met hierdie persoon gesels of bel jou maat wanneer hierdie persoon by jou staan.
- Maak seker dat jy genoeg vriendskappe (beide geslagte) buite jou huwelik het sodat jy nie net op een belangrike persoon steun nie.
- Hou die band tussen jou en jou maat sterk en vervullend:
- Spandeer gehaltetyd saam. Spandeer tyd saam wat draai rondom julle kameraadskap en nie net rondom verantwoordelikhede nie!
- Maak seker julle is emosioneel regtig na aan mekaar. Doen moeite om mekaar regtig weer te vind en indien julle sukkel – kry hulp!
- Maak seker jul seksuele verhouding is goed. As julle sukkel op dié gebied – kry hulp, lees op, maak saam planne. Julle seksuele verhouding kan ’n “termometer” wees wat ’n aanduiding kan wees daarvan dat julle nie regtig emosioneel na aan mekaar is nie en kwesbaar is om in ander verhoudings bevrediging te vind.
- Beraam planne om kontak te maak as een van julle moet reis.
- Skryf saam ’n storie – elkeen skryf elke dag ’n paragraaf en julle deel dit met mekaar.
- Speel ’n gedeelde speletjie oor jul fone of op jul rekenaars.
- Tydens telefoongesprekke, moet nie net oor verantwoordelikhede en inligting oor gebeure gesels nie – deel iets van jou ware self / jou emosies / jou unieke ervarings. Konnekteer met jou maat se hart.
- Herinner mekaar wat dit is van mekaar waarna julle verlang – wees spesifiek. Iets soos “Ag, ek mis jou glimlag” of “Ek wil só graag jou vel teen my voel” is baie meer betekenisvol as ’n vinnige “Love you”.
- Herinner mekaar dat julle ervarings beter sou wees as jou maat by jou was.
Dink oor gesonde grense voordat jy jouself betrap in die slaggat van betrokke raak by ’n ander persoon. Betrokke raak by ’n ander persoon gebeur geleidelik en in stappe – dit betrap jou nie sommer oornag nie. Wees oop oë en eerlik – veral met jouself.
Deur Wilme Steenekamp