Ek en my man is deesdae heeltyd “edgy”. Dis asof ons soos twee katterige tieners is wat saam ’n huis deel. Ek wil nie hê ons moet een van daardie paartjies wees wat mekaar heeltyd “hap” nie – dis vir my só onaantreklik as ander paartjies dit doen. Ek wonder of ons mekaar net verkeerd opvryf en of dit dalk deur ons leefstyl veroorsaak kan word. Ek het iewers gelees dat suiker ’n slegte uitwerking op ’n mens se huwelik kan hê.
Ons is nie heeltemal seker of julle irritasie of angstigheid ervaar nie. As julle angstig voel, is dit asof ’n mens heeltyd op eiers loop en wag vir die volgende bom om te ontplof. En ja, jy is heeltemal reg as jy vermoed dat jul leefstyl iets hiermee te doen kan hê.
Sekere kossoorte is geïdentifiseer as kos wat angstigheid kan veroorsaak:
- As jy of manlief (of beide van julle) sensitief is vir kafeïen, kan slegs een koppie per dag jou edgy laat voel! Drink dus eerder meer water of skakel oor na kafeïenvrye koffie.
- Hoë-sout diëte verhoog jou bloeddruk en dwing jou hart dan om harder te werk. Jou liggaam stel adrenalien vry en siedaar – irritasie en spanning! Gebruik eerder kruie en speserye om jul kos mee te geur.
- Suiker bevat fruktose, wat ons stres-hormoon kortisol die hoogte in kan laat skiet, meen David Gillespie, outeur van Sweet Poison (Penguin). Let dus op na versteekte suikers soos glukose, dekstrose en fruktose in laevet kos, en verminder jou suiker algaande tot jy later nie meer hiervan nodig het nie.
As julle, soos soveel mense, na ’n lae-koolhidraat dieet oorgeskakel het, kan julle jul geïrriteerdheid ook blameer op die feit dat julle daardie aartappel, pasta of koekies mis. Aanvanklik gaan ’n mens se liggaam deur ’n aanpassingsproses en kan jou lae-koolhidraat dieet fisieke en sielkundige irritasie veroorsaak. Dis egter net tydelik en behoort te verbeter soos wat jul liggame aanpas.
As julle dit nie reeds doen nie, oorweeg dit om saam te begin oefen. Sodra ’n mens oefen, verhoog jou hartklop en stel die brein endorfiene vry wat ’n gevoel van welstand veroorsaak. Dit kan ook euforie veroorsaak (algemeen bekend as runners’ high). Jou brein kry ’n gevoel van helderheid en dit wil voorkom asof ’n probleem meer hanteerbaar is na ’n paar kilometer se stap of draf. Oefen saam om voordeel te trek uit die stresverligting-effek wat oefening bied.