Staan jy binnekort op trou? Weet jy werklik hóé groot is die besluit wat jy gaan neem? As jy die bewerasies het, goed so. Want trou verg dapperheid. En om getroud te bly, selfs méér dapperheid…
Dekades gelede het ‘n besluit om te trou, anders gewerk. Dit was ‘n gegewe. Skei was nie op die tafel nie. Dink jy mooi daaroor, moes dit ‘n moeilike besluit gewees het om te maak… baie mense het op 16 (nog jonk en dom) getrou en moes by hierdie besluit staan tot die dag van hul dood. Deur die Boere-oorlog, deur die Groot Trek… en dink jy aan die spanning en eise wat paartjies destyds moes konfronteer, kon die getroude lewe nie maklik wees nie.
Dit moes baie moeilik wees. Maar ‘n mens kan nie help om te wonder of trou vandag selfs méér dapperheid verg nie. ‘n Eeu gelede was daar nie veel om te redekawel nie. Dit is wat daar van jou verwag is om te doen en jy het dit gedoen sonder om deur vrae daar rondom te worstel. Vandag het jy ‘n keuse. Jy kan kies óf jy wil trou. Jy kan kies met wié jy wil trou en jy kan kies wanneer jy wil trou. Jy kan ook skei as jy wil – dis ‘n alternatief vir wanneer dinge nie uitwerk nie. Maak ‘n agterdeur dit makliker om die besluit te neem?
Allermins! Die gedagte aan die moontlikheid van egskeiding (en die gevolge wat dit kan inhou), maak trou vir baie jong mens só ‘n vreesaanjaende gedagte dat hulle nie kans sien vir hierdie stap nie!
Hoewel mense dekades gelede met hul eie uitdagings geworstel het, het ons vandag ons eie hedendaagse eise. Misdaad, werksdruk, skoonouers, kinders met spesiale behoeftes, onvrugbaarheid, afdanking, affairs en verslawing is maar net ‘n paar van die eise wat na vore kan tree in ‘n huwelik en eindelik is dit die onsekerheid wat baie paartjies laat sidder van vrees.
Want wanneer jy en jou maat voor die kansel staan, is jy salig onbewus van die kanker-stryd wat voor julle lê. Jy weet nie dat jou man se sussie ‘n verstandelik gestremde kind sal hê, wat sý besluit rondom kinders radikaal sal verander nie. Hy weet nie dat jou depressie só ‘n wending gaan neem dat hy sal voel asof dit hom versmoor nie. Hy weet ook nie dat jy na die koms van jou kinders jou gesonde seksdrang sal verloor en nooit weer terug sal kry nie. Julle weet nie dat julle in ‘n kwessie van drie maande jul huis, jul motor en elk ‘n ouer sal verloor nie. Jy is onvoorbereid op die effek wat ‘n ou skool-liefde in ‘n oomblik van swakheid op hom sal hê. En hy weet nie dat jy so onverantwoordelik met geld werk dat dit julle oor twee jaar in bankrotskap sal dompel nie.
Nie een van julle is in besit van ‘n kristalbal wat die toekoms kan voorspel nie. En daarom verg trou ‘n stap van geloof. Jy spring in – sonder klousules wat sê: “Mits jy belowe om elke aand jou sokkies op te tel” of “Mits jy belowe dat ons drie keer per week seks sal hê” of “Mits jy belowe dat jou ma nooit by ons dissipline-metodes sal inmeng nie…”
Jy aanvaar jou maat, en kleef aan jou maat – boots and all! Jy spring in die diep kant in troebel water sonder ‘n snorkel, ‘n duikbril of paddavoete. Jy word getol en geskommel en so nou en dan tref jy ‘n rots. Wanneer jou voete ‘n sandbank raak, skep jy asem, maar meesal is dit water trap…
Dit bring ons by die punt wat ons eintlik wil maak. Die huwelik is ‘n avontuur en as jy besluit om deel van so ‘n vennootskap te word, verg dit dapperheid en die wete dat jy nooit jou huwelik sal kan beheer nie, maar jou bes kan doen om dit in die regte rigting te stuur.
Op foryourmarriage.com skryf Tom McGrath dat dit nie soseer dapperheid verg om te trou nie, maar dat dit beslis dapperheid verg om getroud te bly. Hoekom?
- Dit verg waagmoed om te sê wat gesê moet word. Ons ken almal die ou met die swak karakter wat sy meisie van ses jaar via ‘n whatsapp boodskap los. In ‘n huwelik kan jy nie die swakkeling wees nie. Jy moet sê wat gesê moet word – met oortuiging van gees.
Volgens Tom word die meeste huwelik nie beskadig deur wat gesê word nie, maar eerder deur wat nié gesê word nie. Maats wat nie hul liefde verwoord nie, maats wat nie vir hulself opstaan nie, maats wat weier om te práát wanneer dinge in die huwelik verkeerd loop. Dit verg waagmoed om in ‘n huwelik jou mond oop te maak vir wat reg is en kwessies na die oppervlak te bring wat nie onder die mat gevee mag word nie. En ja, dit gaan konflik bring en jou maat gaan ongelukkig wees, maar soms moet ‘n mens ongewild wees ter wille van die oorlewing van jou huwelik. Volgens een van Tom se vriende moet ‘n mens ag slaan op dít waarteen jy weerstand bied. Hy sê as dit kom by binnewerk, jou weerstand altyd na die ware noord wys.
- Dit verg dapperheid om binnewerk te doen. Dit is makliker om buitetoe te kyk, saam met die stroom te hardloop en te ignoreer wat jou van binne af opvreet en uitsypel na jou huwelik. Dinge soos alkohol, woede, kompulsiewe besteding en besig-wees. Mettertyd kan al hierdie dinge jou huwelik doodmaak. Dit verg waagmoed om probleme te herken, te erken en iets daaraan te doen.
Ook sover dit huweliksprobleme aangaan. Miskien is daar iets waarmee jy individueel sukkel en dalk is daar ‘n huweliksprobleem wat julle eers aan die lig moet bring voor julle dit kan uitsorteer – dis soms net makliker om die probleem te ontken as om dit te konfronteer en dít is waar dapperheid intree.
- Dit verg dapperheid om te verwelkom en te laat gaan. Volgens Tom verg dit waagmoed om grasieuse maniere te vind om iemand anders in jou lewe te verwelkom – om hulle behoeftes en wense gelyk te stel aan jou eie wense en behoeftes. Die huwelik gaan oor hoe jy jou maat en sy/haar familie gaan verwelkom en hul irritasies sal verdra. Soms moet jy méér as verdra. Dit verg waagmoed om jou eie gewoontes of selfsug te oorkom.
Dit verg ook dapperheid om nie in die verlede vasgevang te word nie. Jou huwelik gaan nie more lyk soos dit gister gelyk het nie. Jy gaan verander, jou maat gaan verander. En elke dag moet jy kies en sê: “Ek kies jou.” Tom skryf: “Vroeer het ek geskryf dat geen menslike wese kan waarborg wat die toekoms inhou nie en dit is waar. Maar op jou troudag het God ‘n belofte gemaak. Hy het belowe om met jou te wees – elke tree van die pad – in goeie en slegte tye, in siekte en gesondheid, in rykdom en armoede en nie tot en met die dood nie, maar self verder as dit.”
Afgesien van hierdie drie standpunte deur Tom, is daar ook ander dade van dapperheid wat jy op ‘n gereelde basis in jou huwelik moet openbaar:
- Wees dapper oor die pad wat julle sal stap. Dit gaan nie altyd ‘n gelyke pad wees nie en soms sal julle bergagtige ervaringe beleef. Daar sal ook diep valleie wees, maar as julle vasstaan deur dit alles (hand-aan-hand), sal julle iets van julself, van mekaar en van jul huwelik leer.
- Wees dapper genoeg om hulp te vra. Elke huwelik het hulp nodig! Of jy raad kry by ‘n goeie vriendin wat al tien jaar getroud is, of jy jou ouers se leiding volg, of julle seminare bywoon of ‘n huweliksberader sien… dit is belangrik om nooit te dink jy is verhewe bo ander se insette nie. Natuurlik is dit noodsaaklik om te weet wáár om jou hulp te kry. Die verkeerde invloed kan julle van die wal af in die sloot help. So, kies jul invloede en raadgewers versigtig, maar wees ook bereid om te leer by dié met ervaring.
- Wees dapper genoeg om ‘n individu te bly. Wanneer jy ‘n maat kry by wie jy sekuriteit vind, is die versoeking groot om in daardie sekuriteit te gedy. Om jouself te verloor in die veiligheid van die vrede, rustigheid en bekendheid wat jou maat bied. Maar jy moet dapper genoeg wees om jouself te bly en jouself uit te daag buite die vennootskap ook. Groei as ‘n individu en maak seker jy behou jou eie drome, ideale en waardes. Wees gesond – fisiek, spiritueel en intellektueel.
- Wees dapper genoeg om na die verlede en die toekoms te kyk, maar leef in die hede. Dis soms moeilik om terug te kyk na die moeilike tye wat julle moes deurmaak. Dis soms vreesaanjaend om te probeer vasstel wat die toekoms inhou. Maar soms is die hede ook só moeilik dat ‘n mens ontsnap na die verlede en die toekoms. Maak seker in jul huwelik dat julle die verlede erken en omhels vir dít wat dit julle geleer het, dat julle blink-oog na die toekoms kyk vir die wonderlike moontlikhede en Goddelike voorsiening wat dit inhou en elke oomblik in die hede waardeer vir wat dit is.
Die huwelik verg waagmoed en dapperheid. Dis ‘n risiko ja, maar dis ‘n wonderlike avontuur wat jy nie dúrf misloop nie…
Addisionele bronne: www.foryourmarriage.org/ www.homefrontmag.com
Artikel deur Annelize Steyn