Wanneer ’n mens oor die gevare van sosiale media praat, dink die meeste van ons terug aan die Margaret van Wyk-sage, waarin ’n doodgewone vrou die slagoffer van kuber-boelies geraak het ná ’n foto wat vir haar man bedoel was in die verkeerde hande beland het.

Promosie

Die stof het gaan lê en dié storie is nou ou nuus, maar in Margaret se lewe sal dit altyd ’n letsel wees wat haar aan een van die moeilikste tye ooit in haar lewe sal herinner. Sosiale media is deel van ons almal se lewens, maar hanteer dit verkeerd en jy kan groot skade in jou huwelik aanrig.

In die Margaret-sage was die huwelik beslis ter sprake. Sy wou die stoute foto aan haar man stuur. Paartjies word tog gereeld aangepor om via die selfoon met hul mans te flankeer, omdat dié instrumentjie, wat ons heeldag by ons dra, ’n handige kanaal vir flankering is.

Dit het lelik geboemerang in Margaret se geval en sy het in ’n onderhoud met ’n Suid-Afrikaanse gesinstydskrif agt maande na die gebeurtenis vertel hóé dit nie net haar lewe nie, maar haar hele gesin s’n, verwoes het. Margaret se man het haar bygestaan, maar daar was natuurlik ook die skinderstories dat die boodskap vir ’n skelmpie bedoel was – ’n gerug wat enige huwelik onder geweldige druk kan plaas.

Promosie

Sosiale media is iets waarmee ons daagliks te doen kry, maar ten spyte hiervan is daar steeds nie ’n skoolvak wat kinders touwys maak rakende etiket en die gevare wat daarmee saamgaan nie. Dis egter nie nét kinders wat sukkel om die ongeskrewe reëls te gehoorsaam nie.

Volgens Crosswalk.com is Facebook betrokke by altesaam 20% van egskeidings.

Hier is ’n paar reëls wat julle kan volg om jul huwelik teen sosiale media te beskerm:

1. Leer by Margaret en maak dubbel seker
Leer by Margaret en moet liefs nie sosiale media gebruik om te flankeer nie – nie tensy jy absoluut 100% seker is dat jy dubbel gekyk het en weer dubbel gekyk het wie jou ontvanger is nie! Stoute foto’s word, in die eerste plek, op jou selfoon geneem en daar geberg. As jy nie onthou om dit dadelik uit te vee nie, is daar die gevaar dat die kinders dit onder oë kry of jy jou selfoon verloor . . . En tweedens word jou foto versprei – hopelik na jou maat toe. Is jy gewaarborg dat dit jou maat is wat die boodskap gaan oopmaak? Ons wil nie jul kreatiwiteit blus nie, al wat ons wil sê, is: Maak liefs dubbel seker . . .

2. Pasop om jul intimiteit te bedreig deur over-sharing
Hier sluit ons aan by nommer een, maar wanneer ons praat van té veel deel, bedoel ons nie noodwendig vlees nie. Dit is deesdae só maklik om jou lewe in die fynste besonderhede met jou vriende en familie te deel. Maar jy en jou maat het ’n spesiale band. Dit is ’n baie intieme band wat bedreig kan word as jy elke liewe detail van jul lewens op sosiale media deel. Só sê blogger Matt Warner op Fathersforgood.com. Wanneer jy die behoefte het om ’n ervaring wat jy en jou maat gehad het op sosiale media te deel, maak eers seker dat jou maat ook bereid is om dit te deel. Vra ook sy toestemming voor jy hom in ’n foto tag.

3. Wees bedag op jou prioriteitsleertjie
Ons almal kla dat ons té min tyd tot ons beskikking het. Maar wees eerlik: Hoeveel tyd bestee jy daagliks op sosiale media? Bestee jy meer as hierdie hoeveelheid minute eksklusief per dag aan jou maat? Waarskynlik nie. Jou commitment tot sosiale media kan veroorsaak dat jou maat afgeskuif word op die prioriteitsleertjie. Volgens businessinsider.com spandeer ons ongeveer 20 minute elke dag op sosiale media en volgens ‘n studie deur mobileinsurance.com spandeer ons ongeveer 90 minute op ons foon elke dag. Dit is baie meer waardevol om direk vir jou maat te vertel hoe lief jy hom het, as om langs hom te sit en ’n liefdesverklaring op Facebook te deel. As jy saam met manlief ’n huweliksherdenking by ’n fynproewersrestaurant vier, wees ín die oomblik, eerder as om jou mooi bord kos op Instagram te plaas. As jy meer tyd op sosiale media deurbring as saam met jou maat, of as jy ander mense se lewens of geselskap interessanter vind as jou maat s’n, moet jy briek aandraai.

4. Wees ’n oop boek sover dit sosiale media aangaan
Speel oop kaarte wat jou wagwoorde aanbetref. Jou maat behoort vrylik toegang te hê tot jou Facebook-, Instagram- en Twitter-rekeninge. As jy nié van dié idee hou nie, vra jouself af: Hoekom nie? Maak seker dat jy niks aanlyn sê wat jy nie sou sê as jou maat reg langs jou gestaan het nie. Vra jouself ook af of jou maat sal omgee as hy/sy dit sien. Sosiale media kan gevoelens van jaloesie by huweliksmaats ontketen – en met reg. Volgens McKinleyIrvin.com, ’n webtuiste wat fokus op sosiale media en digitale kommunikasie tydens egskeidings, steek een uit elke tien volwassenes boodskappe vir hul maats weg. Altesaam 8% volwassenes erken dat hulle geheime rekeninge op sosiale media het en een uit drie egskeidings begin as aanlyn-affairs.

5. Dink twee keer, nee drie keer, voor jy deel
Onthou dat wat jy op sosiale media deel, nie teruggetrek kan word nie. Dit bereik talle pare oë in ’n baie kort tydperk. Moet dus nie iets deel in ’n oomblik van woede of skok nie, en moet jouself nie skuldig maak aan ’n uitlating wat jou in die sop kan laat beland en jou of jou huwelik in ’n slegte lig stel nie. Dít wat jy op sosiale media sê, kan teen jou gebruik word. Deesdae is sosiale media selfs ’n platform wat deur prokureurs teen jou ingespan kan word. En maak seker jy en jou maat voel dieselfde oor wát jy deel. Jy hou dalk daarvan om foto’s van jou kroos te deel, terwyl manlief voel dit is gevaarlik. Hy geniet dit om jul location te deel, terwyl jy verkies dat niemand julle op vakansie pla nie. Julle verskil dalk drasties in die manier waarop julle met sosiale media omgaan en dit kan konflik in jul verhouding veroorsaak. Maak seker julle is op dieselfde bladsy wat julle manier van gebruik aanbetref.

6. Kies jou vriende en volgers met oorleg
Sosiale media het ’n speletjie geword waarin getalle nagejaag word! Dit is nie meer net ’n betekenislose tydverdryf nie – ’n sterk profiel op sosiale media kan baie vir jou beteken ten opsigte van jou werkplek en kan selfs vir jou ’n inkomste genereer. Daarom het dit die gebruik geword vir mense om vriend-versoeke (al het hulle geen idee wie dit is nie) goedsmoeds te aanvaar. Die meeste hiervan is skadeloos, maar daar is ’n paar potensiële vriende wat jy liefs nie deel van jou sosiale media-gemeenskap moet maak nie. Dit sluit in: Mense met wie jy voorheen in ’n romantiese verhouding betrokke was, mense tot wie jy aangetrokke was en mense wat tot jou aangetrokke was. Só ook mense wat jy weet jou in die wip van verleiding kan vang. As jy weet jy het ’n dwalende oog, moet jy ekstra versigtig wees hiervoor. Maak dit sommer ’n persoonlike reël om elke vriend-versoek met jou maat te deel.

7. Dink oor die beeld wat jy na buite voorhou
Sosiale media is ’n wonderlike plek, as jy mooi hieroor dink. Hier kan jy ’n beeld van jouself skep presies soos jy dit wil hê. En as jy wil ontsnap van jou realiteit as ’n eggenoot en ’n ma van twee, is dit heeltemal moontlik om dit te doen, deur fyn gekose woorde en foto’s. As jy wil, kan jy vir die buitewêreld ’n enkellopende vrou wees wat van avontuur hou en graag reis. Maar is jy dit nie aan jou maat verskuldig om sy rol in jou lewe te erken nie? Reflekteer jou ware beeld op sosiale media en maak seker jou status is opgedateer sodat almal weet jy is getroud (en gelukkig daarby). Jou status is ’n boodskap na die buitewêreld om te sê: “Hande af!” Plaas af en toe ’n mooi foto van jou en jou maat. Erken sy bestaan en prys hom wanneer hy goed presteer het. Dit beteken nie dat jy jou vriende of volgers moet irriteer met ’n oormaat soetsappige liefdesverklarings nie, maar wel dat jy nie jou status as getroude persoon durf ignoreer nie en ook dat jy nie jou maat as ’n belangrike figuur in jou lewe misken nie.

8. Moenie jou vuil wasgoed op sosiale media was nie
Mense is geneig om baie maklik hul harte oop te maak op sosiale media. Hier sê jy maklik wat jy nie kans sien om vir iemand van aangesig tot aangesig te sê nie. Dis ook waarom mense maklik op sosiale media oor hul huwelike kla of subtiele, passief-aggressiewe boodskappe plaas, soos: “Ek het nie geweet dit is okay vir ’n getroude man om ná middernag by die huis te kom nie.” (Dit is ’n lae hou in jou maat se krop – jy weet sy sussie én sy ma gaan hierdie post sien.) Dan is daar natuurlik die ander taktiek wat soveel mense volg: “Só teleurgesteld . . .” sê jou post, en jy sit as’t ware en wag vir die eerste vrae om te kom, sodat jy ontwykend kan antwoord en later maar met die hele sak patats vorendag kan kom (jou maat het alweer nie aan jou verwagtinge voldoen nie). As jy iets vir jou maat wil sê, sê dit. Vir hóm. In privaatheid. As dit iets is wat jy nie direk met hom wil bespreek nie, gesels met ’n huweliksmentor. Nie op sosiale media nie. Só beskerm jy jou maat se reputasie en eer jy jou huwelik.

9. Vermy die “lokval van vergelykings”
Is dit nie ongelooflik hoe al jou Facebook-vriende lyk asof hulle meer opwindende lewens as julle lei nie? Hulle verdien ongetwyfeld ’n groter besteebare inkomste, hulle is fikser en gesonder, en hul huwelike is veel beter as julle s’n? En jou vriende en hul maats lyk almal asof hulle nie ouer word nie? Hulle baklei definitief nooit nie en hulle kinders presteer beter as joune . . . Natuurlik is dit nie waar nie. Facebook weerspieël net ’n klein breukdeel van ’n mens se lewe (dié deel wat jy graag wil deel) en hulle voel waarskynlik presies dieselfde oor julle. Maar deur jou huwelik met ander te vergelyk, kan verwydering bring tussen jou en jou maat. Sosiale vergelyking is ’n gevaarlike speletjie. Voor jy jou oë uitvee, het jy onrealistiese verwagtinge van jou maat of jou huwelik, wat lei tot ’n algehele gevoel van onvergenoegdheid en ’n behoefte om anderkant die draad te gaan loer . . .

10. Wees versigtig vir verslawing
Enige vorm van verslawing is gevaarlik vir jou huwelik. Só ook verslawing aan sosiale media. En daar loop baie verslaafdes tussen ons rond! ’n Studie deur PsychCentral het bevind dat kollege-studente wat hulle van sosiale media weerhou, hul onttrekkingsimptome dieselfde beskryf as verslaafdes wat hulle weerhou van dwelms en alkohol – cravings, angs, bewerigheid . . . As jy gedurig op jou selfoon is (ook in die geselskap van jou maat of ander mense), as jy jou maat ignoreer of jou gedagtes nie by hom/haar bepaal nie omdat jy besig is op sosiale media, of as jy benoud raak wanneer jou foon nie by jou is nie omdat jy bang is jy mis iets op sosiale media, behoort die gevaarligte te flikker. As dit bekend klink, “speen” jou van sosiale media deur jouself net sekere tye daarvoor toe te laat. Kyk net een keer per dag na jou boodskappe op sosiale media en stel vir jouself ’n tydlimiet.

’n Goeie idee is vir julle as paartjie om jul eie stel sosiale media-reëls te skep, of om bogenoemde lys te neem en daaroor te gesels. Besluit byvoorbeeld saam hoeveel tyd vir sosiale media toelaatbaar is. Sosiale media kan ’n heerlike manier wees om jul beeld as ’n sterk eenheid na buite toe uit te dra. Dit kan ook as ’n goeie onderwerp vir gesprekvoering dien en julle help om in voeling te bly met vriende en familie wat ver is. Pas ons lys aan en maak só seker dat sosiale media ’n aanwins is, en nie ’n struikelblok in jul huwelik word nie.

Volgens McKinley Irvin lyk statistieke rakende huwelike en sosiale media só:
• Een uit drie volwassenes hou hul wagwoorde ’n geheim vir hul maats.
• Een uit tien volwassenes steek boodskappe weg vir hul maats.
• Altesaam 8% van volwassenes het rekeninge op sosiale media waarvan hul maats nie weet nie.
• Altesaam 16% van paartjies is jaloers as dit by Facebook-gebruik kom.
• Een uit sewe paartjies het al egskeiding oorweeg as gevolg van hul maats se aktiwiteite op sosiale media.
• Altesaam 30% van alle Tinder-gebruikers is getroud.
• Altesaam 25% van paartjies baklei minstens een keer per week oor Facebook.

Addisionele bronne: www.relevantmagazine.com, focusonthefamily.com, www.ncu.edu.blog, businessinsider.com, mobileinsurance.com.