Die belangrikste “bouprojek” van almal – deur Retief Burger
Ons klein mannetjie het begin loop! Sy eerste treetjies die wye wêreld in. Klein treetjies wat eintlik groot is. Natuurlik was daar baie opwinding in die Burger-huis en het die tempo van ons lewens ook vinnig versnel.
Dit wat opgebou het tot hierdie groot gebeurtenis – rondrol, kruip, opstaan – het alles bygedra tot die groei wat ons nou sien. En natuurlik wag hardloop, spring, rol, duik en soveel meer op ons buksie. Sien, dit is al die klein dingetjies in die lewe wat opbou tot iets groots. Net soos in die huwelik ook.
’n Gesonde huwelik gebeur nie net vanself nie. Dit is ’n voortdurende “bouprojek” waar elke klein detail ’n verskil maak. As kind het ek graag modelvliegtuie gebou. Dit was vet pret, maar so elke nou en dan het ek een gebou net om te vind dat daar ’n klein stukkie of twee oorgebly het. Groot fout. Detail uitgelaat.
Ek “vergeet” ook so elke nou en dan die klein, maar belangrike, dinge in die huwelik – veral op die gebied van romanse. Ons mans sit soveel energie in om ons vrouens aanvanklik te jag, en dan, wanneer ons hulle spreekwoordelik “gevang” het, dink ons dit is nou genoeg.
“Ek het mos vir haar gesê ek is lief vir haar op ons troudag. Hoekom moet ek dit aanhoudend doen?” het ek al baie mans hoor kla. Dit laat vrouens egter elke dag spesiaal voel om pursue te word – en dít gebeur in die detail.
Ek sal elke nou en dan vir Isabel ’n voice note stuur as een van ons gunsteling-liedjies op die radio speel. Net ’n klein gedagte om te sê: “Ek wens jy was nou hier. Ek mis jou.” ’n Klein verrassinkie wat iewers weggesteek word, ’n gereelde date night, moeite met huweliksherdenkings – alles klein dingetjies wat help bou aan die groter prentjie. Vir elke huwelik lyk dit anders, maar een ding weet ek: Ons moet ons vrouens aanhou pursue.
Só moet ek ook Isabel se hartstaal leer ken. Dis ’n dialek wat net ek die voorreg het om te ontsyfer! Ek moet leer wat haar laat veilig voel, wat haar beker volmaak en wat haar laat ervaar ek is lief vir haar. Dit vra dat ek dieper moet kyk, dieper luister en dieper liefhê. En dit is ’n lewenslange avontuur! Mag ons met die Here se hulp mans wees wat nie die detail mis nie, maar die klein treetjies herken wat die groot spronge in ons huwelike tot gevolg het.
Die huwelik is nie ’n reg nie… – deur Isabel Burger
Vir my en Retief was die huwelik, en alles wat daarmee gepaard gaan, een groot bonus! Aangesien ons eers laat in ons lewens (op 34 jaar) getroud is, was ons kinderlik opgewonde en dankbaar oor elke klein voorreg wat die huwelik ons gebied het.
Een Sondagaand ry Retief laat van die kerk af waar hy by die aanddiens gepreek het, en hy los vir my ’n voice note om te sê dat hy baie honger is en om te vra dat ek asseblief vir hom ’n geroosterde broodjie maak (met roomkaas, basil pesto en biltong – sy gunsteling!), asook ’n koppie tee. My foon was egter in die kamer en ek het nie die voice note gesien of gehoor nie, maar besluit uit my eie om hom te bederf deur vir hom sy gunsteling soort broodjie te maak, met ’n koppie tee.
Toe hy by die huis aankom, was hy só dankbaar, maar dit was nog soveel meer spesiaal (en lagwekkend) toe ons agterkom dat ek presies gemaak het waarvoor hy lus was, sonder dat ek eers geweet het hy het daarvoor gevra! Ek wens ek kon sê dat ek dit altyd regkry in die huwelik, maar ek is nie altyd so suksesvol nie! Hy het dit egter baie waardeer dat ek sy hart en behoeftes só op die hande gedra het.
Die probleem van die huwelik is dat ons ’n punt bereik waar ons só gewoond raak aan mekaar dat ons begin om mekaar as vanselfsprekend te aanvaar en ophou om moeite te doen om mekaar se hartsbehoeftes aan te spreek.
Byvoorbeeld: Ons as vrouens sê net dankie as ons mans iets buitengewoon doen, maar wanneer hulle die take uitvoer waarvoor hulle as mans “verantwoordelik” is, aanvaar ons dit as ’n gegewe, eerder as om opreg dankbaar daarvoor te wees.
Wanneer daardie verantwoordelikhede dan nie nagekom word nie, maak dit die deur wyd oop vir teleurstelling en verwyte (wat dan van ons neulende vrouens maak!), eerder as om dit totaal van die ander kant af te benader en opreg dankbaar te wees vir die daaglikse klein dingetjies wat wel gedoen word en ons mans opreg daarvoor te waardeer.
Kom ons begin weer daarop let om daadwerklik vir mekaar dankie te sê vir al die dinge wat ons soms as vanselfsprekend van mekaar aanvaar en kom ons kies om weer die klein dingetjies te doen wat mekaar se diepste hartsbehoeftes aanspreek.
Só sal ons elke dag opnuut herinner word dat die huwelik nie ’n reg is nie, maar ’n kosbare voorreg wat die Here vir ons gegee het! Ek sluit my en Retief hierby in as ek sê: Mag ons liefde vir mekaar gekenmerk word deur dankbaarheid, respek en waardering!