Sedert ons skielik moes verhuis (my man is oorgeplaas), voel dit asof ons lewens in totale chaos gedompel is. Alles voel deurmekaar . . . dit voel net asof ons buite beheer is en nie ons voete vind nie. Hoe kry ek die orde terug in ons lewens?

Promosie

Elkeen gaan soms deur ’n tydperk wat dit net voel asof alles deur die vloerplanke val! Dis normaal, maar dit kan jou emosioneel heeltemal oorweldig. Hier is ’n paar wenke vir hoe om die orde terug te kry:

  • Maak gebruik van ’n visualiseringstegniek. Berei jou geestelik voor vir jou ideale omstandighede. Dink aan hoe die huis moet lyk, skoon en sonder enigiets wat rondstaan. Visualiseer hoe kalm en georden julle as gesin oor ses maande gaan wees.
  • Raak ontslae van slegte gewoontes. Jy sal verbaas wees hoe groot die uitwerking van slegte gewoontes op jou gevoel van beheer oor jou lewe kan wees. Hou op rook, drink en ongesond eet. Bestee die geld wat julle aan jul slegte gewoontes uitgee op nuwe fietse of ’n gesinsvakansie.
  • Belê in ’n notaboekie met ’n magneet wat jy teen die yskas kan vassit en skryf elke aand jou to-do lysie vir die volgende dag hierin neer. Wanneer jy jou oggendkoffie maak, sien jy dit en kan jy jou dag daarvolgens organiseer. Trek elke afgehandelde item dood.
  • Koop ’n eenvoudige liasseerkabinet met lêers en etikette. Liasseer elke stukkie papier wat inkom voor dit kans kry om iewers op ’n stapel te beland.
  • Kry ’n breinoefening soos blokraaisels, Sudoku of ander woordspeletjies om saam met die gesin of alleen te speel. Studies toon dat dit help om ’n mens se breinkrag te vergroot. Dit sal jou help om te fokus op dit wat belangrik is en jou ook help ontspan in hierdie chaotiese tydperk in jul lewens.
  • Raak betrokke by ’n liefdadigheidsprojek in die gemeenskap. Nie net gaan dit jou aandag help aflei van die chaos nie, maar dit gaan jou selfbeeld ook ’n hupstoot gee en jou leer om mense in jul nuwe gemeenskap te leer ken.

 

Deur Annelize Steyn

Promosie

(Wenke verskaf deur Mark Foo, outeur van “The 77 Traits of Highly Successful People” op Litemind.com.)