“Ek is in my dertigs en kon nog nooit ‘die regte een’ ontmoet nie. Ek het al hoeveel liefdesteleurstellings gehad en my hart is telkemale gebreek. Nou het ek ’n wonderlike man, sowat drie jaar ouer as ek, deur gemeenskaplike vriende ontmoet en hy is alles wat ek in ’n man wil hê. Hy leef al die wonderlike waardes van ’n Christen uit (hy is eerlik, opreg, goedhartig, liefdevol, vriendelik en hy hanteer my met soveel respek), maar die probleem is . . . hy is nie ’n Christen nie. Hy is ’n ateïs. Ons het al lekker hieroor gedebatteer en ek geniet die feit dat ons hieroor kan praat, sonder dat hy sy humeur verloor. Maar ek is só versigtig. Maak ek ’n fout om by ’n ateïs betrokke te raak? Ek stap nie meer in enige verhouding in sonder om te kyk na die moontlikheid van ’n huwelik nie. Kan dit werk oor die lang termyn?”

Promosie

GUSTAV EN ELNA MULLER van Beterverhoudings.co.za antwoord:
Ons is met die jare al so baie kere gevra of ’n huwelik tussen ’n Christen en ’n ateïs (of iemand van ’n ander geloof) kan werk. Elke keer kom dieselfde drie gedagtes by ons op:

Eerstens is dit elke mens se wonderlike voorreg om self hierdie keuse te maak. Niemand kan vir jou besluit nie. Maar, as jy die keuse gemaak het, moet jy die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan ook opneem. Die tweede gedagte is dat ’n mens uitmis as jy as Christen met ’n ateïs trou. Julle sal nooit saam kan groei in jul geloofslewe nie. Julle sal nooit saam vir die Here iets kan doen nie. Julle sal nooit saam in krisistye kan bid nie. Een van die opwindende fasette van die huwelik is juis dat mens saam opgewonde kan raak oor jou geloofspad, en mettertyd raak dit tog elke ander faset van die verhouding.

Laastens is daar die frustrasies wat moontlik kan opduik as mens saam moet besluit hoe Kersfees gaan werk of met watter geloofsoortuiging ’n mens die kinders gaan grootmaak. Sal hulle elke Sondag kerk toe kan gaan of nie? Daar is soveel dinge wat nie nou ’n probleem is nie, maar later raak dit só moeilik om daaroor besluite te neem. Sal mens die kinders doop of nie? Sal mens saam met die kinders kan Bybelstudie doen of nie? Uiteindelik is dit jou besluit – maar probeer ver vooruit dink voor jy besluit.

Promosie