Ek is vir die tweede keer getroud. My man se kinders is al volwassenes, maar pappa hou hulle op sy medies, terwyl hy weier om my daarop te sit. Is ek nou ongevoelig en te sensitief? Moet ek net stilbly en los? Hy het al genoem dat hy my sal opsit sodra hulle af is. Sy seun is al amper 23 en verdien ’n groot salaris, maar pappie betaal steeds sy woonstel en ’n gedeelte van sy kruideniersware. Hy is nog op sy pa se medies. Die dogter is 24, sy werk nie en het ’n buite-egtelike baba (hulle is albei nog op haar pa se mediese fonds). Ek gee nie om oor die kleinkind nie, maar regtigwaar. . .

Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters en sprekers, sê:
Die eenvoudige antwoord sal wees: “Nee, jy is nie verkeerd nie,” maar ons dink daar is dalk so ’n bietjie meer vleis om die antwoord. Die behoefte wat jy het, is 100% geregverdig. In die situasie, soos jy dit verduidelik het, moet jy baklei vir ’n plekkie in die son met jou man. Daar kan verskeie redes voor wees, maar ons dink dat hy dalk skuldig kan voel teenoor die kinders ten opsigte van die tweede huwelik.

Daarmee sê ons nie dat hy spyt is dat hy getroud is met jou nie, maar hy voel dalk hy moet vir sy kinders bewys dat hy vir hulle lief is en nie eenkant toe stoot nie. Die gevolg kan dan moontlik wees dat hy dinge sal doen soos wat hy tans doen. As dit die geval is, moet daar met hom gepraat word en hy moet meegedeel word dat jy nie vir die spesiale plek in sy lewe wil baklei met sy kinders nie. Almal het hulle eie plek, maar jou plek bly die belangrikste, naas die Here, in sy lewe.

Die ander probleem wat ons hier sien kop uitsteek, is dat daar geen grense is nie en dat hy dalk verplig voel om alles te betaal totdat die kinders vir hom sal sê dat hulle nou gereed is om op hulle eie voete te staan. Daardie dag sal nie gebeur as daar nie baie pertinente grense getrek word vir die kinders nie. Dit is kommerwekkend om te hoor hoe oud die kinders is en dat hulle nog steeds onderhou word, hoewel die seun alreeds ’n werk het. Hy moet op sy eie voete kan staan en dit sal bitter negatief wees vir hom, in sy eie ontwikkeling sowel as vir julle verhouding, as hier nie grense getrek word nie. As daar nie grense is nie, sal die kinders net voortgaan met die situasie soos dit is, aangesien dit die maklikste en gemaklikste situasie vir hulle is.

Wat sy dogter aanbetref, verstaan ons dat hy wil help, veral met die kleintjie, maar dan moet sy gaan werk soek. Sy kan nie afhanklik van haar pa bly tot die kleintjie ook uit die skool is nie. Hy kan haar vir seker help in die tyd wat sy nog nie ’n werk het nie, maar daar moet bewyse gelewer word dat sy wel werk soek en nie haar pa gebruik as die maklike uitweg nie.

Grense is nie iets negatief nie, inteendeel, dit beskerm julle verhouding en ook die verhouding met die kinders. Met grense beteken dit nie dat hy nie betrokke mag wees by sy kinders nie, maar ons dink net dat die verhouding tans ongesond is en dat die kinders nog nie hulle volwasse verpligtinge opgetel het nie. As hy op hierdie basis betrokke gaan bly, om watter rede ook al, sal dit lei tot baie spanning in julle verhouding. Gevolglik, sal jy ook negatief begin optree en dink oor die kinders wat die afstand tussen jou en jou man net groter sal maak. Spreek dit so gou as moontlik aan en stel grense. As julle sukkel om mekaar te hoor, gaan sien ’n professionele persoon om julle hiermee te help. Sterkte.