Dis ’n begrip waarmee ons grootgeword het. Is dit uitgedien of is daar nog ’n plek hiervoor? Ons glo dis nog net so relevant soos altyd. Só hanteer ’n moderne huishouding huisgodsdiens (veral met die uitdaging van beperkte tyd) en dít is jou rol as geestelike leier van die huis.

Promosie

Huisgodsdiens is ’n woord wat verskillende betekenisse in verskillende huise kan hê. Die een dink dis die tyd wanneer pa die Bybel op die tafel sit, ’n Skrif lees en dan met gebed volg. Vir ander is huisgodsdiens die tyd wat afgestaan word om oor die Here se wonderdade en voorsiening te gesels en daaroor na te dink. Almal het ’n vooropgestelde idee en elke gesin doen dit anders. Moet jouself nie beperk met idees en gedagtes wat jouself diskwalifiseer vir hierdie belangrike tyd saam met jou gesin nie.

Om jouself te vergelyk met teoloë of oudstudente wat Bybelskool bygewoon het of dalk steeds doen, is beslis nie wys nie! Die feit dat jy ’n bietjie skrikkerig of dalk senuweeagtig oor hierdie onderwerp nadink, is nie noodwendig verkeerd nie, maar dit wys dat jy jou familie met versigtigheid in die volle waarheid wil lei (en nie andersom nie). Só jy is ideaal om hierdie belangrike taak van huisgodsdiens uit te leef!

Almal het die vermoë en elkeen kán! Ek het so ’n paar gedagtes om jou hiermee te help sodat huisgodsdiens lekker prakties en doenbaar kan wees vir elkeen! Kom ons noem dit sommer “Huisgodsdiens vir dummies”. Hier volg ’n paar gedagtes wat jy sommer dadelik kan probeer:

Promosie

Die uitdaging van tyd

Tyd is almal se uitdaging. Baie gesinne is laat in en vroeg uit – of heeltemal uit pas uit. Boetie of Sussie het sport of kultuur – om nie eens te praat van huiswerk nie! Net om saam te eet, is vir baie gesinne ’n uitdaging. Stel vandag ’n doelwit om minstens twee uit die sewe dae per week saam te sit en eet sonder enige verskonings. Werk na jou doelwit tot meer dae sodra die goeie gewoonte gevestig is.

In die ou dae was gesels om die etenstafel taboe! Vandag is dit soms die enigste plek waar gesinne kan kommunikeer. Sit om ’n tafel en indien jy nie een het nie, belê in ’n lekker kuiertafel. Ek is ’n voorstaander van die idee dat saam eet families by mekaar hou en ’n kans bied om verhoudings te bou. Om saam hande te vat en dankie te sê vir voorregte, kan die mooiste herinneringe voortbring! Wees die instrument vandag en praat met jou gesin om dié belangrike saak in volle gang te kry.

Oor dankbaarheid

Praat met jou gesin en vertel elkeen hoe dankbaar jy vir hulle in jou lewe is. Gryp vir Boetie, hou hom vas, kyk hom in die oë en vertel hom hoe lief jy hom het. Dieselfde met Sussie, sy het jou inspraak in haar persoonlike lewe meer nodig as wat jy dink. Pa moenie dink Sus moet haar vroue-geselsies by Mamma kry nie. Jy is die hoof van die huis en sy het nodig om haar vrouwees-sake by jou uit te vind.

Dis jou as pappa se voorreg om deel te wees van hierdie ontwikkelingsfase. Wees jy die voorbeeld-pappa, dan sal jou kinders eendag hulle families weer in dieselfde standaarde lei. Gesels oor alles wat die Here op jul pad geplaas het, hulle sal gou inkoop en voor jy jou kry, vloei jul kommunikasie op geloofsvlakke op ’n heeltemal ander vlak. Ware godsdiens is omgee, kom ons begin sommer nou.

Deel die Woord met mekaar

Daar is verskillende wyses waarop julle op die Woord kan fokus. Julle kan boek vir boek, hoofstuk vir hoofstuk of selfs enkel-Skrifte deurwerk. Om diegene te help wat nou dalk begin bekommerd raak, ’n mens kan ook gebruik maak van “koringkorrels” – die klein gekleurde kaartjies met enkel-Skrifte daarop gedruk. Baie van ons het daarmee grootgeword en ek is seker die meeste van ons kan daarmee identifiseer.

Anders, vir diegene wat boeke vat, hou elke Skrif mooi in konteks en observeer presies wat die skrywer vir sy gehoor in konteks wil sê. Lees dus eerder die hele gedeelte mooi deur as wat jy blindelings die Bybel oopmaak en jou vinger in ’n raaiskoot op enige Skrif plaas en daardeur ’n boodskap probeer ontvang.

Daar was eenmaal iemand net so desperaat, wat blindelings sy Bybel oopgemaak en sy vinger op Matt. 27:5 geplaas het. Hy het sy oë oopgemaak en gelees: “En Judas het die silwerstukke in die tempel neergegooi, weggeloop en homself gaan ophang.” Hy het die Bybel toegemaak en gesê: “Ag Here, praat weer met my,” sy oë weer toegemaak, die Bybel oopgemaak en Luk.10:36 gelees: “Gaan en doen jy net so.”

Om só Bybelverse te soek wanneer jy in nood is, is natuurlik heeltemal onwys en ek moedig dit glad nie aan nie. Werk eerder deur die Skrif en deel dit met jou gesin om enige onduidelikhede uit die weg te ruim.

Poeding- en bidaand

Kies ’n dag in die week wanneer julle as gesin saam eet en dan hierdie spesiale geleentheid volg deur nagereg na ’n tyd van gebed. Hier is julle kans om gebedsversoeke te deel en vir mekaar te bid! Ouers kan met diskresie versoeke rig vir ekstra besigheid, finansies vir die volgende vakansie of persoonlike gebedsversoeke waarvoor julle as familie die Here vertrou.

Onthou, jy moet jou kinders leer dat dinge wat gebeur nie sommer net uit die lug uit val nie. Jy moet daarvoor ook vertrou en deur gebed God vertrou om dit in vervulling te sien kom! Jou kinders gaan sien hoe jy dit doen en sommer gou-gou nuwe beginsels vaslê. Onthou, jy is die Here se gunsgenoot, Sy geliefde, en Sy gedagtes oor jou is ’n voorspoedige lewe!

Huisgodsdiens is nie ’n metode nie, maar wel ’n lewenstyl. Mag jy Sy wysheid kry om hierdie wonderlike lewenswyse deel van jou gesinslewe te maak!

 

Deur Stephen Claassens