Met soveel romanse in die lug rondom die koninklike troue tussen die Amerikaanse aktrise, Meghan Markle, en die Britse koninklike, prins Harry Windsor, was daar nog nooit ’n beter tyd om seker te maak jy lyk ook elke dag soos ’n prinses nie. Dié twee mag dalk elke dag in die publieke oog wees, maar dit is vir ons almal só – net op ’n kleiner skaal.

Simon Rademan, skrywer van The Style Bible, is ’n meester met aand- en troudrag, en deel 2018 se mode- en stylneigings eksklusief met INTIEM.

Die feit dat kameras nie elke dingetjie wat jy doen beoordeel en veroordeel nie, neem niks daarvan weg om seker te maak jy het self ook ’n koninklike klerekas nie. Hier is ’n paar platsak-riglyne wat jy kan gebruik om van kop tot toon ’n stylvolle middeweg te vind tussen koninklike klerekaste en jou eie.

• Jy hoef nie ’n kroon te dra om net so stylvol soos die adelstand te wees nie – ’n netjiese, skoon, goed versorgde haarstyl hou jou altyd gereed om jou prins se aandag te trek. Jou kroon is in die regop houding waarmee jy smaakvolle lewenskeuses maak, letterlik en figuurlik.

Promosie

• Juwele is baie klein op die oomblik en lyk baie meer eg as ’n oorbehangde nek of ore – dus is jy sommer dadelik modieus-outentiek wanneer jy hierdie seisoen van bonkige bykomstighede wegbly.

• Talle reëls is reeds sedert die vroeë Bybelse tye stylvol aangepas, maar ’n vleiende (selfs oop) neklyn is steeds een van die mees romantiese fokuslyne van waarlik vrouwees wat jy vandag kan dra. Doen dit egter slegs indien jy gemaklik is daarmee. The Style Bible het nou ’n goed gedokumenteerde lys van moets en moenies wanneer dit by die fokus op borsmate kom, en ek leen graag die volgende daaruit: “’n R5-muntstuk is die maksimum borsgleuf wat jy in die openbaar betaamlik kan dra.”

• Slegs die koningin kom dag na dag weg met dieselfde rokstyl, so dus kan jy met vandag se modes maklik meng en pas met geen of min voorwaardes. Moenie jou onsekerheid ignoreer indien jy iets aantrek wat jou ongemaklik laat voel nie. Die vinnigste middeweg is: Sorg dat iets in jou klerekas ’n driekwartmou het – verby die elmboog. Dit werk ook baie goed vir ons Suid-Afrikaanse winters.

• Sykouse is beslis nie nodig nie, maar ’n groot plus as jy ’n bietjie been wil wys in die wintermaande. Skoon en netjies geskeerde bene is wel ’n móét indien jy gaan wegbly daarvan.

• Skoene se “koninklike reël” is steeds dat die tone eerder toe moet wees, maar die hakke en kant van die voet mag oop wees. Besluit self wat vir jou werk deur letterlik jou voete bymekaar te sit en te kyk of jou twee voete se tone simmetries is. Maak toe indien hulle terugloer.

• Handsakke is soms onnodig, maar beslis nie outyds nie – dis prakties. Onthou dat die man in jou lewe nie jou lewenslange persoonlike lakei is nie, maar onthou ook dat jy self nie ’n pakesel is nie. ’n Ware heer sal aanbied om jou nodigste iewers in een van sy sakke te dra. Aanvaar dit met grasie.

• Grimering moet nooit oordadig wees nie. Kenners soos bemarkers en verkoopsmense praat jou graag in nuwe aankope in, maar vind jou middeweg met net die basiese hierdie seisoen. Sodra ’n derde of vierde laag nodig is, moet jy begin wonder of jy die regte ding doen. Die fokus is op óf die oë óf die lippe óf die wangbene, maar nie alles gelyk nie. Alles saam moet in harmonie wees.

Dit is juis hierdie harmonie wat die belangrikste is – oral waar die woordjie “té” as byvoeglike naamwoord gebruik word, bevind jy jouself op die verkeerde middeweg, en jy wil eerder hierdie seisoen op die regte pad wees.

Volg my gerus op sosiale media soos Facebook, Twitter en LinkedIn by @simonrademan.
012 460 5106
www.simonrademan.co.za
www.thestylebible.co.za