Wat maak van jou ’n goeie minnaar? Is dit hoe goed jy bedeeld is? Of is dit sekstegnieke wat jou van die res onderskei? Die waarheid? Jy hoef nie ’n Adonis óf ’n sekskenner te wees om koning van die katel te kraai nie. Inteendeel – dit kan jou kniehalter.

Promosie

Al ooit gewonder hoekom minder aantreklike mans met mooier vroue trou? “Hy het seker geld,” is sekerlik een van die algemeenste wanopvattings. Ja, finansiële stabiliteit help wel, maar dit is nie só eenvoudig nie. Volgens dr Logan Levkoff, ’n verhoudings- en sekskenner, koppel vroue minder waarde aan mans se fisieke voorkoms as wat jy dink.

Interessante, charismatiese en talentvolle mans is baie meer boeiend en aantreklik as iemand wat slegs iets vir die oog is. Bowenal het studies bewys dat as die vrou die aantrekliker een in die huwelik of verhouding is, dit haar veiliger laat voel.

Tien eienskappe van ’n goeie minnaar

Promosie

’n Goeie minnaar is:

  • Gewillig om te leer. Let fyn op in die bed. Luister na die geluide wat sy maak, lees haar lyftaal en leer hieruit!
  • Prettig en passievol. Gryp haar in die hitte van die oomblik en hê pret in die bed!
  • Iemand wat oor die vermoë beskik om sy eggenoot aantreklik te laat voel. Komplimenteer haar.
  • Vol selfvertroue en nie bang om weerloos te wees nie. Deel jou gevoelens met haar.
  • Avontuurlustig en bereid om te eksperimenteer. Moenie altyd by die beproefde metodes hou nie, probeer iets nuuts!
  • ’n Goeie kommunikeerder wat sy behoeftes oordra en na sy lewensmaat luister.
  • Tydsaam en ontspanne. Niemand jaag julle nie! Rek seks uit . . .
  • Verstaan dat dit saliger is om te gee as om te ontvang. Stel haar eerste – ook in die bed!
  • Ondersteunend en sonder oordeel. As sy byvoorbeeld sukkel om weer in die bui te kom na die koms van kinders, wees geduldig met haar.
  • Iemand met ’n goeie sin vir humor. Moenie jouself of ander te ernstig opneem nie. Daar is te veel ernstige dinge in die lewe. Humor kan nie net moeilike situasies ontlont nie, dit is ’n wetenskaplike feit dat mense wat glimlag meer aantreklik is vir die teenoorgestelde geslag.

 Hoe om ’n beter minnaar te word

  • Stel persoonlike higiëne voorop! Dit klink miskien na iets wat vanselfsprekend is, maar wanneer ’n intieme geleentheid op die horison vir jou wink, is dit altyd ’n goeie idee om ’n stort te neem. Dit sal ook geen skade doen as jy nou en dan suidwaarts die snoeiskêr inlê nie.
  • Vra waarvan sy hou en wat jy moet doen.
  • Hoewel ’n vinnige woeps-waps sy plek het, is dit belangrik om jou vrou toe te laat om teen haar eie pas ’n klimaks te bereik. Bemeester die basiese tegnieke en vra vir terugvoer.
  • Vermy druk. ’n Goeie minnaar weet waar die grense is. Om kreatief en innoverende te wees, is een ding, maar om dinge te ver te vat, is gevaarlik. Weet wanneer haar “nee” werklik “nee” beteken.
  • Maak tyd. Om spontaan te wees, is ontsettend lekker, maar goeie beplanning is soms nodig. Laat weet haar vroegtydig jy wil tyd saam spandeer.
  • Laat die komplimente kwistig vloei. ’n Sagte woord kan nie net woede laat bedaar nie, maar kan ook die atmosfeer skep vir ’n latere intieme ontmoeting.
  • Kry hulp. Waak daarteen dat die liefdespel nie eentonig raak nie. Daar is vandag wonderlike seksuele en sensuele hulpmiddels beskikbaar om paartjies te help om kreatief te wees en die vonk in die liefdespel te behou.

Hou in gedagte dat seksualiteit ’n lewenslange reis is, en net soos jou huwelik en huweliksmaat aanhou om te ontwikkel en te verander, kan jy – net soos goeie rooiwyn – beter word met tyd. Kyk waar jy kan verbeter en spring aan die werk!

 

Deur Ettiene van Rensburg