Jy het jou maat ontmoet en toevallig verskil julle ’n paar dekades in ouderdom. Die tonge klap. “Sy het net met hom getrou vir sy geld” en “Hy het haar nader getrek vir ’n trofeevrou”. Niemand wil aanvaar dat die liefde genoeg rede was vir julle om verby die ouderdomsverskil te kyk nie. Maar kan dit werk?

Promosie

Hoe belangrik is ouderdom wanneer dit kom by huwelike? Is daar ’n punt waar ouderdom nie meer saak maak nie of gaan dit altyd addisionele druk op ’n huwelik plaas? Aan die een kant is daar diegene wat glo dit is absoluut aanvaarbaar – die liefde laat hom mos nie voorskryf nie? Aan die ander kant is daar die klomp wat glo dat die een party se “grootword” ’n ramp vir enige huwelik beteken.

JA, NATUURLIK KAN DIT WERK!

Selfs al was daar onmiddellik ’n vonk tussen hulle, het Riana* (38) en Lourens* (57) die kat behoorlik uit die boom gekyk voordat hulle vyf jaar gelede die knoop deurgehaak het.

Promosie

Riana was voorheen getroud en het, ná die geboorte van hul tweede kind, besluit dat sy nooit weer onder haar eksman se ystervuiste sal deurloop nie. Lourens was ’n vrygesel. “Ek het nog nooit ’n vrou ontmoet wat net daardie iets aan my hart gedoen het nie. Ek wou nie trou net omdat trou trou is nie. En toe ontmoet ek vir Riana.”

Gemeenskaplike vriende het hulle aan mekaar voorgestel tydens ’n geselligheid en hulle het onmiddellik gekliek. “Ons het die hele aand om gesels!” onthou Riana. “Gelukkig het die kinderoppasser oorgeslaap, so ek en Lourens kon die aand met geruste harte geniet.”

Sy het sommer met die deur in die huis geval en hom vertel van haar eksman, dat hy gewelddadig was en dat sy ’n mamma van twee jong kinders is. Dit het Lourens glad nie afgeskrik nie. “Ek is realisties. Ons lewe nie in ’n feëverhaal nie. Al wat my pla van Riana se verlede, is dat iemand haar ooit seergemaak het!”

Hy is lief vir haar kinders soos sy eie. “Riana se eksman stel nie belang in die kinders nie. Dis hartseer, maar ek het breë skouers en ek sal hulle help dra. Hulle is Riana s’n, en dit maak hulle ook deel van my.”

Die ouderdomsverskil pla hulle nie in die minste nie. “Ek en Riana is op dieselfde bladsy. Haar algemene kennis en belangstelling in die wêreld is fenomenaal, sy hoef vir niemand terug te staan nie!”

Riana voel dat Lourens haar ground. “Hy het homself uitgesorteer lank voordat hy my ontmoet het. He doesn’t sweat the small stuff. Hy weet wat regtig saak maak in die lewe – ware verhoudings met mense wat omgee.”

Wat sê die kenners hiervan?

’n Mens raak verlief op iemand se wese, en ouderdom behoort nie ’n hoof-kriteria te wees vir jou keuse van ’n lewensmaat nie, meen Carien du Toit, ’n voorligtingsielkundige in ’n privaat praktyk, wat spesialiseer in Imago-terapie.

“Mans neem dikwels ’n bietjie langer om standvastigheid te vind en om reg te wees vir toewyding. ’n Vrou van 25 mag dalk meer ondersteuning en gemene belangstellings vind in ’n man van 45 bloot omdat hy rustiger is oor sy eie menswees.”

Die jonger maat hou ook die ouer maat jonk van gees, terwyl die ouer maat se lewenservaring weer die jonger maat se perspektief verbreed. “Julle word beide blootgestel aan twee verskillende uitkyke op die lewe, wat ’n mens dwing om verder te dink as jou eie persepsie en wat elkeen uit syof haar gemaksone dwing.”

’n Ouer maat se loopbaan is meestal gevestig, wat beteken dat hy (of sy) meer energie het – en dikwels ook meer besteebare inkomste beskikbaar het – om te spandeer aan die verhouding. Waar die vrou ’n bietjie ouer as die man is, voel sy ook dikwels gemakliker met haar eie seksualiteit en sensualiteit, en neem sy ook makliker die seksuele leiding, meen Carien.

As die ouderdomsverskil werklik baie groot is – 30 jaar of meer – is dit ’n goeie idee om ’n bietjie introspeksie te doen voordat julle tot trou oorgaan.

“Besoek dalk ’n berader of huweliksterapeut, saam of op jou eie, om agter die kap van die byl oor jou keuse te kom. Heel moontlik is julle bloot lief vir mekaar, en liefde sien nie lukrake dinge soos ouderdom raak nie. Maar dis ook moontlik dat jy onopgeloste parental issues het en onderbewustelik na ’n ouerfiguur hunker. In daardie geval moet julle dalk twee keer dink en mooi besin oor die redes hoekom julle aangetrokke voel tot mekaar.”

NEE, DIT VOORSPEL NET DRAMA!

Belinda* het op 19-jarige ouderdom vir Richard* (32) ontmoet. In daardie stadium het sy gehoop om eerder “An old man’s darling than a young man’s slave” te wees, maar sy is kort daarna wreed ontnugter. Richard was pas geskei en het reeds twee kinders uit sy huwelik gehad. Hulle het intussen ’n baba van hul eie bygekry, maar eers daarna getrou. Hy het vir Belinda gevra om haar werk te los en voltyds ma te wees.

Richard het aangehou om steeds saam met sy vriende en vriendinne te kuier, selfs op weeksaande, en Belinda moes alleen by die baba bly. Op 23 is sy met hom getroud en hulle het daarna nog ’n kind gehad. Hy het aanhou uitgaan en volgehou sy moet na die kinders kyk aangesien sy hulle wou gehad het – hy het gevoel hy is reeds te oud daarvoor. Hy het haar gereeld voor sy vriende verneder. Vier jaar later kon sy Richard se woede en verbale mishandeling nie meer uithou nie en het sy besluit om van hom te skei.

Wat sê die kenners hiervan?

Louis Awerbuck, ’n kliniese sielkundige, sê daar is bepaalde faktore wat ’n rol speel wanneer paartjies ’n groot ouderdomsverskil het. “Egpare kom baie beter oor die weg as hulle mekaar se leefwêreld verstaan. Dit kom eenvoudig daarop neer dat dit wat die een persoon bedoel, dieselfde is wat deur die ander persoon gehoor word. Alhoewel individue nie noodwendig van dieselfde era hoef te kom om ’n huweliksmaat se leefwêreld beter te verstaan nie, maak dit die proses tog moeiliker as daar ’n groot ouderdomsverskil is.”

Mense dink en ervaar baie in simbole, en ’n “Neil Diamond-ervaring” van romanse is moeilik om te verstaan as die ander party se ervaring van romanse ’n “Justin Bieber-gevoel” het. Daarmee saam kom die verskil in belangstellings, hoe daar na die lewe gekyk word en wat belangrik is in verhoudings. “Dit gaan dus amper meer oor emosionele ouderdom as fisiese ouderdom – maar ’n sekere emosionele ouderdom word net bereik deur ’n sekere mate van ervaring,” sê Louis.

“Verder wys navorsing dat persepsies van die samelewing ’n groter rol speel as wat huweliksmaats met groot ouderdomsverskille aanvanklik dink. Sosiale kritiek deur vriende en familie plaas oor ’n lang termyn baie druk op verhoudings, en kan tot wedersydse afkeur ly. Die man met die nuwe jong meisie se sosiale sirkel sal selde daarmee gemaklik wees, wat ook al die motivering vir die ongemak is,” verduidelik Louis.

IS DAAR ’N GOUE MIDDEWEG?

Die grootste aanpassing kom met generasiegapings. Omdat julle uit verskillende generasies kom, kan jul perspektiewe verskil. Só ook jul belewenisse en moontlike lewensuitkyk en verwagtinge.

Verdere struikelblokke mag insluit:

♥ Die verskil in seksuele aptyt (vroue in hul dertigerjare het byvoorbeeld ’n verhoogde seksdrang, terwyl mans se seksuele funksie afneem namate hulle ouer raak), asook of die paartjie kinders wil hê in dié eenheid.

♥ Wenkbroue van familie, vriende en vreemdelinge mag lig vanweë ’n groot ouderdomsverskil – dus hoe gemaklik jy hiermee is, want dit mag vervreemding en konflik tussen julle twee meebring.

♥ Afhangende van die lewensfase (asook volwassenheid) waarin jy verkeer, kan dit moeiliker wees om met iemand te kommunikeer of te vereenselwig wat heelwat ouer of jonger as jy is. Dink maar sy/haar vriende is nog jonk en ongetroud en wil saans uitgaan, en jy is ouer en na ’n lang dag op kantoor verkies jy nou rustigheid in dié fase van jou lewe.

♥ Algemene verskille soos politieke uitkyk, musiek, vriende, geskiedkundige gebeurtenisse en so meer kan ’n impak op die verhouding hê en tot moontlike irritasies lei.

Volgens Caryn en Stephan Feldmann, ’n huweliksberader-egpaar, het ’n huwelik met ’n groot ouderdomsverskil uitdagings soos dat die samelewing neerkyk op só ’n huwelik en onnodige stremming daarop plaas.

Die generasie-verskil maak dat die twee persone se smaak drasties kan verskil op verskeie gebiede, insluitend prioriteite, sosiale voorkeure, huisversiering, kinders grootmaak ens.

Is julle bereid om saam ’n middeweg te soek? Gevaartekens kan wees dat die verhouding meer ’n vorm van ouer-kind kan aanneem of dat die ouer persoon bewustelik of onbewustelik oormatige beheer uitoefen.

Aan die ander kant is daar soveel voordele. Die jonger party kan sy/haar maat jonk hou en die ouer lewensmaat kan weer meer ervaring en wysheid na die verhouding bring. Die ouer persoon het dalk ook meer finansiële stabiliteit, wat ’n jonger maat die geleentheid kan geeom ’n loopbaan van stapel te stuur.

Uiteindelik is al wat belangrik is, jul bereidwilligheid om dit te laat werk. Dinge wat die deurslag in jul verhouding kan gee, is ’n konneksie, aantrekkingskrag, dieselfde standaarde en belangstellings, en bereidwilligheid om die toets van tyd te deurstaan, ongeag van ander se menings. As julle vrede maak met die feit dat julle mekaar gekies het, ongeag van jul ouderdomme en dat dit nié jul verhouding domineer nie, is die saak al halfpad gewen.

Caryn en Stephan sê: “As twee persone in die huwelik bereid is om alles te gee vir die sukses van die eenheid, is daar geen rede waarom hulle nie ’n wonderlike huwelik kan hê nie.”

 

*Skuilname is gebruik.

 

Deur die INTIEM Redaksiespan

Bronne: http://stylecaster.com, www.goodtherapy.com