“Ek kom agter dat my maat die waarheid oor ons finansiële posisie vir my wegsteek. Dit het nou al etlike kere gebeur dat ek agterkom hy vertel ook vir my leuens sonder om te blik of te bloos daaroor. Wanneer ek hom konfronteer, sê hy dat hy my wil beskerm deur die waarheid van my te weerhou. Hoe hanteer ek hierdie situasie?”

Promosie

Gustav en Elna Muller van Keys 4 Marriage antwoord:

Om uit te vind dat jou maat iets belangrik van jou weggehou het of ’n wit leuentjie vertel het sal beslis die vertrouensfondasie van die verhouding skud. In ons beradingspraktyk en soos ons met mense te doen kry by ons seminare en kursusse vind ons gereeld dat vrouens hieroor kla. Mans voel inderdaad dat hulle hul vrouens beskerm deur inligting van hulle weg te hou of die sogenaamde wit leuentjie te vertel. Wat hulle vergeet, is dat dit sake vir hulleself beter maak maar vir hulle vrouens maak dit sake eintlik baie erger. Jy sien, dieperliggend is mans wat hulle hieraan skuldig maak dikwels inderwaarheid bang vir die konflik wat gaan ontstaan as hulle heeltemal eerlik is. Ons aanbeveling sou wees om vir hom te sê dat jy dit waardeer dat hy jou wil beskerm, maar deur goed van jou weg te hou laat hy jou glad nie beskerm voel nie. Verduidelik liefdevol, sonder om te konfronteer, dat jy graag deursigtigheid tussen julle wil hê, en nie elke dag wil wonder of julle verhouding gebou is op waarheid of leuens nie. As dit nodig is dat julle jul kommunikasievaardighede moet opskerp om makliker oor sulke moeilike sake te kan praat, dan moet julle dit ook ernstig oorweeg.

Promosie