Die ou spreekwoord lui: “Geld wat stom is, maak reg wat krom is.” Wat gebeur as jou huwelik krom en jou beursie leeg is? Gaan liefde dan by die sogenaamde agterdeur uit of is daar meer in dié saak as blote spreekwoorde?

Promosie

Alle paartjies beleef in die een of ander stadium van ’n huwelik finansiële spanning. Dit word nie noodwendig teweeggebring deur insolvensie nie, maar ook deur verskille in geldbestuur en besteding. Finansiële struweling in die huwelik word aangehaal as seker dié nommer een oorsaak wat aanleiding gee tot egskeiding, meen Darrell Strydom, ’n prokureur van Roodepoort wat spesialiseer in familiereg, mediasie en konflik-oplossing.

“In 2012 is ’n artikel getiteld ‘Examining the relationship between financial issues and divorce’ in die Journal of Family Relations geplaas. Navorsers het gevolgtrekkings gemaak nadat ’n proefneming onder 4 574 paartjies gedoen is en daar is onder meer bevind dat finansiële struweling sterker aanduidend is van ’n moontlike egskeiding as enige ander gemeenskaplike probleem,” vertel hy.

’n Paartjie wat ’n finansiële krisis beleef, sal óf skei óf hul huwelik sal sterker aan die ander kant uitkom namate hulle deur ’n aanpassingstydperk gaan en ’n nuwe leefstyl en rolverdeling aanneem. Dit is hier wat jou en jou maat se reaksie jul huwelik se uitkoms sal bepaal. ’n Egskeiding is beslis nie die beste uitweg nie en soos hulle tereg sê: “Marriage is grand, but divorce is 50 grand!”

Promosie

Hoe kan ’n paartjie ’n finansiële krisis voorkom?

Darrell beveel aan dat paartjies van meet af aan mooi moet dink oor welke huweliksgoederebedeling die beste sal wees vir hul huwelik (hieroor behoort jou prokureur jou die beste te kan adviseer). “Die kwessie van boedelbeplanning is uiters belangrik. Hier gaan dit gewoonlik oor die gebruik van sekere beleggingsinstrumente en -strukture om jou geld en bates te vermeerder, bestuur en beskerm.” Belastingkwessies, finansiële risiko’s en jou testament word aangespreek. “’n Geakkrediteerde finansiële adviseur, rekenmeester, belastingpraktisyn, beleggingspesialis en prokureur kan jou bystaan, en dien dikwels as ’n adviserende span.”

Gerda Cowley, finansiële bestuurder by die maatskappy Media in Africa, meen dit is baie belangrik vir ’n paartjie om – selfs al bestuur hulle hul finansies afsonderlik – saam te beplan, te begroot en vas te stel wat elkeen kan of nié kan bekostig nie en daarvolgens te leef. As jy binne jou vermoëns leef, behoort daar nie probleme te wees nie. Volgens Gerda kan begrotings en finansiële doelwitte pret en opwindend wees vir ’n paartjie om aan te beplan.

Sy meen dat 90% van alle paartjies van die hand tot die mond en bó hul vermoëns leef vanweë die Keeping up with the Jones’ scenario. “Wag eers ná jou verhoging voordat jy ’n nuwe kar, huis en so meer koop. Beplan eers om jou skuld te vereffen en kry ’n goeie spaarfonds in plek – genoeg om drie maande se uitgawes te dek – voordat jy jou lewenstandaard verhoog. Glo my, jy gaan lekkerder slaap as dit in plek is as wat jy ’n blink kar in die garage het sonder petrol,” waarsku Gerda.

As jy skuld het, is die beste plan om jou lewenstandaard te verlaag. Gerda sê dit is nie so moeilik soos wat dit klink nie. Geld maak geld. Skuld maak nog skuld.

Gerda deel die volgende wenke vir geldbesparing:

  • Probeer om jouself nie met langtermyn selfoonkontrakte te bind nie. Moenie opgradeer en jouself hiermee vasteken vir nog 24 maande nie. ’n Kontrak is wel goedkoper, maar hou jou ou handstuk en sodoende kan jy enige tyd kostes stop as dit moet.
  • As jy eiendom besit, verhuur dit en moenie verkoop nie (dit is mits jou paaiement teenoor jou huurinkomste sin maak) en huur ’n kleiner plekkie.
  • Klein besparings maak groot verskille. Skakel jou geyser af. Verminder die dae wat jou bediende inkom na een dag minder per week, of kom heeltemal sonder haar klaar. Skakel jou DSTV af en doen maandeliks jou inkopies. Hou by die lysie en gaan koop as jy klaar geëet het om impulsiewe “honger” kopies te voorkom!
  • Kanselleer die gym-lidmaatskap (jy dreig nou al vir ’n jaar lank om volgende week te begin!) en draf eerder om die blok of ry buite fiets saam met die kinders as dit veilig is.
  • Hersien jou korttermynversekering en vra of daar besparings moontlik is.
  • Kyk na rentekoers-opsies op jou rekeninge. Bel jou bank en vra uit na beter opsies.
  • Kyk of julle oor die weg kan kom met een kar in plaas van twee (beproef die Gautrein of maak gebruik van saamrygeleenthede).
  • As jy dit regtig nodig het om uit die skuld te kom en jou versekeringsmaatskappy die opsie bied, sit jou polisse op ys vir ’n paar maande.

Gerda meen dit is noodsaaklik om vir jul toekoms voorsiening te maak deur seker te maak jul lewensversekering, polisse en testament is in plek en word jaarliks hersien. “Dit is belangrik om saam met ’n goeie makelaar te sit en elke jaar jou doelwitte en stand van finansies met hom/haar te bespreek. In geval van jou dood, gaan jou man of vrou agterbly met dieselfde uitgawes, maar een salaris minder. Is it gedek en gaan jou kinders steeds versorg kan word? ’n Trust wat ’n maandelikse inkomste aan ’n eggenoot uitbetaal ná sy/haar lewensmaat se dood is die veiligste en keer dat geld onnodig bestee word wanneer ’n enkelbedrag uitbetaal word.”

Wat as julle reeds in die moeilikheid is?

Baie mense maak behoorlike voorsiening wat hul finansies betref, maar word steeds onkant betrap deur ’n impulsiewe besigheidsbesluit. Wat as julle oornag in ’n finansiële krisis gedompel word? Kan jou huwelik dit oorleef? Die kanse is goed, mits jy dié aksieplan in werking stel.

STAP 1: Moenie jou kop in ’n gat begrawe nie.

Dit sal nie die realiteit laat verdwyn nie. Wees voorbereid. Bespreek die moontlikheid hiervan vóór jou troue reeds en gesels hieroor met jul voorhuwelikse berader. Dink aan Matteus 7:24-25: “Elkeen wat dan hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op ’n rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.”

STAP 2: Sluk die kasterolie!

Soms moet jy die bitter maar net sluk. Dis tyd vir eerlike, opregte kommunikasie met al die kaarte op die tafel – let wel ál die kaarte. Bekyk jul situasie vanuit ’n worst case-scenario hoek. Wat is jul bankbalans? Hoeveel skuld is daar? Is julle op die swartlys? Wat beteken dit vir julle kredietwaardigheid? Moet dit nie ontken en jul situasie probeer versag nie. Kyk na die feite.

STAP 3: Besluit om te veg . . .

. . . en nie te vlug nie. “Kyk mekaar in die oë, hou mekaar vas en skud hande terwyl julle sê: ‘Ons sal hierdeur kom – absoluut. Ons hoef nie perfek te wees nie, ons moet net heeltemal eerlik wees,’ meen M Gary Neumans op oprah.com. Julle is ’n span in dié situasie – nie twee individue nie.

STAP 4: Trotseer julle emosies.

Praat eerlik oor dit wat jy op jou hart het en luister ook sonder oordeel na jou maat se emosies. Hanteer die woede en verwyte so gou as moontlik sodat julle mekaar kan vergewe en aanbeweeg met die aksieplan, maar probeer sover as moontlik om jou maat nie te blameer nie. In dié stadium sal dit meer skade as goed doen.

STAP 5: Skryf jul eie aksieplan neer.

Prioritiseer deur te vra wat vir jou die heel belangrikste is. As julle X verloor, sal dit selfs erger wees. Skryf al die items op ’n lysie van die hoogste prioriteit tot die laagste. Kyk na jul beskikbare fondse en allokeer dit volgens jul prioriteitslysie. Maak seker julle onderskei tussen behoeftes en begeertes. Wat het julle regtig nodig en waarsonder kan julle klaarkom? Robert Pagliarini, ’n finansiële beplanner en outeur van die boek “Six-day financial makeover: Transform your life in less than a week”, stel voor dat julle jul plan soos volg saamstel: Lys al jul uitgawes (maandelikse uitgawes sowel as dié wat minder gereeld voorkom). Skryf nou ná elke uitgawe “Uitstel”, “Elimineer”, “Verminder” of “Behou”. Uitstel is vir uitgawes wat uitgestel kan word vir ’n rukkie (soos die restourasie van jul badkamer of die koop van ’n nuwe kar). Elimineer alle uitgawes waarsonder julle kan klaarkom, soos ’n gym-lidmaatskap of klubfooi). Verminder alle uitgawes waarop jy bereid is om te besnoei (soos jou daaglikse cappuccino en ’n mooi paar skoene elke maand). Behou alle vasgestelde uitgawes soos jul huispaaiemente, versekering en inkopies.

STAP 6: Plaas die vereffening van skuld hoog op jul lysie.

Dit is baie belangrik om so gou as moontlik jul skuld af te betaal. Dit beteken dat julle nie meer jul kredietkaarte mag gebruik nie en moet aandag gee aan jul paaiemente. Wees bereid om ’n bietjie swaar te kry en leef laag sodat julle jul skuld so gou as moontlik kan afbetaal – dis die eerste stap na finansiële vryheid.

STAP 7: Hersien julle plan daagliks.

Dis belangrik om toe te sien dat hierdie krisis nie jul lewens oorneem nie. Hou daagliks ’n “vergadering” op ’n vasgestelde tyd wat ’n vasgestelde tydperk moet duur (byvoorbeeld 30 minute of ’n uur). Hersien julle finansiële status en kyk na jul vordering. Skryf elke sent wat inkom en uitgaan neer. “Kyk na die realiteit, en moet dan nie weer daaroor praat tot die volgende vergadering nie,” meen Gary.

STAP 8: Speel Mary Poppins!

Probeer ’n positiewe houding behou en staan mekaar by. Dis belangrik om gereeld saam te bid en op die oplossing te fokus, in plaas van op die probleem. Dink aan al jul seëninge en hou vas aan julle geloof. Doen saam Bybelstudie. Neem ’n houding van dankbaarheid in en moenie kyk na wat julle in die proses verloor het nie, maar na wat julle steeds het.

STAP 9: Steek jou trots in jou sak.

As dit regtig baie swaar gaan, is dit moeilik om hulp van ander te aanvaar omdat ’n mens se trots so swaar weeg. Dink daaraan dat God jou eendag dalk weer in die posisie van “gewer” sal plaas, maar dat dit eers nou jou tyd is om te ontvang. Moenie bedel nie, maar as mense finansieel of andersins wil bydra, ontvang dit met nederigheid en dankbaarheid.

STAP 10: Moenie vergeet om te droom nie . . .

As die realiteit jou byt, beteken dit nie dat jy al jou drome moet prysgee nie. Inteendeel. Dit is nou jou kans om te droom! Miskien is hierdie swaarkry jou geleentheid om jou hand te waag aan ’n verskuilde geleentheid. Dalk bak jy koekies vir die tuisnywerheid om julle finansiële las te verlig. Wie het gesê jy kan dit nie omskakel in ’n suksesvolle sakeonderneming nie?

Onthou, wat ook al gebeur het: Begrawe die verlede en moet dit nooit weer opgrawe nie. Julle is saam in dié ding. Daar is nie plek vir ontkenning, ego, trots en blaam in hierdie proses nie en om saam te staan, is jul sterkste wapen. Maak beurte om sterk te wees. Ja, jy kan ’n aksieplan in plek hê en ’n positiewe gesindheid kweek, maar die realiteit is dat dit soms gaan voel of hierdie krisis jou onderkry. As jou maat ’n “af-dag” beleef, staan in vir hom (en vice versa). En laastens: Behou perspektief. Onthou dat ook hierdie krisis net tydelik is. Neem dit dag vir dag, sent vir sent. Ondersteun mekaar en bid vir deursettingsvermoë en geduld. God het ook ’n plan met hierdie uitdaging.

’n INTIEM-leser gee praktiese raad . . .

“Neem manlief supermark toe, koop vars groente in grootmaat, berei voor en vries. Doen dit saam – dit is heerlike geselstyd terwyl jy wortels skil en hy bone sny. Sny die rooivleis uit – hoender, kekerertjies en quinoa is net só gesond met baie minder cholesterol. Spaar krag deur met ’n kers op die tafel te eet. Maak dit pret en deel die verantwoordelikheid. Hou by die begroting – maak ’n kompetisie daarvan – daar is ’n prys vir die een wat die beste bydra daartoe om by die begroting te bly. As dit ’n spanpoging is, gaan dit heel waarskynlik jul huwelik versterk.” – Yolande

 

Addisionele bronne: www.christianpf.com, familylife.com, www.crosswalk.comm, www.marriagemissions.com, www.debtdebs.com, www.drphil.com, www.imom.com.

*Vir meer inligting hieroor, stuur ’n epos aan Darrell by darrell@dsatt.co.za.