Dis lekker om getroud te wees, is dit nie? Dis nog lekkerder om gelukkig getroud te wees. Dis aaklig om altyd ongelukkig te wees en dit is ook nie wat God met die huwelik bedoel het nie . . .

Promosie

Esegiël 36:26: Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee. Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee (1983-vertaling).

Dis natuurlik en ooglopend dat daar van tyd tot tyd uitdagings op die pad van getroudes sal kom. (Ek verbaas my altyd as ek mense ontmoet wat oënskynlik nooit van mekaar verskil nie. Hulle is besonder geseënd, of hulle buig die waarheid nek om!) Dis egter ’n ander saak as daar voortdurend struweling, spanning, ontevredenheid en agterdog bestaan. Iewers is die kool die sous nie werd nie. En iewers begin jy indringende vrae vra.

Jesaja 1:18: Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here. Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.

Promosie

Ons is almal van vleis en bloed (dis grillerig, maar waar) en het almal deel aan die stukkend wat deel is van menswees. Ons is nie volmaak nie (vér daarvan af) en verander dan ook nog boonop voortdurend. Die lewe ploeg met ons en die dinge wat selfs in een dag gebeur, kan ons anders laat dink en optree. Daarom moet ons mekaar met ’n groot stuk genade hanteer.

Galasiërs 5:15: Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

Dis tragies dat ons dikwels meer genade (begrip, verdraagsaamheid, liefde) oor het vir ’n kollega by die werk, ’n vriend of vriendin, familielid of kennis, as vir ons betekenisvolle wederhelfte. Daar tree ons somtyds ongenaakbaar en onsimpatiek op. Daar faal ons by die uitlewing van die groot gebod.

Johannes 13:34: Ek gee julle ’n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

God gee ons nuwe harte. Nuwe harte is God se geskenk en uitweg aan desperate, aan die einde-van-die-pad mense. Dis gewoonlik wat skort. Die een hart is stukkend, gewond, verwond, seer, in pyn. Die ander is dikwels hard, verhard, hardvogtig, ongenaakbaar en onsimpatiek.

Uiteraard is daar uitsonderings en nuwe harte beteken nie dat dinge noodwendig altyd voorspoedig verloop nie. Selfs die Bybel beloof dit nêrens nie. Maar nuwe harte help ons en stel ons in staat om die uitdagings te oorbrug omdat nuwe harte met die kategorieë van vergifnis, verdraagsaamheid, geduld, vertroue en omgee werk. Nuwe harte maak soos Jesus sou maak, finish en klaar.

Om daardie nuwe hart te bekom, moet ’n mens na die Kenner van harte toe gaan. Jy moet erken dat jy vasgedraai is en dat die probleem jou verkalkte hart is. Net om dit te kán doen, is ’n aanduiding dat die Gees van God reeds met die werk begin het.

’n Storie oor ’n nuwe hart . . .

Die groot en eerste hartoorplanting van toentertyd is welbekend. Dr Chris Barnard het tot op daardie stadium die onmoontlike gedoen. Die pasiënt se hart was moeg. Dit kon die pas nie meer volhou nie en was besig om die pasiënt dood te maak. Denise Darval skenk toe haar hart. Om dit te kon doen, moes sy eers sterf, haar lewe aflê. Haar hart was nog lewenskragtig en gesond. Dit kon Louis Washkansky se lewensmoontlikheid en -potensiaal aansienlik verbeter. Alhoewel Louis net 18 dae geleef het met sy skenkerhart, was hy die eerste van ’n reeks suksesvolle hartoorplantings wat sou volg.

In die volheid van die tyd stuur God sy Seun om mense van nuwe harte te voorsien. Heeltemal blind en verhard maak hulle die Lewensredder aan ’n kruishout dood. Eers later verstaan hulle dat Hy doodgemaak móés word sodat daar ’n hartvervanging kon plaasvind. Sy lewenskragtige, rein, skoon, mooi, onbesmette, liefdevolle en volmaakte hart vir sterwende mense. Die oue is verby, die nuwe het gekom. As iemand in Christus is, is hy ’n nuwe mens.

Die gevaar van verwerping van die nuwe hart bestaan. Die nuwe hart moet ingeneem, opgeneem en aangeneem word. Die liggaam moet nou vrede maak met die vreemde orgaan in sy binneste. Verwerping van die Christus-hart is steeds ’n opsie. Die gevolg is duidelik: Die dood tree stadig weer in. Aanvaarding van die nuwe hart bring lewensgehalte, uitsig, ’n toekoms.

Jul harte in jul huwelik . . .

Huwelikspare het afsonderlik en gesamentlik nuwe harte nodig. Dis ’n keuse, ’n gebed en ’n lewensoriëntering. Dis die een of die ander. Lewe of dood, geluk of toenemende teëspoed.

  • Nuwe harte word uitgeleef in die manier waarop egpare met mekaar praat, asook die wyse waarop hulle mekaar dien en eerste stel.
  • Nuwe harte word duidelik as hulle verskil, liefde maak, kinders opvoed. Dit word duidelik in wat vir hulle belangrik is, asook hoe en waar hulle dien en diensbaar is.
  • Dit word duidelik in hoe hulle sosialiseer, werk, geld spandeer en vakansie hou. Dis omvattend, alles insluitend, innoverend en nuut.

Ek kan dit nie beter sê as die huweliksformulier nie: Die man en vrou moet uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig wees (Efesiërs 5:21). Respekteer mekaar. As man moet jy jou vrou liefhê soos Christus die gemeente liefgehad het. Soos Christus die Hoof van die gemeente is en Homself daarvoor oorgegee het, is jy die hoof van jou vrou en moet jy haar in liefde dien, lei en beskerm.

As vrou moet jy weet dat dit God is wat jou aan jou man verbind het, net soos die gemeente aan Christus verbind is. Soos die gemeente die Here liefhet en in gehoorsaamheid volg, só moet jy jou man liefhê en hom volg in alles wat reg en billik is.

Leef uit dit wat Christus aan julle geskenk het. Bou met liefde en in vertroue voort op die mooi dinge wat julle in mekaar gevind het. Vermy selfsug en eiesinnigheid – dit verbreek die gemeenskap tussen mense. Gee julleself aan mekaar op allerlei maniere, met erns en met humor, in gelukkige oomblikke en in moeilike omstandighede. Moenie toelaat dat iets of iemand ooit tussen julle kom nie.

Soek altyd jul krag in Christus wat die bose oorwin het. Daarsonder sal ’n huwelik nooit sy volle potensiaal bereik nie. Daarsonder gaan lewensgehalte verlore, soos in die geval van Louis Washkansky voor sy hartoorplanting.

 

Deur Ds Jannie Pelser, organiseerder van Nuwe Hart Stigting: (011) 665 2017/www.nuwehart.co.za.