Een van die intiemste dinge wat paartjies saam, maar ook vir mekaar kan doen, is om te bid. Maar wát bid ek vir my maat? Hoe bid ek vir my maat as hy of sy my vies maak? Waar begin ’n mens bid vir jou huwelik in jou dol lewe?

Promosie

Faith Durie, besturende direkteur van Faith Durie Kussings (soos gesien op die TV-program Geloof, Hoop en Liefde), sê dit is belangrik om eerstens te verstaan wat gebed beteken, voordat jy kan verstaan wat gebed in jou huwelik kan beteken. “Gebed beteken outoriteit, oorwinning, beskerming, liefde, verhouding, openbaring, intreding, gesprek met God, genesing en seën,” vertel sy.

“In ons huwelik van 20 jaar het ons die swaar en lekker, die hartseer en blydskap, asook die aanslae, terugslae en oorwinning beleef. Dit bring my by wat gebed beteken vir ons as man en vrou in ons huwelik. Vir my man skep dit die ruimte waar hy in ’n dieper verhouding staan met homself, God en waar hy sy outoriteit wat God aan die man toegedeel het in Genesis kan bevestig. Ek besef net my rykdom is in my man wat die Here aanbid!”

Haar man, Dawid, stem saam: “Vir my as man versterk en bemoedig dit my as my gesin en veral my vrou vir my bid, want dit bevestig ook ons geestelike verbintenis en dit versterk weer ons huwelik as eenheid en instelling.”

Promosie

Faith en Dawid se wenke:

  1. Begin die dag deur saam te bid (man en vrou).
  2. Bid ook as gesin saam voor die dag begin.
  3. Wees sensitief vir jou gade se gemoed en bid in die Gees vir hom/haar indien jy nie fisies daar is nie.
  4. Bid vir jou gade as sy/haar gesondheid nie goed is nie om sodoende in te tree namens hom/haar.
  5. Bid in die Gees indien jy en jou gade in ’n konfliksituasie is en vra God se wysheid en insig.
  6. “Ons bid ook oor ons finansies, veral as daar iets aangekoop moet word – Hy is tog die bron van ons lewe en beursie!”
  7. “Ons kinders kniel saam met ons op ons gebedskussings. Hulle weet ons kniel by Jesus se voete om die dag reg te begin. Niks kan begin of werk sonder Hom nie.”

Doen wat God vra

Ds Bennie Mostert, skrywer van verskeie boeke oor gebed en onder andere ook die boek Doelgerigte gebed, sê dit is belangrik dat huweliksmaats eerstens hul eie lewe in lyn met God se opdragte vir jou as man/vrou in die huwelik moet kry. “Jy kan nie met vrymoedigheid voor God staan en vir jou huweliksmaat bid as jy nie doen wat God van jou in die huwelik vra nie.”

Bennie beklemtoon ook dat jy doelbewus moet kies vír jou huweliksmaat, selfs al hou jy nie op daardie oomblik meer van hom of haar nie. Dit is onmoontlik om met die regte gesindheid vir jou huweliksmaat te bid as jy nie onvoorwaardelik vir jou huweliksmaat en huwelik kies nie. Jy moet ook met eerlike en suiwer motiewe bid. Die regte motief is dat jou huweliksmaat se lewe God moet eer en nié dat God sy/haar lewe moet verander sodat jou lewe beter of lekkerder kan wees nie. Moenie jou eie selfsugtige begeertes bó die regte motiewe stel nie.

“Luister na God, vra vir Hóm wat jy moet bid. Ons val te dikwels net weg met gebed, maar vra nie vir God, die Skepper van jou huweliksmaat, wat ons vir hom of haar moet bid nie,” sê Bennie.

“God se standaard vir jou huwelik moet jul gebedsdoelwit wees, niks minder nie, en omdat julle twee voor God een is, moet jy ook nie jou huweliksmaat aankla voor God nie. Sonder liefde in jou hart kan jy nie bid nie. Kies om jou maat lief te hê, dan sal jy passievol kan bid vanuit ’n hart vol liefde,” sê Bennie. Hy gee raad oor wat om vir jou vrou of man te bid:

 

Wat bid ek vir my vrou?

  • Dank God vir jou vrou en seën haar.
  • Bid vir:
  • Haar vrouwees, haar ma-wees en haar verhouding met die kinders.
  • Haar werk en al haar verantwoordelikhede
  • Al haar verhoudings met vriendinne, kollegas, familie en vreemdelinge.
  • Geloofsgroei en ’n heilige lewe.
  • Haar vrese en bekommernisse.
  • Haar beskerming, krag en gesondheid.
  • Haar geestelike gehoorsaamheid.
  • Haar seksualiteit en haar rol as huweliksmaat en vriend.
  • Vir die wete dat sy waarde het.
  • Vra jou vrou: “waarvoor kan ek vir jou bid” en sit dit by jou lysie

 

Wat bid ek vir my man?

  • Dank God vir jou man se rol in die huis en seën hom.
  • Bid vir:
  • Sy rol as eggenoot, pa en hoof van die gesin.
  • Sy werk en al sy verantwoordelikhede.
  • Hom vir die hantering van sy eie en jul gesin se finansies.
  • Die beskerming van sy denke, ook teen versoekings.
  • Sy seksualiteit, reinheid en selfbeeld.
  • Al sy planne en drome.
  • Sy prioriteite en sy toekoms.
  • Vervulling van die Gees en die keuses wat hy daagliks moet maak.
  • Sy invloed op mense, en die wysheid en raad wat hy aan ander moet gee.
  • Dat hy sy hart met jou sal deel en jou sal toelaat in sy leefwêreld.
  • Vra jou man: “waarvoor kan ek vir jou bid” en sit dit by jou lysie

Om nié vir jou maat te bid nie, is soos om die stadsmure onbewaak te laat. Help jou maat deur hom of haar in gebed aan God op te dra, sodat julle ook sáám kan vashou aan gebed vir jul huwelik en lewe. Géén verhouding kan gebou word sonder kommunikasie nie, so bou jul eie verhouding sowel as jul verhouding met God deur voortdurende gebedskommunikasie.