Jou dogter staan op trou. Sy is sielsgelukkig en beplan opgewonde aan elke detail, maar jou hart is soos ’n swaar klip, want jy glo sy maak die grootste fout van haar lewe. Moet jy haar waarsku en die risiko loop om jul verhouding te belemmer?

“My dogter trou oor ’n paar maande,” skryf Francien, ’n INTIEM-leser. “Terwyl dit veronderstel is om die gelukkigste tyd van haar lewe te wees, is dit vir my as ouer verskriklik swaar. Ek weet sy maak ’n fout. Nie net omdat sy maar slegs 24 jaar oud is en heeltemal te haastig is met hierdie lewensbelangrike besluit nie, maar ook omdat ek tekens van my eksman in haar verloofde raaksien.

“Sy humeur is baie kort en hy praat soms sonder respek met haar. Sy lag dit af, maar ek weet dat as die trouklokkies eers gelui het en die druk van realiteite soos finansies en kinders daar is, dinge gaan vererger. Ek wil my kind nie in ’n ongelukkige huwelik sien staan nie, maar ek weet dat as ek haar gaan waarsku, dit meer skade as goed gaan doen. Sy het nog altyd ’n rebelse streep gehad en as ek vir haar sê sy moenie met hom trou nie, gaan dit haar aanspoor om my juis verkeerd te bewys.

“Sy besef nie dat ek net die beste vir haar wil hê nie. Ek sluk nou maar aan my emosies en probeer haar bystaan in hierdie tyd in die hoop om ons verhouding te bewaar sodat sy my sal kom vertel as dinge tussen hulle sleg gaan, maar ek wens haar nie ’n egskeiding toe nie en bly skuldig voel omdat ek nie iets sê nie.”

Moet jy praat?

Dié leser skryf namens soveel bekommerde ouers wat die tekens van ’n verkeerde lewensmaat raaksien en nie weet hoe om hierop te reageer nie. “As jongmense dolverlief is, kan dit regtig mal voorkom vir die volwassenes rondom hulle,” meen dr Marie Hartwell-Walker, ’n sielkundige en gesinsterapeut.

“Wanneer dit gebeur, word ouers uitgedaag tot die diepte van hul siele. Is jou liefde vir jou kind groter of kleiner as jou toewyding aan ’n mening, geloofstelsel of waardestelsel? Is jou kind se keuse só teleurstellend of teenstrydig met hoe jy haar grootgemaak het dat jy nie op ’n manier vrede hiermee kan maak nie? Dis nie maklik nie.”

Jy glo dat die afkeur wat jy uitspreek jou kind tot haar sinne sal bring, maar ’n kind wat dolverlief is, word nie vinnig tot haar sinne gebring nie en as jy haar dwing om te kies tussen jou en haar verloofde, gaan jy waarskynlik nie gelukkig wees met haar keuse nie.

Natuurlik kan jy nie net stilbly en maak asof alles perfek is nie – veral nie as jy tekens van mishandeling, dwelmverslawing of ontrouheid by hom raaksien nie. Maar die geheim lê by hóé jy dit doen. En as jy mooi met haar gepraat het en sy haar keuse gemaak het, berus die besluit by jou as ’n ouer en wyser persoon om vol genade en openhartig te wees rakende haar keuse.

Wat nié gaan werk nie

’n Ultimatum gaan nie werk nie. As jy weier om die troue by te woon, voorwaardes stel en openlik vyandig teenoor hom is, gaan jy ’n wig tussen jou en jou dogter indryf. Wil jy boonop werklik eendag uitgesluit word uit jou kleinkinders se lewens?

As jy glo dat jou dogter ’n fout maak, wil jy tog ’n oog kan hou, dáár wees as sy val en haar help om op te staan. Maar as jy haar afgeskryf het (of sy vir jou), is dit nie ’n moontlikheid nie. “Romantiese liefde is kragtiger as lojaliteit teenoor ouers, ten minste aan die begin van ’n blosende nuwe romanse,” meen Marie op www.psychcentral.com.

  1. Plant die saadjie. Gesels één keer ernstig met jou kind. Praat kalm oor dít wat jou kwel en vertel haar dat jy bekommerd is oor haar geluk. Vertel haar wat die redes is wat jou laat dink sy neem ’n verkeerde besluit. Luister met respek na haar menings en moenie op die verdediging wees nie. Moenie kwaad word of haar dreig nie. Sodra sy negatief optree, laat vaar die gesprek.
  2. Ontsyfer die raaisel. Jy kan nie verstaan wat jou dogter in hom sien nie, maar vertrou dat jy haar goed grootgemaak het. Daar is dalk positiewe eienskappe in dié persoon wat jy nog nie raaksien nie. Luister mooi na haar wanneer sy oor hom praat en doen moeite om haar nuwe maat goed te leer ken. Probeer hom uit haar perspektief sien. Nooi hom na familie-etes en gesinsuitstappies. Gesels met hom oor wat hy in die toekoms sien. Jou benoudheid mag dalk net verdwyn of jou kind sal self die dinge raaksien wat jou bekommerd maak.
  3. Berei die verloofde paartjie voor. Die lewe is nie maanskyn en rose nie en as hulle self hul potjie gaan begin krap, gaan dinge taaier wees as nou. Jy hoef nie verdoemend te wees oor die huwelik nie (móét asseblief nie!), maar praat breedweg oor die huwelik se eise sodat hulle dink oor wat ná die lekker troue voorlê en seker maak of dít die persoon is saam met wie hulle hierdie paadjie wil stap (veral as hulle op ’n jong ouderdom die besluit neem om te trou).
  4. Sien die silwer randjie. Die meeste kenners is dit eens: Sluit die nuwe maat eerder in as uit. Hê ’n oop gemoed teenoor haar verloofde en wys hom foto’s van jou dogter se kleintyd. As hy sien hoe belangrik jou kind vir jou is, sal hy dalk veiliger voel om sy gevoelens ook met jou te deel en só kan jy die rou, eerlike persoon agter die masker sien. Onthou hy ontmoet sy aanstaande skoonouers. Hy het dalk ook ’n idee dat julle nie van hom hou nie en dit kan nie vir hom maklik wees nie.
  5. Weet wanneer is genoeg genoeg. As jou kind ’n volwasse persoon is, kan sy haar eie besluite neem en haar eie foute maak. Dit is moeilik vir jou as ouer om toe te kyk, ja, maar maak die beste van ’n slegte saak. Gee jou kind al jou liefde. Soms weet ons as ouers die beste, maar ook nie altyd nie.
  6. Onthou: Mense en verhoudings verander. Ann Blumenthal Jacobs, Patricia Lampl en Tish Rabe, outeurs van Love for grown-ups: The garter brides’ guide to marrying for life when you’ve already got a life, skryf dat mense grootword, rustig raak en dat omstandighede verander. Een van die bruide waarmee hulle gesels het, het gesê: “My ma het my eenkeer gesê dat niemand werklik weet wat in ’n ander een se huwelik aangaan nie en dit is vir my waar van my seun en sy vrou. Wie weet hoekom hulle oor die weg kom? Maar hulle lyk regtig gelukkig.”
  7. Moenie jou kind in die middel plaas nie. Sy hoef nie te kies nie en behoort te weet jy is áltyd daar, ongeag van haar besluit. As sy trou en dit gaan sleg, moet jy steeds die een wees na wie sy draai. Sy moet kan weet dat jy nie gaan sê “I told you so” nie, maar dat jy haar onvoorwaardelike vangnet sal wees.

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.huffingtonpost.com, www.myfoxhouston.com.