Elke huwelik staan broos voor die aanslae van die bose. Ja, die duiwel wag net vir jou om jou skild een keer te laat sak sodat hy jul kosbare verhouding kan takel. Sorg dus dat jy die oorlog slaggereed binnegaan . . .

Het jy al ooit iets baie waardevol besit? Dalk jou ouma se diamantring wat jy geërf het of ’n duur goue horlosie? Hoe pas jy daardie waardevolle besitting op? Jy maak dit gereeld skoon, verseker dit en bêre dit selfs in die kluis wanneer jy dit nie dra nie. Jul huwelik en die liefde wat daaruit vloei, is baie kosbaarder as enige materiële besitting. Maar hoe beskerm en versorg julle jul huwelik?

Die geestelike wapenrusting waarvan jy in Efesiërs 6:10-20 lees, kan julle ook van toepassing maak op jul huwelik. Julle móét hierdie geestelike geveg ook vir jul huwelik veg. Geen rugbyspeler daag by ’n wedstryd op met kaal voete, ’n uitgewaste T-hemp en slaapbroek nie. As jy die regte geestelike klere aantrek, is ’n deel van die stryd al gewonne. Hier is praktiese wenke hoe om die geestelike wapenrusting in jul huwelik te gebruik.

Die waarheid as gordel om jul heupe

Promosie

Moenie toelaat dat leuens, halwe waarhede, wit leuentjies of selfs stilbly oor noodsaaklikhede waarvan jou maat moet weet, jul huwelik verwoes nie. Leuens is nie klein jakkalsies nie – nee, dis wrede wolwe wat jul huweliksvreugde kan steel. Laat die waarheid, hoe moeilik dit ook al soms gaan wees, altyd in jul huwelik seëvier. Die vertroue wat waarheid, ongeag die impak daarvan, in jul huwelik skep, sal uiteindelik vir julle iets word waaraan julle kan vashou. As jy wéét jy kan jou maat vertrou, is agterdog nie langer ’n loseerder in jul huis nie. Net soos wat ’n gordel jou klere bymekaarhou sodat jy beweeglik is en nie struikel nie, sal die waarheid keer dat leuens julle laat struikel. Pas dit prakties toe deur selfs in die kleinste dingetjies getrou te bly aan die waarheid. Moet nooit jou maat om die bos lei nie, onthou: Die waarheid maak vry.

Vryspraak as borsharnas

Jou hart is ’n maklike en oop teiken. As julle albei as gelowiges die versekering het dat God julle waarlik vrygespreek het, is daardie vryspraak ’n broodnodige en absoluut noodsaaklike borsharnas wat jou hart sal beskerm. Dit bemagtig jou om te weet dat God jou vrygespreek het. As albei huweliksmaats as vrygespreektes leef, wéét julle dat julle harte veilig is. Soos Spreuke 4:23 sê: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Beskerm jou hart deur elke dag jou maat te kies. Moet nooit jou huwelik met ander s’n vergelyk nie. Moenie wroeg oor ou koeie nie, praat sake uit, vergewe mekaar en dra sáám aan mekaar se laste. Moenie boekhou van mekaar se foute en misstappe nie, help mekaar om as vrygespreektes te leef.

Die Evangelie van vrede as skoene

As gelowige word jy die taak opgelê om die Goeie Nuus van vrede te verkondig. Hoewel dit ’n groot verantwoordelikheid is, moet julle nie toelaat dat julle daardeur ontmoedig word nie. Getuig ook teenoor jul vriende en familie van God se vrede wat alle verstand te bowe gaan, wat julle ook in jul huwelik ervaar. God se vrede is soveel dieper as oppervlakkige, wêreldse vrede.

Geloof as skild in die hand

Gebruik jul geloof as skild om te keer dat daar in tye van swaarkry en teëspoed brandpyle is wat julle tref. Vir julle as huweliksmaats beteken geloof om ál jul vertroue op God te plaas, om in alle vlakke van jou lewe op God te vertrou in die wete dat Hy sy hand oor julle hou. Tel daardie skild op. Moet dit nie as ornament gebruik of laat stof vergader in die stoorkamer nie. Nee, neem élke dag jul geloofskild saam, want julle weet nooit wanneer gifpyle julle onverhoeds betrap nie.

Verlossing as helm

Jul verlossing in Jesus Christus moet jul koppe (en veral ook jul gedagtes) beskerm. As jy wéét dat jy verlos is, sal jy jou nie deur jou natuurlike aard laat beheer nie. Moenie twyfel aan God se verlossing vir jou en jou maat nie.

Swaard van die Gees

God gee die swaard van die Gees deur middel van sy Woord. Hy help jou nie net met ’n verdedigingsmeganisme nie – nee, Hy gee vir jou ’n aanvalswapen. Leer ken hierdie swaard, oefen sodat jy goed vertroud is daarmee wanneer die vyand jou konfronteer. As huweliksmaats is julle ’n span en albei spanmaats het ’n swaard. Dink net wat julle met twéé swaarde kan uitrig om seker te maak die vyand bekruip julle nie. Lees saam Bybel, maar lééf dit ook saam. Leer ken die Woord, bid Skrif vir mekaar. Laat die Bybel jul dade en gesindheid veral ook in jul huwelik rig.

Die wapenrusting is nie volledig as julle as huweliksmaats nie ook saam bid nie. Doen alles wat julle aanpak biddend. Julle bid nie net vir julleself nie, maar ook vir medegelowiges, vriende en familie. Geklee met die volle wapenrusting, sal jul huwelik gereed wees vir enige aanslag wat kom!

 

Deur Lize Groenewald

Bronne: Die Afrikaanse Bybel, 1983-vertaling; Die Bybel in Praktyk; Die Bybellenium – ’n Een-volume kommentaar.