“Ek wil net graag vra: As die Pil sleg is vir jou libido, watter ander opsie sal die beste wees? Ek is twee jaar getroud en het nog nie kinders nie.”
DR WILME STEENEKAMP, ’N MEDIESE DOKTER, SIELKUNDIGE TERAPEUT EN SEKSUOLOOG WAT SPESIALISEER IN INDIVIDUELE TERAPIE EN VERHOUDINGSTERAPIE, ANTWOORD:
Ek sou graag meer wou weet van wat jy alles ervaar, want ek lei af dat jy ervaar dat jou libido laag is? En ek lei af dat jy graag kinders wil hê op ’n latere stadium, maar nie nou nie, en dat dit is hoekom jy voorbehoeding wil gebruik?
Verder sou ek graag wou weet of jy enige ander medikasie gebruik wat ook jou libido kan beïnvloed en of daar dalk ander faktore is wat ook jou libido kan beïnvloed. Ek sou ook graag wou weet watter pil jy spesifiek na verwys – daar is baie tipes en hulle verskil baie van mekaar.
Dit is moontlik dat sommige hormonale behandelings (soos die Pil) wel sommige individue (dus nie almal nie) se libido kan beïnvloed. Dan is die beste raad ongelukkig dat ’n mens moet eksperimenteer met ’n pil waarvan die samestelling heelwat van daardie een verskil.
’n Mens probeer dus ’n ander pil, maar een wat juis anders werk, om te sien of dit sake verbeter. Jy moet so drie maande kans gee met ’n nuwe pil om die volle uitwerking daarvan te kan sien, aangesien ’n mens se hormonale stelsel lank vat om op ’n verskil te reageer en volledig aan te pas.
Ek sou, as ek jy was, my dokter gaan sien en die situasie met hom bespreek, sodat hy seker kan maak dat hy ’n ander soort voorbehoeding voorstel wat nie op dieselfde manier werk nie.