Flirts meen flankeer is doodonskuldig. Dan is daar diegene wat glo dat daar niks onskuldig aan flankering is nie. Een ding is seker – om te flankeer met jou huweliksmaat is ’n seker manier om die liefde aan die brand te hou!

Promosie

Elkeen van ons ken haar. Sy is die bokkie met die sexy rokkies en die girl-next-door-voorkoms. Om die een of ander rede verrek al die mans in ’n vertrek ’n nekspier wanneer sy binnestap. Sy lyk eerder soos Jodie Foster as Angelina Jolie, maar haar naels is eksieperfeksie en haar hare onopgesmuk, tog verleidelik genoeg dat enige man graag sy vingers daardeur sal wil trek. Dit gaan egter nie oor haar voorkoms nie. Iewers in haar houding is daar net iets wat maak dat sy baie tuis sal wees in ’n T-hemp met die woord “Flirt” daarop gedruk. Tien minute in haar geselskap en jou man is klei. Jy weer is minder mal oor haar, want ewe skielik antwoord hy jou met ’n wasige uitdrukking op sy gesig. Jy verwens die merrie, maar heimlik wens jy jy was sy!

Ons almal doen dit soms. Van die graadtwee-seuntjie wat sy wimpers fladder en ’n kuiltjie-glimlag vir sy woedende juffrou gee tot die universiteitstudent wat nie graag vir haar eie drankies wil betaal nie.

Noem dit emosionele omkopery as jy wil, maar die eintlike woord is flankeer. Skud jy jou kop as jy hier lees? Dink dan mooi wat jy gedoen het die laaste keer toe jy die spoedgrens oorskry het en ’n manlike verkeerskonstabel nader gestap het. Hmmm. Jy het waarskynlik in jou truspieëltjie gekyk, omdat jy geweet het jy gaan jou voorkoms, sjarme en rooi lipstiffie laat werk om ’n aardige boete te ontsnap. Ongelukkig was dit weer jy wat aan die onderspit gedelf het toe jy en manlief onlangs saam gaan uiteet het. Die kelnerinnetjie het elke truuk in die boek gebruik om jou man aan haar kant te kry vir ’n lekker vet fooitjie (en dit het gewerk!).

Promosie

Die kuns van flankeer is iets wat vir sommige mense natuurlik kom en ander mense moet aanleer. Miskien is dit hoe jy manlief aan jou hoek laat byt het of hoekom julle vandag steeds ’n vurige verhouding het. Flirting is nie opsigtelik nie. As jy eerlik en reguit is oor jou begeerte om seks te hê met iemand, flankeer jy nie. Dit is eerder ’n vae skimp tot ’n moontlikheid. Vir baie mense gaan flankeer net oor die plesier om daaruit aandag te kry. “Om te flankeer is ’n baie menslike manier van interaksie,” meen die Pretoriase seksuoloog dr. Wilmé Steenekamp. Prof. Christo Lombaard, ’n dosent in Christelike Spiritualiteit aan UNISA, beaam dit en voeg by dat dit heeltemal natuurlik en gesond is. Wilmé se: “Dit is amper ’n manier van speel of grappies maak. Soms het dit natuurlik ’n onderliggende bymotief – om te vlei, te beïndruk of te verlei.” Sy sê die rede waarom dit vir mense so lekker is om te flankeer, is omdat dit ’n speletjie of uitdaging is wat gewoonlik wedersyds is, omdat hulle daardeur gevlei voel, dit prettig is en die persoon wat flankeer, raakgesien word, hetsy vir haar menswees, sin vir humor, intelligensie of voorkoms.

Is dit okay om te flankeer? Sommige mense is natuurlike flankeerders en terwyl daar situasies is waarin ’n ligte flankeerdery heeltemal aanvaarbaar is, is daar ander situasies waarin dit is soos om met vuur te speel. Vir ongetroude vroue is flankeerdery dikwels ’n middel tot ’n doel – om ’n ring aan jou vinger te kry! Hoewel dit nie noodwendig so is nie en flankeerdery ook bloot niksseggende pret kan wees. Getroude mense behoort baie versigtiger te wees. Jy kan jou byvoorbeeld afvra of dit reg is om ’n goeie manlike vriend te hê waarmee jy grappies maak en tyd saam deurbring. Hoewel die antwoord hierop lank en omslagtig is en ’n artikel op sy eie regverdig, is die kort antwoord die volgende: As jy, jou man en die vriend lekker kan saam kuier, is dit in die haak. As jy egter huiwerig is om die vriend na jou huis toe te nooi terwyl jou man daar is, nie graag jou man saam op uitstappies wil neem en jy en hy grappies maak waarby jou man nie ingesluit is of wat hy nie verstaan nie, flits die rooi ligte.

So, waar moet ’n mens die streep trek as dit by flankeerdery kom? Dit is ’n vraag wat jou dwing om te wonder oor die hele aard van so ’n interaksie, meen Wilmé. “Hoe beland ’n mens in so ’n situasie dat dit dan nou nodig sal wees om ’n streep te móét trek? Die waarheid van die saak is dat dit een van die lokvalle is waaraan die mens gedurig blootgestel word – dit kan net nie anders nie. Min mense sal aan die einde van hul lewe kan sê dat hulle nog nooit in die versoeking was van aangetrokke voel (op watter vlak ook al) tot ’n ander persoon (en nie noodwendig hul lewensmaat) nie.

Met ander woorde, ’n mens is maar somtyds in die posisie dat jy op dun ys beweeg en vra: “Watter kant toe gaan ek?” of “Wat kies ek?” of “Hoe op aarde het ek hier beland” en “Waar hou ek op?” Kyk jy na die laaste vraag is dit soms moeilik, want dit is so lekker om te flankeer. “Ons weet nou net uit ondervinding van die mens dat wedersydse flirtasie wat onbeheersd voortgaan, meer vleiend of meer uitlokkend of meer van ’n uitnodiging tot méér word. In ’n stadium vind daar geringe fisieke kontak plaas (soos om aan mekaar se arms, bene en hare te raak). Daar vind dikwels baie oogkontak plaas en baie nie-verbale kommunikasie wat verder tot hierdie spel uitnooi. Iewers langs die pad kan daar ’n geweldige begeerte ontstaan om met hierdie persoon seksuele interaksie te hê,” verduidelik Wilmé. “Dit gebeur nou maar net so – dit is een van daardie ongeskrewe reëls van menslike interaksie. Dit is ook so dat dinge dikwels baie vinniger van die een stap tot die volgende stap vorder wanneer ons lag en kuier en beslis wanneer ons alkohol gebruik en die inhibisies makliker by die deur uitvlieg!”

Volgens Wilmé is die enigste manier hoe jy kan weet waar om jou streep te trek, om hierdie deel van jou menswees te ken, te verstaan, te erken en te herken. Op dié manier kan jy jouself afvra waar jy die streep vir jouself gaan trek. Daarom moet jy jouself goed genoeg ken sodat jy vooraf kan besluit dat as jy ooit in ’n spesifieke situasie beland, jy jou streep op ’n spesifieke punt sal trek, byvoorbeeld: “Ek sal nie fisieke kontak maak nie,” of: “As ek ooit só oor iemand voel, sal ek nooit saam met hom sit en drankies drink nie.”

Wilmé se ook om dit te verstaan, moet jy jouself ook afvra: “Hoekom sal ek kwesbaar wees om nié my streep betyds te trek nie?” Sy meen dit is waar die groot probleem lê. “Sommige mense is meesal baie kwesbaar weens hul verhoudingsgeskiedenis of hul persoonlikheid. Die meeste mense is vir periodes in hul lewens kwesbaar. Dit gebeur miskien omdat hulle tans verhoudingsprobleme ervaar, ver weg is van die huis af en nie goed funksioneer wanneer hulle alleen is nie of baie stres beleef en nie weet hoe om dit te hanteer nie. Om jou eie kwesbaarheid te kan bepaal, moet jy baie eerlik binne jouself kan kyk. ’n Mens moet sommer weet: As ek kwesbaar is, moet ek my streep gouer trek, die situasie vermy of my streep vir myself duideliker uitwys. Om te ver oor die streep te flirt, is nie moeilik om oor te kom nie. As jy die moontlike implikasies van so iets wil voorkom, moet jy maar selfondersoek doen en jou grense bedink,” sê Wilmé.

Daar is gevalle waar flirt heeltemal taboe is. Soos wanneer julle sosiale geleenthede bywoon net om na die tyd, in die kar, hewig te baklei omdat jou maat meen jy het geflankeer en jy meen hy oorreageer. As julle albei natuurlike flirts is en okay is daarmee dat die ander een flankeer, maak minstens een keer vroeg tydens ’n sosiale geleentheid ’n gebaar wat aan ander mense wys dat julle ’n paartjie is, soos om jou hand op sy skouer te plaas. En as jy iemand is wat nie daarvan hou as jou maat flankeer nie, praat met hom daaroor en moet jouself nie in wraak-flankeerdery verloor nie – jy gaan dit nie geniet nie en jy gaan nie die reaksie kry waarop jy gehoop het nie. As een van julle ongemaklik voel met die situasie, moet die ander een onmiddellik daarmee ophou, al voel hy/sy dit is ’n onskuldige speletjie. Die veiligste is om nie te flankeer as jy nie romanties in iemand belangstel nie – jy kan die ander persoon per ongeluk aanleiding gee wat kan lei tot verleentheid en ongemak ná die tyd. Moet dus liefs nie flankeer as jy getroud is nie, tensy jy dit voor jou maat doen en julle albei daaroor kan lag.

Verder dui geheime boodskappe, telefoonoproepe en WhatsApps nie op onskuldige flankeerdery nie. As jy oop is met jou maat, is daar nie ruimte vir hom om agterdogtig te raak nie. As jy dit wegsteek, doen jy iets verkeerd.

As jy nié getroud is nie, moet jy op die volgende let: Daar is ook ander gevalle waar ’n flankeerdery ongepas is. By die werk is dit ’n definitiewe nee. As jy egter glo daar is niks mee verkeerd nie, let op die volgende: Moet nooit met jou baas flankeer nie, hou jou flankeerdery privaat, moet nooit aanhou as iemand jou gevra het om op te hou nie en moenie met jong internskap-studente flankeer nie. Moet ook nie flankeer met iemand wat probeer werk nie. Christo meen: “As ’n mens flirt te ver voer in die werkplek, kan dit jou dúúr te staan kom. Net so as jy dit in ’n winkel of iewers anders oordoen. Jy wil nie uiteindelik met ’n dik geswelde oog of ’n hofbevel sit nie!” By die werk is interaksies soos glimlag, giggel of ’n vinnige aanraking skadeloos (mits dit nie met intensies gepaard gaan nie), maar wanneer daar grappe gemaak word oor seksuele intimiteit, na-ure afsprake gemaak word, of jou kollegas gemasseer, gedruk of gesoen word, het jy te ver gegaan (www.nytimes.com).

’n Flankeerdery is soos komplimente – dit moet eg wees en nie verskuil nie. As jy flankeer, moet dit gepas wees. Moenie probeer om te flankeer in ’n biblioteek of nagklub waar julle mekaar nie kan hoor nie. Begrafnisse is ook nie ’n goeie plek om te flirt nie! En onthou: Om humor te gebruik is ’n goeie manier om met mense te flankeer, maar probeer om nie enige grappe te maak wat die ander persoon kan ongemaklik maak nie. Vuil grappe het nie ’n plek in enige gesprek nie en kan die ander persoon afsit, die bui bederf en jou ongemaklik laat voel. Dink voordat jy praat en onthou dat jy nie altyd snaaks hoef te wees nie.

En as jy getroud is, let op die volgende: “Dit is baie belangrik om tog nooit op te hou flirt met jou huweliksmaat nie,” sê Christo. “Probeer ’n ligte insinuasie wat nét hy sal snap terwyl julle saam met mense kuier, ’n vinnige knypie op die boud tussen die winkelrakke, ’n onverwagse geskenk op die kopkussing (as jy weet ’n boek het ’n paar stomende tonele in, kan dit nogal ’n ‘produktiewe’ flirt-geskenkie wees…), ’n kort skelmrige e-pos, iets soos ‘My mond proe na jou…’”

Dit is veilig en wonderlike doepa vir jul huwelik om met jou eie man of vrou te flankeer – jy móét dit doen. Dit is ’n manier om vir hom te wys jy sien hom steeds raak, jy vind hom aantreklik en interessant. As julle al ’n lang tyd saam is, is dit maklik om mekaar as vanselfsprekend te aanvaar en op te hou met daardie subtiele seine wat sê: “Ek is lief vir jou en jy is spesiaal.” te stuur. Deur met jou eie maat te flankeer, kry jy ’n soort versekering teen verhoudingsprobleme soos verveling en wrewel. As jy regtig inspirasie nodig het, kyk When a Man Loves a Woman se openingstoneel, waar Alice (Meg Ryan) in die openbaar met haar man Michael (Andy Garcia) flankeer terwyl die twee maak asof hulle mekaar glad nie ken nie en later tot almal se verstomming saam daar uitstap.

Jy kan dieselfde doen, of probeer bloot die volgende: Laat hy jou vang terwyl jy besig is om ’n huishoudelike taak te doen wat jy weet hy haat om te doen. As julle by ’n partytjie vol aantreklike mense is, kyk deur die vertrek en laat jou oë op hom rus. Moet dan vir niemand anders kyk nie. Dra iets wat jy weet hy van hou en kyk in sy oë wanneer jy met hom praat. En baie belangrik: Vertel hom wát presies dit is wat jy van hom waardeer.

Wanneer jy flankeer, is dit belangrik om jouself te geniet en speels en spontaan te wees. Wys hom jy is nie ’n ystervrou nie en dat jy ook weerloos kan wees. Dit is belangrik om te luister. As jy werklik luister, sal jou maat tot jou aangetrokke voel. En hoeveel keer per dag kyk jy werklik na hom en sien hom raak? Onthou jy hoe dit gevoel het toe jy op hom verlief was? Onthou jy hoe jy hom gesoen het asof jy al die tyd in die wêreld gehad het? Hou vas aan daardie gevoel en flankeer asof jy dit bedoel. (www.romanceyourhusband.com).