Ek en my kêrel is nou al 12 jaar in ’n toegewyde verhouding. Ons woon al 11 jaar saam, en hy was die eerste persoon saam met wie ek geslaap het – en ek vertrou ook die laaste een! Ons beplan wel om te trou en wil baie graag kinders hê. Ons word albei 30. Ons ondersteun mekaar deur alles – die enigste rede hoekom ons nog nie getroud is nie, is omdat ons baie reis vir werk. Ons is tans op St Helena-eiland besig met ’n projek. Is dit dan nou ’n sonde?
Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters en sprekers, sê:
Die eerste vraag wat ons wil vra, is: “Hoekom is julle nog nie getroud nie?” Ons hoor jy dui aan dit is omdat julle baie rondreis, maar ons glo nie dit gaan noodwendig verander as julle getroud is nie. Wees bewus daarvan dat die huwelik nie ’n plek is waar alles 100% werk soos wat jy dit wil hê nie en dat daar baie dinge is wat druk op ’n huwelik kan plaas. Julle is reeds committed aan mekaar en staan al vir 12 jaar saam, julle sal beslis die druk van rondreisende werk kan hanteer in ’n huwelik.
Voorts dink ons julle moet net weer oor hierdie vraag met mekaar praat, want dalk is dit nie die werk wat julle weghou van trou nie, maar iets anders. Ons is seker dat julle wel die probleme in ’n verhouding kan hanteer, anders sou julle nie vir 12 jaar by mekaar gebly het nie. Die huwelik voel soms so finaal en asof daar nie uitkomkans is nie en as jy dan nou alles het wat in ’n huweliksverhouding is, waarom dan trou? Dis dalk deel van die redenasie hoekom julle nog nie getroud is nie.
Ons glo dat die Here die huwelik ingestel het en dat Hy wil hê dat ons daardie commitment moet lig na ’n vlak waar ons absoluut prioriteit vir mekaar is en eksklusief aan mekaar behoort. Dit is die plek waar Hy ons sit om dan vir mekaar te sê dat daar geen omdraai meer is nie en dat ons alle deure om dalk uit die verhouding te kan klim met die stap om te trou toemaak.
Verder glo ons dat die huwelik die enigste plek is waar die Here ons toestemming gee om mekaar se seksuele behoeftes te vervul en bevredig. Hoekom? Die huwelik is op die hele konsep van verbond gebou en die seksuele daad is die teken van hierdie verbond. Dit is die plek waar julle en die Here in vennootskap staan en as gevolg van die verbond wat julle met mekaar en die Here het, kan julle ook na Hom toe gaan en vir Sy beskerming en seën oor julle verhouding vra. Ons dink baie keer dat die Here moet aanpas by die tye, maar Hy is gister, vandag en môre dieselfde God. Hy verander nie, ons moet weet dat wat Hy deurgegee het nog steeds staan en dat die saad wat ons saai die vrug gee van dit wat ons saai.
Die huwelik is die veiligste plek waar julle kan wees omdat julle saam met Hom daar staan. Die vraag wat jy het, is of dit dan nou sonde is. Ons antwoord in kort is dat as julle nie dit gehoorsaam wat die Here deurgee in Sy Woord nie, dan is julle besig om te sondig. Die wonderlike is egter dat julle nie op ’n plek is waar daar geen uitkomkans is nie.
Bely dat julle in sonde saam geleef het en dat julle daarmee gaan ophou. Besluit dan om julleself eers seksueel te weerhou van mekaar omdat julle nie tans in ’n huweliksverhouding staan nie en begin dadelik ’n huwelik beplan. Trou, en geniet dan alles wat Hy vir julle in die huwelik gegee het. Leef voluit, lief vir mekaar en die Here, en maak dan julle kinders in hierdie wete en kennis groot.