“My man is ‘stunning’. Daar is elke dag dag voorspel en alles. Maar ek voel nie mooi en goed nie. Ek is op antidepressante, maar wat is fout? Ek is mal oor hom. Ons is vanjaar 30 jaar getroud.”

Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters en sprekers by die verhoudingsbediening Connection Impact, antwoord:

As ons na jou vraag kyk, moet ons noem dat dit nie baie direk is nie, so ons sal na die beste van ons vermoë probeer antwoord met die inligting tot ons beskikking.

Jy dui aan dat jy gek is na jou man en dat hy baie moeite doen met julle seksuele lewe. Hiervoor kan jy baie dankbaar wees, aangesien dit lyk asof hy wel die moeite doen om jou in ag te neem wanneer dit by julle intieme lewe kom. Die woorde wat ons opval, is dat jy aandui dat jy tans op anti-depressante is en dat jy nie meer mooi of goed oor jouself voel nie.

Promosie

Ons wil vir ’n rukkie hier stilstaan. Die rede dat jy nie meer goed voel oor jouself nie of nie dink jy is mooi nie, kan wees omdat die medikasie wat jy tans gebruik nie meer die gewenste uitwerking het nie. Dit kan dalk nie meer die regte medikasie wees nie of die dosis kan dalk verkeerd wees. Ons raad sou wees dat jy jou dokter gaan sien om jou op hierdie gebied te help, indien dit die probleem is.

Die ander moontlikheid kan wees dat jy dalk ’n wonderlike sekslewe met jou man het, maar dat jou eie liefdestaal dalk nie deur hom aangespreek word nie en derhalwe kan jy voel dat jy nie gekies word in die verhouding nie. Die feit dat julle ’n wonderlike sekslewe het, is nie ’n waarborg dat jy geliefd voel nie.

As dit wel die geval is, sal jy begin twyfel aan of jy goed genoeg is of mooi genoeg is. As jou liefdestaal dalk opbouende woorde is en jou man gee nie vir jou daardie woorde nie, kan jy voel dat hy jou nie lief het soos wat dit vir jou sin maak nie. Lees gerus die boek “Five love languages” van Gary Chapman, wat oor die liefdestale handel.

As dit die geval is dat jy nie geliefd voel of gekies voel nie, sal jou depressiwiteit bydra tot die moeilike verwerking daarvan of selfs om dit aan jou man te kan verwoord.

Weet dat dit vir ’n vrou belangrik is om in ’n huweliksverhouding ten alle tye gekies te voel. Sy wil weet dat haar man haar bo alle ander vroue kies en daardie keuse laat haar geliefd voel. ’n Vrou het nodig om gereeld van hierdie keuse ingelig te word. Mans is nie noodwendig altyd bewus hiervan nie en as ’n man nie weet wat sy maat se liefdestaal is nie, kan hy hierdie basiese behoefte van sy vrou in die huwelik heeltemal mis.

Dit is egter ook altyd goed om te gaan kyk na wat jy persoonlik kan doen om jou eie omstandighede te verbeter – sodoende is jou geluk en selfwaarde nie afhanklik van ander nie.

Hier is ’n paar punte wat jy self kan inkleur soos wat dit van toepassing is in jou eie situasie:
• Maak ’n lys van die dinge waarvan jy in jouself hou en vier fees daaroor. Raak weer lief vir wie jy is en hoe die Here jou gemaak het. Jy is uniek!
• Oefen en leef ’n gesonde leefstyl.
• Kyk na jouself en jou voorkoms. Dit wat jy aan die binnekant voel, word dikwels na buite gereflekteer.
• Doen ’n slag iets kreatief.
• Sorg vir iets of iemand wat nie noodwendig vir jou dankie gaan sê nie. Wees ’n vrywilliger iewers of sorg vir diere.
• Genees die ou wonde van die verlede. Kom by iemand uit wat jou hiermee kan help.
• Vind uit wat jou waardes in die lewe is en neem eienaarskap daarvan.
• Maak ’n lys van wat jy in die lewe bereik het en vier dit.
• Bestee tyd saam met mense of vriende wat jou opbou. Vermy negatiewe mense en mense wat oor ander skinder.
• Lees elke dag iets inspirerend.
• Vind uit waaroor jy passievol is in die lewe en leef hierdie passie uit.
• Leef die lewe meer eenvoudig en rustiger.
• Hou op om tyd te mors.
• Wees bereid om vir hulp te vra. Jy hoef nie alles self uit te sorteer of ’n antwoord vir alles te hê nie.
• Moet dinge nie te veel oordink nie. Aanvaar dinge meer vir wat dit is.
• Wees gefokus op die “nou”.
• Hou aan om te leer. Behou ’n leerbare gees.
• Stel klein doelwitte en vier dit as jy dit bereik het.
• Wees lief vir ander.
• Mediteer meer oor dit wat die Here vir jou van jouself sê in sy Woord. Hier help dit om ’n joernaal te hou.

Ons hoop hierdie paar riglyne kan jou in jou soeke bystaan.