Ek is ontsaglik lief vir my man en ons het ’n wonderlike huwelik, maar my man haak vas op die ouderdom van 20, en ons is albei in ons middel-dertigs! Dis asof ons mekaar ontgroei en dit maak my baie benoud. My perfekte Vrydagaand is ’n lekker groot pizza met ’n glas wyn en dan ’n stomende sessie in die slaapkamer as die kinders almal in droomland is… My man s’n is egter om die kinders by ons ouers te gaan aflaai en ’n rowwe kuieraand deur te draf, waarna hy met sy dronk lyf iets in die bed wil doen en wat eindig met my wat nukkerig my rug op hom draai. Hy sê ek is oud voor my tyd en ek sê hy wil nie grootword nie. Het julle enige raad hoe ons hierdie jeugmonster kan deurtrap en ’n middeweg kan kry?

Promosie

Wilmé Steenekamp, mediese dokter, sielkundige terapeut en seksuoloog, antwoord:

Dit klink vir my asof julle probleem ’n verhoudingsprobleem eerder as ’n seksuele probleem is, en ek stel voor dat julle by jul verhouding en kommunikasie begin. Sê hoe jy voel deur dit as ’n behoefte te stel, nie ’n beskuldiging nie. Deel jou behoefte met hom wanneer julle rustig is. Dalk stem hy in en dalk deel hy sy behoefte. ’n Kompromie is nodig – gun hom om soms saam met sy vriende te kuier en sê dat jy nie wil hê hy moet onder die invloed bestuur nie. Iets soos: “Ek gun jou dit om saam met jou vriende te gaan kuier, geniet dit! Maar ek het ’n behoefte daaraan dat jy veilig moet wees – belowe my jy sal nie ry as jy te veel gedrink het nie. Slaap eerder oor of bel ’n taxi.” Die sleutel hier is dat jy jou behoeftes moet oordra sonder dat daar enige verskuilde beskuldigings in jou woorde, gesigsuitdrukking of stemtoon is.

Promosie