IS JY ’N GOEIE MINNAAR (OF MINNARES)? JOU OPTREDE NÁ SEKS TEL AMPER MEER AS DIE SEKS SELF. IN WATTER KATEGORIE VAL JY?

Sien die vraelys hieronder. Antwoord “Ja” of “Nee” op elke vraag. Die afdeling met die meeste “Ja’s” – dis jy daardie.

KATEGORIE 1:

  1. Ná seks draai jy op jou sy en snork soos ’n dieseltrekker.
  2. Ná seks staar jy na die plafon en fantaseer oor karre/rugby of ’n nuwe skottelgoedwasser/ die nuutste somermodes.
  3. Jy spring dadelik op, trek ’n kortbroek/kamerjas aan en loop kombuis toe om ’n hamtoebroodjie te maak/die yskas se vrieshokkie te ontvries.

KATEGORIE 2:

  1. Jy soen haar vol op die mond, komplimenteer haar op ’n goeie “vertoning” en snork dán soos ’n dieseltrekker.
  2. Julle speel ná die tyd vier minute lank voetjie-voetjie en wonder hardop of julle lus het vir nog ’n rondte.
  3. Jy staan op en draai halfpad kombuis toe om tog maar ’n rukkie te gaan cuddle.

KATEGORIE 3:

  1. Julle hoef nie eers daaroor te dink nie: Julle raak van voor af aan die vry met die onbeskaamde bedoeling om mekaar weer bloots te ry.
  2. Ná die tyd lê julle styf in mekaar se arms en wonder hardop of julle genoeg uithouvermoë het vir ’n derde keer.
  3. Julle klim ná die tweede of derde keer saam in ’n skuimbad met ’n bottel vonkelwyn en wonder elkeen hardop wat julle gedoen het om so ’n stunning minnaar te verdien.

HIER IS JOU UITSLAE . . .

As jy in kategorie 1 val, is jy ’n ysbeer! Jy wil nie in dié kategorie val nie, maar indien wel, sal jy ernstig aan jou “post nookie”-tegniek moet werk. Slegte naspel beteken dikwels dat die seks self ook aan die koue kant is. “Ysbere” is gewoonlik reeds ’n paar jaar getroud en die seksvlammetjie het stelselmatig gekwyn, maar dis nooit te laat om voor te begin nie. Ons wil nie spoke opjaag nie, maar egskeidings begin dikwels in die slaapkamer en ’n gefrustreerde seks lewe lei soms tot frustrasie in ander aspekte van die huwelik. Wat is julle probleem? Hoe moeilik kan dit wees om jou seksmaat ná die tyd spesiaal en geliefd te laat voel?

Hoe om te maak: Kyk hoe doen die vuurwarm-spulletjie dit.

As jy in kategorie 2 val, doen julle heel goed! Wees net versigtig om ’n ysbeer te word. Dalk is daar geldige redes hoekom julle ná seks nie genoeg energie het vir nog ’n bietjie sports nie: Die kinders put julle uit, lang werksure en werkstres kry julle onder, een of albei van julle se hormoonvlakke is te laag. Naspel beteken natuurlik nie noodwendig dat julle nóg seks moet hê nie: ’n Lekker vryery ná die tyd is net so belangrik soos voorspel.

Hoe om te maak: Praktiese probleme soos hierbo kan maklik opgelos word: Stuur die kinders vir ’n naweek na Ouma en Oupa toe, die meeste werkgewers het groot begrip as jy hom/haar reguit sê julle sekslewe is onder druk en dat aanpassings gemaak moet word, laat trek ’n bloedmonster en kyk wat sê hulle. Lae testosteroonvlakke kan jou moeg en bedruk laat voel én jou libido saboteer – ’n maandelikse inspuiting sal dit regstel. Skakel die kinkels uit – en kyk dan hoe doen die vuurwarm-spulletjie dit.

As jy in kategorie 3 val, is julle vuurwarm! Leeus! Kyk man, jy kook in die kooi! Oppas net vir uitbrand – dis jou eenrigtingkaartjie Noordpool toe. Piets haar met ’n kussing as sy vir die vierde keer hierdie week drie drieë in één wedstryd wil druk.

Hoe om te maak: Kyk hoe doen die ysbeer-spulletjie dit en hou aan om die teenoorgestelde te doen.

 

Deur JB Roux