Ek en my man is al 21 jaar getroud en is al 27 jaar saam. Een paartjie waarmee ons nog altyd vriende is, is die afgelope vier jaar weer intens deel van ons lewe. My man is haar man se bestuurder so hulle kuier gereeld by ons en op die oog af lyk dit of hulle mekaar mis, maar ek vermoed my vriendin is verlief op my man. Hulle deel baie belangstellings en grappies en sy is só gemaklik in sy geselskap. As sy hom groet, duur die drukkies bietjie té lank en daar is ’n paar piksoentjies op ’n slag. ’n Vrou voel sulke dinge aan en hoewel ek nie glo een van hulle sal oorgaan tot die daad van egbreuk nie, pla dit my. My man het al genoem dat hy dink sy het ’n pragtige lyf en wens ek het ook só ’n lyf gehad. Moet ek my “gut” vertrou of speel die groenoogmonster ’n groter rol?

Promosie

Elmari Mulder-Craig, seksuoloog, huweliksberader en verhoudingskenner, antwoord:

Julle is al 27 jaar lank saam. Dit tel baie punte. Ek glo egter dat jy jou gut feel moet vertrou. Dit is moontlik dat jy dalk oorsensitief is, maar jou man se opmerkings oor haar mooi lyf help nie om jou veilig te laat voel nie. Stop dinge liewer voor dit te ver gaan. Dit is belangrik dat jy die regte tyd kies en rustig met hom gesels oor jou ongemak, sonder om veroordelend of beskuldigend te wees. ’n Mens moet altyd versigtig wees om té nou en intens by vriende betrokke te raak of te veel tyd saam met spesifieke vriende deur te bring. Stel jou huwelik altyd eerste en spandeer genoeg tyd saam.

Promosie