Ek was net klaar met skool en besig met verdere studies toe ek haar ontmoet het – ’n pragtige mens. Ons het in daardie stadium glad nie ’n seksuele verhouding gehad nie en het kontak verloor aangesien sy in ’n verhouding met iemand anders was. Na my studies en weermag-opleiding, so sewe jaar, kon ek haar nooit vergeet het nie. Ek het haar gaan opsoek en haar gekry met ’n driejarige dogtertjie en so ses maande swanger. Wat my respek vir haar gegee het, is dat sy vir my gesê het sy is besig om te skei van haar man aangesien hy ’n buite-egtelike kind by ’n ander vrou verwek het. Sy het my gevra om eers terug te kom nadat die egskeiding verby is. Ons het verlief geraak en sy het by my kom bly, ek het die kinders as my eie aanvaar en grootgemaak, haar gevra om te trou – maar sy wou nie. (Haar eks het die kinders net so gelos.) Vir drie jaar het dit goed gegaan, tot ek uitgevind het dat sy ’n skelm verhouding het met ’n man wat haar pa kon wees. In die proses was ek depressief, só dat ek afgeboek is van die werk. Na trauma berading was ons weer terug by mekaar. Vir vyf jaar het dit goed gegaan, totdat sy werk by ’n pastoor gekry het. Ek het ’n gevoel gekry dat iets nie pluis is nie. Later het sy my vertel sy het gevoelens vir die man. Op dié stadium was die pastoor geskei van sy tweede vrou. Sy besigheid het tot niet gegaan, aangesien hy gevang was vir die onwettige handel van perlemoen. Sy het ander werk gekry en nie weer kontak met hom gehad nie. Alles het goed gegaan tot so twee jaar gelede – toe ek uitgevind het sy het weer ’n aanlyn-verhouding met ’n man op ’n ander dorp. Dié besigheid het al die ou wonde oopgekrap. Nou skielik het die storie uitgekom dat die pastoor einde verlede jaar ons dogter voorgekeer en uitgevra het na haar. Sy het my skielik vertel dat sy nie meer langer kan stilbly nie, dat haar gewete haar pla en dat sy destyds saam met die pastoor geslaap het. Sy sê dit was ’n fout en hy het haar aanleiding gegee. Dat dit ook net een keer gebeur het. Ek is só geskok, depressief en angstig. Ek weet net nie meer nie – ná 21 jaar voel dit of ek teen ’n muur vas geslinger is! Ek is al drie weke sonder werk en het my van die samelewing onttrek.
Gustav en Elna Muller, huweliksberaders van beterverhoudings.co.za, antwoord:
Jy het mooi drome en ’n groot verwagting vir jou en jou geliefde gehad en dit is menigmale teleurgestel. Jy is in werklikheid oor ’n lang tyd getraumatiseer en dus maak dit sin dat jy só voel. Die goeie nuus is dat daar iets aan gedoen kan word. Dit is duidelik dat die fondasie van julle verhouding heeltemal gekraak is en as julle wil werk na herstel, sal dit op fondasievlak moet begin. Julle kan egter nie nou al aan die verhouding begin werk nie. Julle sal eers elkeen vir ten minste drie maande vir individuele terapie moet gaan. In jou terapie moet jy fokus op emosionele genesing en traumaverwerking. In haar terapie moet sy die wortel-oorsaak identifiseer wat veroorsaak dat sy in buite-egtelike verhoudings beland. Indien julle voel dat daar na drie maande op individuele vlak vordering is, kan julle saam aan die verhouding begin werk met verhoudingsberading. Die doel hiervan sal wees om julle verhouding van die fondasievlak af te verstewig en vandaar uit te bou na ’n sterk verhouding. Oor ses tot twaalf maande van nou af kan julle op ’n splinternuwe bladsy met ’n rooskleurige vooruitsig wees.