Ek wil graag weet hoe nou gemaak as jy en manlief vassit oor dinge en dit is nie vir jou so maklik om oor die vergeet-stadium te kom nie. Ons probleme het begin by ’n inmengerige skoonma en nou is hy afjakkerig. As hy boonop romanse wil hê, moet dit nóú gebeur – of ek nou wil of nie. Ek voel nie meer spesiaal vir hom nie en moet altyd eers vir hom alles vertel en uitlê!
Dit sal beslis ’n wonderlike afwisseling wees as hy my verras en my pamperlang sonder dat ek daarvoor moet vra (eintlik maar smeek)… Ek begin nou loer vir ’n ridder op ’n wit perd uit ’n ander oord en wil dit nie graag aan ons drie kleingoed doen nie. Maar hoe gemaak?
Wilmé Steenekamp, mediese dokter, antwoord:
Sjoe – dit klink na ’n moeilike, maar algemene situasie. Om seks te probeer reg forseer, werk gewoonlik nie. Dis belangrik dat jy eers eerlik moet wees en moet oplossings soek. Die ridder gaan dinge net meer kompliseer en tog nie ’n blywende oplossing bied nie. Die eerste prys sou wees dat jy vir jou man verduidelik wat jy voel eerder as om hom te vertel wat hy verkeerd doen. Dalk kan jy hom daarna oortuig dat julle moet probeer werk aan die probleem. Begin deur te fokus op dinge wat julle saam kan doen wat julle wel albei geniet om te doen – dink aan hoe dit was toe julle verhouding nog jonk was.