“Ek was swanger met my laaste kind toe my man ’n buite-egtelike verhouding met ’n vriendin van my gehad het. Dis al meer as drie jaar gelede en tog voel ek soos ’n mislukking in alle opsigte, veral op seksuele gebied. Ek het altyd die ervaring dat ek nie goed genoeg is nie. Het julle raad?”
Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters en sprekers by die verhoudingsbediening Connection Impact, sê:
Die eerste aspek is dat ons glo dat jy en jou man baie moontlik uitmekaar gedryf het met die geboortes van julle kinders en dat julle fokus só op die nuwe seisoen was dat julle mekaar in die proses gemis het. Die probleem is dat nuwe ouers gewoonlik baie tyd aan die fisiese voorbereiding vir die aankoms van die kleintjies bestee, maar nie altyd bewus is van die emosionele uitwerking op hulle verhouding nie.
Na twee of drie kinders voel die paartjie gewoonlik asof hulle wildvreemd vir mekaar is en is die behoefte aan ’n konneksie baie ernstig. Die probleem is egter dat die paartjie teen daardie tyd glad nie meer veilig voel nie en derhalwe nie hulle vrese en behoeftes met mekaar in ’n veilige ruimte kan deel nie.
Die gevolg hiervan is dat baie mense dan hierdie konneksie buite die huwelik gaan soek. Dit hoef nie ’n buite-egtelike verhouding te wees nie – dit kan ook werk, sport of stokperdjies wees. Dit is eintlik enige plek waar die persoon voel dat hy of sy waardeer word. In julle geval glo ons dat die buite-egtelike verhouding die gevolg van hierdie diskonneksie was.
Ons wil sommer dadelik hiermee sê dat julle asseblief nie nou in sak en as moet gaan sit nie. Dit gebeur met baie paartjies.
Dit klink of julle die buite-egtelike verhouding al hanteer het. Maar dit is die tweede aspek in julle verhouding wat ons glo julle daadwerklik en deeglik met die hulp en inspraak van professionele hulp moet aanspreek. Dit kan baie negatief wees en moet asseblief nie net onder die mat ingevee word nie.
Ons glo dit is egter nog nie 100% aangespreek nie, want anders sou jy nie die vraag gevra het wat gevra is nie. Dit bring ons by die derde aspek van die vraag, naamlik julle intieme lewe en waar jy voel dat jy nie goed genoeg is nie.
As die impak van die buite-egtelike verhouding nog nie in sy volheid hanteer is nie, sal jy jouself aanhoudend met ander en veral met die teenoorgestelde geslag wil vergelyk.
Jy kan jouself onder geweldige druk plaas en jou man is salig onbewus daarvan. Die veiligheid in julle verhouding sal waarskynlik heeltemal weg wees met voorgee en vrees. Gaan praat eerlik met hom en maak seker dat hy jou hart hoor.
In baie gevalle is dit baie moeilik om mekaar te hoor en hy sal dalk die ervaring hê dat ou koeie nou opgegrawe word. Die feit is dat die koeie dalk nooit begrawe is nie.
Julle moet aan die veiligheid in julle verhouding werk en as die veiligheid gevestig is, kan vrae gevra word soos: “Is jy tevrede met my as jou vrou? Wat is die rede vir jou antwoord? Wat kan ons doen om ons huwelik en ons intimiteit verder uit te bou en dieper te maak?” Veiligheid is noodsaaklik vir oop en deursigtige kommunikasie.
Jy moet die geleentheid kry om met jou man te praat oor hoe jy voel en wat jou ervarings is. Wees bewus daarvan dat die buite-egtelike verhouding ’n traumatiese gebeurtenis in julle verhouding was en dat as daar nie mee gedeel gaan word nie, die “whiplash” van hierdie stap jare na die tyd nog ’n uitwerking kan hê.
Ons raad is dus: Skep veiligheid, praat met jou maat oor jou emosies, vrese en behoeftes, en besluit saam hoe julle dit kan aanspreek. As julle nie hierdie proses op julle eie kan regkry nie, stel ons voor dat julle iemand professioneel gaan raadpleeg om julle in hierdie uiters belangrike proses by te staan.