Laat lewer vir hom ’n baie spesiale ruiker by sy werk af…

Koop ’n pak sjokolade-balletjies. Ferrero Rocher werk goed. Vir ’n mooi ruiker het jy sowat 30 balletjies nodig. Hou die sjokolade-balletjies in hul papier, maar as elkeen ’n addisionele cupcake-papiertjie het, vou dit oop sodat die sjokolade lyk soos die kern binne-in ’n blom. Sny nou ’n paar velle tissue-papier in 10cm x 10cm blokkies (’n manlike kleur soos groen, bruin of goud werk goed). Ryg een of twee van die gekleurde blokkies deur ’n sosatiestokkie, met die cupcake-papiertjie wat daarop volg, en steek dan ’n sjokolade-balletjie (steeds in sy papier) op die punt sodat dit soos ’n blom lyk. Steek die “blom” nou in ’n stuk polisterien so groot soos ’n kleinerige vaas.

Doen dieselfde met al die blomme. Druk hulle redelik na aan mekaar in die polisterien sodat dit soos ’n digte bos blomme lyk. Draai nou ’n paar groot velle tissue-papier rondom die polisterien-basis en blommeruiker en bind dit aan die onderkant met deursigtige kleefband vas. Bind nou ’n stuk goiingsak (hessian) om die hele ruiker om dit meer manlik te maak. Laat lewer jou “eetbare bos blomme” by sy werk af.