As daar deesdae weke verbygaan sonder ’n bietjie gehaltetyd in die slaapkamer, is dit tyd om iets aan die saak te doen. Dit is een ding om te sê: “Beplan vir seks”, en dis iets anders om dit deur te voer. Ons vertel jou alles wat jy moet weet oor seksbeplanning . . .

Kom ons wees realisties: Die lewe gebeur. En in baie paartjies se lewens is daar tyd vir seks ás die kinders klaar gebad en in die bed gesit word, ás Grey’s Anatomy verby is, ás julle pelle wat langsaan bly nie gou kom inloer nie, ás jy klaar jou e-posse gecheck het, ás nie een van julle verkoue het nie, ás julle nie die volgende oggend vroeg moet opstaan nie, ás julle nie kwaad is vir mekaar nie, ás julle wakker bly en ás julle albei lus is . . . Dit is asof die kans op seks met elke “as” sommer met 10% afneem en uiteindelik sit julle met ’n minus-persentasie op hande! Seks is laaste op die lysie. En met beplanning maak julle van daardie baie belangrike aktiwiteit ’n prioriteit.

 Is beplande seks nie ’n passieblusser nie?

Die grootste klagte wat paartjies het betreffende seksbeplanning, is die feit dat hulle glo beplanning vernietig alle spontaneïteit . . . en waar is die pret dán? Verkeerd. Dink aan toe julle pas getroud was en jy romantiese aande beplan het . . . jy het mooi aangetrek, jou beenhare geskeer, hare gewas en jou sexyste onderklere aangetrek. Jou brein het hormone afgeskei wat jou gereed gemaak het vir seks deur net daaraan te dink. Hoekom? Want daar was erotiese afwagting!

Om seks te beplan en elke week op spesifieke dae deur die hele storie van voorbereiding te gaan, bring daardie opwinding rondom seks terug! Beplan dus vir seks deur ’n weeklikse seks-date in te stel. Dit is ’n oggend, middag of aand wat julle in die bed bly en dit is in jul dagboeke aangeteken soos enige ander romantiese afspraak (kompleet met reminders en ’n alarm!). Dit is ’n afspraak waarby julle moet hou – al sou julle eerder graag wou televisie kyk of slaap. En selfs al is julle vies vir mekaar, moet die seks-date heilig bly.

Seksbeplanning is ook ’n kuur vir libido’s wat nie noodwendig op dieselfde golflengte is nie. Op dié manier hang die realisering van seks nie af van die een of die ander se “lus” nie, maar word die “lus” eerder ’n wilsbesluit. Jul seks-date hoef nie full-blown seks te behels nie. Dit kan ook ’n sensuele aand wees met massering of slegs aanraking . . . seks-dates is allermins boring. Dit beteken dat julle spontaan kan wees sodra die beplanning in plek is. Dis die datum en tyd wat voorspelbaar moet wees – nie die seks self nie!

Hier is die reëls!

  1. Skeduleer een dag en tyd vir seks – elke week op dieselfde tyd. Maak dit ’n non-negotiable en iets waarna julle beide uitsien. Skryf dit op jul kalenders en sync dit met julle selfone!
  2. Onthou dat seks nie beperk moet word tot hierdie dag nie. As die lus julle beetpak op ’n ander dag, gaan daarvoor!
  3. Moenie ’n dag kies waarop julle weet julle moontlik die afspraak sal moet kanselleer nie.
  4. Wees hart en siel hierin. Dit is ’n commitment wat jy maak en een wat jou huwelik ’n hupstoot kan gee. Maak ’n belofte dat jy by die ooreenkoms sal hou.
  5. Binne die volgende week moet julle jul eerste seks-date hê. Herinner jou maat vooraf dat jy nie kan wag hiervoor nie en bou afwagting op. Los vir mekaar notas, stuur stoute SMS’e en maak die kamer vooraf mooi.
  6. Hersien jul afsprake as ’n maand verby is. Gesels daaroor. Was dit suksesvol? Het die datum en tyd goed gewerk? Wil julle dalk ’n ekstra seks-date per week skeduleer?
  7. Sodra julle die seks-dates onder die knie het, kan julle ’n dirty weekend elke tweede maand oorweeg.

 Watter tye is die beste?

 Kyk na jul kalender. Watter dae van die week is die stresvolste? Skeduleer seks vir daardie oggend! Jip. Seks kalmeer die senuwees, verlig stres en verlaag bloeddruk.

  1. Wat van ’n Vrydagaand vóór julle jul naweekplanne aanpak. Die opwinding van die naweek bring hernude energie wat handig te pas kan kom in die slaapkamer!
  2. Werk dit soggens in. Jou testosteroonvlakke en energievlakke is soggens hoër as later in die dag. Die verhoging in oksitositien hou jou en jou maat aan mekaar gebind deur die dag en die endorfiene gee jou bui ’n hupstoot!
  3. As soggens nie vir julle werk nie, wat van seweuur saans, ná gym? Ná oefening is die bloedvloei na jou genitale area sowat 169% groter. Jy voel boonop sexy en goed oor jouself.
  4. Kyk na die temperatuur. As julle nie ’n vaste dag wil skeduleer nie, maar eerder elke Sondagaand jul seks-date vir die week wil bepaal, kyk wat sê WeatherSA. Werk ’n bietjie bedpret in op die koudste dag. Studies toon dat seks jou immuunstelsel ’n hupstoot kan gee!
  5. Bestudeer jou siklus. Rondom dag 14 in jou siklus is jou klitoris sowat 20% groter en is die bloedvloei daarna beter . . . natuurlik beteken dit meer bereikbare en asemrowende orgasmes!

Beplanning hoef nie boring te wees nie. Die mate van opwinding in die slaapkamer hang nie van ’n dagboek-inskrywing af nie, maar van hoe spicy julle bereid is om daardie een spesiale aand per week te maak. Doen moeite en voor julle jul oë uitvee, is dit lánk nie meer net een aand per week nie . . .

Addisionele bronne: www.womenshealthmag.com.

Deur Annelize Steyn