My jaar het moeilik begin en ek het tussen 18 en 20 ure per dag gewerk vir twee-en-’n-halwe maande. Ek het my lewe vir my maatskappy gegee en my gesin het daaronder gely. My man speel nou al ’n jaar lank aanlyn-speletjies en ons baklei soos kat en hond daaroor, want alles gaan oor die speletjies. Waar ons altyd saam in die bed geklim het, gebeur dit nie meer nie. Ons kommunikasie en ons sekslewe is besig om te kwyn. Ek wil weet hoe kan ek my man van die televisiespeletjies afkry sodat ons meer gesinstyd saam kan deurbring?

Promosie

Gustav en Elna Muller, huweliksberaders van www.beterverhoudings.co.za, antwoord:

Jou man het ’n aktiwiteit gevind wat hy baie geniet en dit is normaal. In ’n suksesvolle huwelik het die man en vrou albei iets nodig wat hulle afsonderlik doen en geniet – dit is baie belangrik. Maar, ewe belangrik is dat hulle ook iets saam doen wat hulle saam geniet. Balans tussen dit wat elkeen op sy eie doen, en dit wat man en vrou saam doen, is die geheim. In plaas daarvan om te baklei, lê die oplossing daarin dat jy hom vra vir balans. Een aand doen julle elkeen dit wat julle afsonderlik geniet en op die alternatiewe aande doen julle iets saam wat albei geniet. Lekker gesels en saam in die bed klim, sal daaruit voortvloei.

Promosie