Met die egskeidingsyfer wat die hoogte inskiet, soek ’n mens antwoorde. Wanneer moet ’n jong paartjie trou? Is dit beter om vroeg te trou, voordat elkeen sy eie mens word, is, is dit beter om later te trou, wanneer jy weet wat jy uit die lewe wil hê?

Promosie

’n Mens hoor elke nou en dan van ’n paartjie wat mekaar ’n week ken voordat hulle die knoop deurhaak – sommer in die hof! En dan is daar dié paartjies wat na ’n verhouding van tien jaar steeds nie tot trou kom nie.

Die uitkoms verskil. Onder die paartjies wat mekaar kort geken het, is daar gevalle wat ewe gou skei en ander wat ’n ewigheid hou. En onder die paartjies wat mekaar deur en deur ken, is dit dieselfde. Is daar dan ’n goue reël?

“Ken mekaar goed voordat jy die groot stap neem”

Promosie

Daar is voordele in om mekaar langer te ken voordat julle in die huwelik tree. Julle kan soveel meer van mekaar te wete kom, mekaar se sterk én swak punte leer ken en as’t ware die kat goed uit die boom kyk voordat julle ewige trou aan mekaar beloof. Een só ’n paartjie is Annelien en Weco van Basten.

Annelien vertel: “Ek en my man het mekaar op universiteit ontmoet. Ons het aanvanklik nie baie ooghare vir mekaar gehad nie en was beide betrokke in ander verhoudings. Dit was eers toe ’n lektor ons saam op ’n projek geplaas en ons mekaar beter leer ken het, dat ons van mekaar begin hou het. Dit was die begin van ’n lang en sover gelukkige verhouding met al die uitdagings wat liefde het om te bied. Ek is die enigste kind en my ouers was streng, so ons het nie vooraf saamgebly nie.

“Beide van ons wou ook graag eers ons loopbane en finansies vestig voordat ons die bykomende uitdagings van ’n huwelik aangepak het. Ons was vir vyf jaar ’n paartjie voordat ons getrou het. (Ek was toe 27 en Weco 29.) Ons was vier jaar verloof. Dit was glad nie ’n kwessie van dat ons getwyfel het oor ons gevoelens nie, maar dit was eerder ’n kwessie van die regte tyd en plek.

“Die voordeel van lank in ’n verhouding wees voordat jy trou, is dat julle genoeg tyd het om mekaar behoorlik te leer ken voordat julle voor die kansel staan. Dit gee jou ook tyd om ekstra uitdagings, soos studielenings en ander finansies, uit te sorteer en saam op ’n skoon blaadjie te begin.

“Ek is egter ook eerlik genoeg om te erken dat die aanpassing daarvan om ewe skielik saam met iemand vreemd te bly vir my nogal erg was, aangesien ek direk uit my ouerhuis by hom ingetrek het ná die troue. Ons was albei gewoond aan ons eie manier van dinge doen, en moes nou aanpas om dinge saam te benader.

“Omdat ons ook langer gewag het om te trou, is ons agter ons vriende wat kinders ensovoorts aanbetref. Gelukkig trou baie mense deesdae later, en ons is oor die algemeen baie gelukkig met hoe ons die situasie benader het. Verhoudings verg harde werk, geduld, opofferings en hope gebede . . . of jy nou getroud is of nie. Niks wat die moeite werd is, was nog ooit maklik nie.”

“Trou vinnig vóór die aanpassing te moeilik raak”

Die teenoorgestelde is om mekaar te ontmoet en net te wéét: Dié is my deksel. Daleen van Schalkwyk vertel: “Ek en Frans het mekaar by ’n sendingstasie ontmoet. Ons wou albei voltyds vir die Here werk. Ek was net uit die skool en Frans het al ’n ruk gewerk.

“Die middag het die jongmense saam om die swembad gekuier. Dit was die eerste keer dat ek Frans regtig raakgesien het. Ek het dadelik van hierdie skaam ou gehou. Die aand het die span saam by sy huis gekuier. Niemand het agterna gebly om op te ruim nie en ek het aangebied om te help.

“Nadat ons opgeruim het, het ons tot laat gesels. Dit was net só maklik om met hom te gesels. ’n Week later het ons meisies by die woonstelle ’n probleem met muise gehad. Net toe Frans verby ons woonstel stap, het ons girls gegil, want die muis was in die kombuis en het onder die stoof ingehardloop.

“Frans het ons kom help en die muis onder die stoof probeer uitkry. Toe die muis op ons afpyl, het ons die stoof net so gelos en laat spaander, met Frans se arms nog onder die stoof! Nodeloos om te sê, moes ek hom ’n bietjie koffie aanbied en TLC vir sy vingers gee. Ek het dadelik geweet dis die man waarvoor ek gebid het.

“Ons is ses maande later getroud. Ons was nog vreemd vir mekaar, maar dit was die mooiste tyd van ons lewe. Ons was só verlief, ek kon nie asemhaal nie! Ná drie jaar moes ons mekaar van voor af leer ken omdat ons so vinnig getroud is en nie kans gehad het om elke deel van mekaar te leer ken nie. Dít was sekerlik die moeilikste tyd van ons huwelik, maar ook ’n tyd waar ons moes leer dat niemand so perfek is soos wat ons droom hulle is nie.

“Die sprokiesdeel van ons verhouding aan die begin was amazing, maar daar was vir seker die seisoen waar kinders, bediening en ander werklikhede gemaak het dat ons harder moes werk om ons liefde vir mekaar lewendig te hou. Ons is hierdie Julie al 25 jaar getroud en het geleer dat selfs die mooiste liefdesverhale dae van trane en teleurstellings het.

“Elke huwelik het ’n unieke ritme en twee maats moet mekaar se ritme soek tot jy en jou maat mekaar vind, anders breek dinge maklik. Die duurste les wat ons geleer het, is dat wanneer almal huis toe gaan, bly net ons twee agter. Ek is Frans se huis en veilige hawe, en hy is myne.”

Wat sê die kenners?

Die gelukkige nommer drie

Kenners meen dat ’n mens versigtig moet wees om alle huwelike en verhoudings oor dieselfde kam te skeer. Elke verhouding is so uniek soos die individue daarin. Wat wel voorkom in navorsing, is dat ’n hele paar studies terugkom na drie jaar as die goue getal.

Dit wil egter nie sê dat ’n mens nié na drie maande kan afhaak nie. Ons almal ken ten minste een liefde-met-die-eerste-oogopslag paartjie. Drie jaar word gesien as ’n goeie tydperk omdat die normale paartjie mekaar op hulle beste en slegste in hierdie tydperk sal sien. Tragedies, troues, siektes en feestelikhede kan almal binne hierdie tydsraamwerk plaasvind. Dus kry paartjies die geleentheid om hul maats in verskillende omstandighede te beleef. As daar reeds ’n sak sout of twee saam opgeëet is, maak dit die verhouding meer stabiel vir ’n huwelik.

Wag tot jy 25 is . . .

Marita van der Berg, ’n kliniese sielkundige van Krugersdorp, sê sy kry baie te doen met ongelukkige paartjies en huwelike. Volgens haar behoort voorhuwelikse berading (eintlik “opleiding”) verpligtend te wees voordat ’n paartjie amptelik mag trou. “Op grond van die nuutste data wat vrygestel is deur Statistiek Suid-Afrika, het die aantal geregistreerde huwelike in Suid-Afrika met 10% afgeneem vanaf 2003 tot 2013.

“Die gemiddelde ouderdom waarop vroue trou is 30 jaar, terwyl die gemiddelde ouderdom vir mans 35 jaar is. Ten spyte van die afname in die getal van geregistreerde huwelike, het die egskeidingsyfer sedert 2012 met bykans 5% verhoog,” sê Marita.

“Daar is nie ’n ‘magiese ouderdom’ waarop paartjies behoort te trou nie, alhoewel daar sekere faktore is wat in ag geneem behoort te word. Ten spyte van hul volwasse voorkoms is adolessente se breine nog nie ten volle ontwikkel nie. Die voltooiing van die ontwikkeling van die prefrontale korteks van die brein (’n deel van die brein aan die voorkant van die frontale lob) vind plaas tussen die ouderdomme van 19 en 25 jaar.

“Dit verskil natuurlik van individu tot individu. Hierdie deel van die brein is onder andere verantwoordelik vir die koördinering en aanpassing van komplekse gedrag, beplanning, besluitneming, die beheer van impulse en die organisasie van emosionele reaksies, asook persoonlikheidseienskappe.

“’n Adolessent se brein is dus fisiologies nie heeltemal in staat om die volle gevolge van besluite te bepaal nie. Volgens my mening behoort individue dus nie voor die ouderdom van 25 jaar te trou nie,” sê Marita.

Hoe goed ken jy jouself?

Marita sê daar is ook ander, baie belangrike, faktore wat in ag geneem moet word voordat ’n persoon die groot besluit kan neem. “Eerstens, die persoon behoort hom/haarself die volgende vraag te vra: Hoe goed ken ek myself? Dit is baie belangrik om eers ‘self die persoon te wees’ met wie jy graag sou wou trou, dit wil sê psigologies gesond, betroubaar, empaties, en in staat om te deel en om te gee vir die ander persoon.

“As jy meer van jouself weet, sal jy weet waarna om in ’n ander persoon te soek. As jy nie jouself ken nie, sal jy nie vervul kan word in enige verhouding nie. Ek werk dikwels met individue wat hulself nie ken nie, ten spyte van hulle hoë ouderdomme.

“Die doel daarvan om ‘uit te gaan’ is om ’n persoon so goed as moontlik te leer ken voordat die knoop deurgehaak word. Die doel is immers om ’n suksesvolle huwelik te hê wat gaan hou. Die gevolgtrekking uit verskillende studies wat gedoen is, is dat paartjies wat langer uitgegaan het voordat hulle getrou het, meer tevrede is in hulle huwelike en oor die lang termyn minder geneig is om te skei.

“Kenners is versigtig om te sê dat een tot twee jaar aanbeveel word vir paartjies om uit te gaan voordat hulle trou, maar hulle is dit eens dat die sukses van ’n huwelik meer afhang van die gereedheid en volwassenheid van die individue,” sê Marita.

Weet dié tien dinge voor julle trou:

  1. Ken die verskil tussen verlief, lus en liefde. Maak seker julle trou vir liefde en nie om ander redes nie.
  2. Hoe voel julle oor mekaar se geloof en oortuigings? As julle hier verskil, is dit belangrik dat julle as paartjie besluit hoe julle dit gaan hanteer.
  3. Hoe bestee julle geld? Wanneer een van julle baie spaarsamig is, maar die kredietkaart brand ’n gat in die ander een se sak, moet julle dit vroegtydig hanteer. Daar kan nie geld-geheime in die huwelik wees nie.
  4. Wil albei kinders hê of nie? Hierdie aspek kan ’n huwelik maak of breek as ’n paartjie nie op dieselfde bladsy is nie. Spreek die kwessie vroegtydig aan om latere verwyte te vermy.
  5. Kom jy oor die weg met jou toekomstige skoonfamilie? Onthou, jy trou nie net met jou maat nie, maar met sy hele familie. Maak seker dat familiebyeenkomste nie in ’n senuwee-ineenstorting ontaard nie.
  6. Is die verlede afgehandel? Maak seker jy het vrede gemaak met jou eie sowel as jou maat se verlede voor julle ’n toekoms saam beplan.
  7. Hoe reageer jou maat op stres? As jy weet hoe jou maat onder stres optree, weet jy ook beter hoe om hom/haar by te staan.
  8. Hoe neem jou maat sy/haar koffie? Dis die klein dingetjies wat tel. Weet hoe om jou maat spesiaal en belangrik te laat voel, want dit maak die moeiliker tye net ’n bietjie meer verdraagsaam.
  9. Weet hoe om te baklei en hoe om op te maak. Sommige paartjies baklei net sodat hulle weer kan opmaak. Leer hoe om ’n stryery te gebruik om nader aan mekaar te groei.
  10. Weet julle hoe om met mekaar te kommunikeer? Leer gerus mekaar se liefdestaal én liggaamstaal ken. Hoe meer kommunikasiekanale oop is, hoe beter is dit wanneer misverstande ontstaan.

Uiteindelik is daar nie ’n goue reël sover dit getalle aangaan nie. Wat wel belangrik is, is dat jy en jou maat julself en mekaar so goed as moontlik moet ken vóór julle besluit om die groot stap te neem. Omdat individue se vlakke van volwassenheid verskil en paartjies se pas van verhoudings verskil, bereik sommige paartjies gouer as ander hierdie punt.

Dit is ook belangrik om die rede waarom julle trou, altyd in ag te neem. Moenie jul besluit grond op eksterne faktore soos finansies, druk van buite en so meer nie. Daar is net twee mense wat kan besluit of julle gereed is vir trou en selfs al is julle 100% reg hiervoor, is dit nie ’n waarborg dat jul huwelik gaan hou nie.

Een van die beste maniere waarop julle julself kan toerus vir jul voorgenome huwelik, is om vir voorhuwelikse berading te gaan, waar ’n onafhanklike persoon julle kan help om mekaar te verstaan en julle toe te rus vir wat voorlê. Sterkte met die groot besluit.

 

Deur die Redaksiespan