Dit is ‘n ding wat (die meeste van) ons manne moeilik vind: Om te erken wanneer ons verdwaal het…
Dit is ‘n diepgewortelde oer-instink, só sterk gesement in ons DNA, wat ons laat voel dat ons altyd die antwoorde vir alles moet hê. Die sogenaamde Mr Fix-it hoed. Ons manne word dikwels hiervoor oor die vingers getik, maar eintlik is dit waar van ons almal, nie waar nie? En ons wil nie graag erken dat ons soms die pad byster raak in ons huwelike nie… Ons lywe mag dalk oud raak, maar ons goeie herinneringe bly fris en vars – daardie aanvanklike koers wat ons vir onsself beplan het. Die idilliese toekoms waar ons saam wil opeindig.
Etlike jare terug, in die Baviaanskloof, moes ek eendag, as genomineerde groepleier, die dapper stappers op ‘n staptog lei vanaf ‘n vallei, oor ‘n plato, terug na ons basiskamp.
My kaartlees-vernuf was nie waffers nie maar ek het tóg iets onthou vanuit my skooldae, sover dit kontoere en die blou kleure van riviere op ‘n kaart aan betref! Met dít in gedagte, lei ek toe die stapgroepie vol selfvertroue op met die plato terwyl ek een van my groepmaats konsulteer om seker te maak ek lees die kaart reg. Maar soos wat ons stap, raak die roete ál hoe moeiliker en die water al hoe minder. In my gemoed dink ek toe, as ‘die wyse man’ wat ek is, dat daar mos nie véél is om oor te bekommer nie – die rivier sit mos net aan dié kant van die plato – volgens die kaart.
Gróót was ons ontnugtering toe ons níé ‘n rivier aan die anderkant van die plato kry nie, maar net ‘n droë rivierbank. Die flou strepie op die kaart het opgedroog!
Nog groter ons ontnugtering toe ons onsself vind in ‘n kloof waarvan ek die kontoere heeltemal verkeerd gelees het!
Ek moet erken dat my aanvanklike gevoel was om in sak en as te gaan sit, maar genadiglik was ons ‘n sterk span, met genoegsame ondersteuning en bemoediging…
Ongeag die ondersteuningskrag van jou makkers, bly die wegspringplek immers altyd eers by ‘n mens self. Om te kiés om nie in sak en as te gaan sit, of te bly, sit nie!
Einde ten laaste is ons – na ‘n 3 uur in die oggend ‘abseil’ sessie – teen steil hange af, en is ons groepie uit die kloof. Ons het genadiglik weer water gevind ná twaalf ure se dehidrasie …
Raak ons nie soms ook die pad byster deur die kontoere van ons maats se harte verkeerd te ‘lees’, of mekaar die water van liefde en lewe te ontsê nie? Onthou julle nog daardie eerste dag wat jul mekaar gesien het? Daardie lang, lui-lekker middae of aande – wat jul saam gedroom het oor jul toekomsplanne, jul lewensideale en jul hartsbegeertes?
Laat my toe om ‘n deurdringende vraag of twee aan julle te stel: Wat het geword van al jul planne, jul drome? Is julle nog op koers? Indien nie, hoekom nie? Wat het gebeur?
Net soos Jesus verwys na ons as die Saad van die Woord wat verstrengel kan raak in onkruid en kan droog bak in die ongenaakbare Afrika-son, nét so is dit ook waar van ons lewens, ons liefde, ons drome, ons passies en ideale. Ons lewens en drome raak soms verstrengel in die wortels van bitterheid en onvergewensgesindheid… Ons passies en ideale verdroog in die son van die glurende vuuroond van ‘performance’…
En voor ons onsself kan kry, is ons lewenslus uitgeblus!
Ons liefdeswater, opgedroog…
Hoe kom ons uit die dilemma?
Eerstens wil ek jul aanmoedig om te verstaan dat dit nié die einde van die wêreld is, indien jul julself êrens verdwaald op die roete vind nie. Sien dit as een groot avontuur – want dit is mos immers hoe die lewe is.
Vergewe mekaar dat jul die pad byster geraak het en verstaan dat ons almal van stof gemaak is en foute maak. Moenie in sak en as gaan sit – of bly sit – nie. Bemoedig en ondersteun mekaar, want ons almal maak tog foute.
Wat is dit wat Jesus nou weer sê van hy wat nie sonde het nie? En die eerste klip moet gooi en so meer? Mattheus 18 vanaf vers 21 tot vers 35 is nogals ook ‘n radikale stuk om te lees en te bestudeer rondom vergifnis – mag ek jou nooi, en selfs uitdaag, om dit saam te lees?
Wees liéf vir mekaar en vind julself weer in God se onvoorwaardelike liefde en vergifnis vir julle! Soos julle dalk al teen die tyd weet; is ek vas, en heilig oortuig dat die Woord van God die bloudruk vir ons lewens is, en ál die nodige rigting vir ons gee wat ons nodig het.
Dawid skryf as volg in Psalm 1:1-3
“Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die Woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.
Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.”
Hierin lê verskeie rigtingaanwysers vir ons opgesluit, waarvan ek eenvoudig net die volgende twee wil uitlig:
1. Moenie die raad van goddeloses, sondaars of ligsinniges volg nie.
Na watter tipe raad luister ons? Is dit goddelike raad, of dié van die hoofstroom media? Wie of wat beinvloed jou lewe en jou huwelik? God se Woord en sy gestuurdes, wat werklik die antwoorde bevat wat jy benodig om ‘n gesonde, heerlike en geseende huwelik te lei; of iemand anders s’n?
2. Oordink God se Woord dag en nag, en vind jou vreugde daarin.
Hoe doen ek dit? Eenvoudig deur dit te lees, daarna te luister (preke, potgooie, selfs ‘Praise & Worship’ musiek) en dit te oordink, dag en nag…ja – vul jou denke daarmee, soveel as moontlik. Maak nie saak hoe jy die Woord inkry nie, sorg net dat jy dit inkry – hoe meer hoe beter!
Dán, se die Woord, sál jy (en jou lewe, en jou huwelik) wees soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is; geen meer droë riviere nie! Jy sál op die regte tyd vrugte dra en jou blare – jy, en jou lewe – sal nié verdroog of opdroog nie! En jy sál voorspoedig wees, in alles wat jy aanpak.
Psalm 35:27 sê vir ons dat God ‘n welbehae het – Hy is baie gelukkig – wanneer dit baie goed gaan met Sy kinders. Hy het gekom om jou lewe, en lewe in oorvloed te gee! Om dit so te leef, dat jou beker oorloop van heerlikheid en guns. Jy is God se gunsgenoot, Sy geliefde seun, in wie Hy ‘n welbehae het. God is vir jou en nié teen jou nie – Hy het werklik net planne van voorspoed vir jou, en nie van teenspoed nie
Bly gefokus op die Een wat jou aanmekaar gesit het en wat presies weet hoe jy jou lewe moet lei.Hy kan alleenlik Sy planne vir jou lewe seën – want Hy weet wat vir jou – en jou huwelik – sal werk.Hy het vir jou, en jou huwelik, ‘n handleiding beskikbaar gestel, om jou te help om op koers te bly.
Verdiep jouself in Hom, en Sy Woord, en jy sal vind hoe dit jou tot ‘n lewe van uitermatige seen en voorspoed stuur.
Artikel deur Charles van Onselen