“You’ve got something I need, in this world full of people.” Elke huwelik het sy uitdagings, maar wat maak jy as finansies én albei huweliksmaats se siektetoestand jul huweliksgeluk pootjie? Bertus* vertel die verhaal van sy en Leana* se unieke huwelik vol seerkry, uithou en aanhou.

Promosie

Vir hulle was daar géén sprake van verliefdheid nie. Hulle is bloot twee mense wat kans sien vir mekaar en talle sakke sout. Hulle kies mekaar steeds elke dag ten spyte van baie hartseer en verskeie struikelblokke.

Fliek en vriendskap
Bertus en Leana se aweregse liefdesverhaal het begin toe sy baie jare gelede ’n draai by sy destydse werkplek gaan maak het. Sy het dokumentasie van hom nodig gehad vir ’n saak waarmee sy besig was. Hulle het vir lank van mekaar vergeet, totdat een van Bertus se vriendinne saam met Leana begin werk het. Dié vriendin het Cupido gespeel en Leana se telefoonnommer vir hom gegee en hom aangemoedig om haar te bel en haar uit te neem.

Vir hul eerste afspraak het hulle gaan fliek. Leana was maar effens skrikkerig en het vir veiligheid haar broer op die afspraak saamgeneem. Hulle het mekaar daarna meer gereeld gesien en het gehoop om goeie vriende te word. Bertus het Leana altyd met ’n drukkie gegroet, maar daar was geen sprake van romanse nie.

Promosie

Nou of nooit
Eendag nadat ’n kuiergas weg is, het hulle ernstig begin praat. “Leana was die een wat in die rigting van ’n verhouding gepraat het. Sy het geweet dat ek baie goed bevriend was met iemand anders, maar ek het vir haar gesê dat daar geen kans is dat ek in ’n verhouding met daardie persoon betrokke sou raak nie,” vertel Bertus.

Daar was van die begin af reeds ’n paar ernstige realiteite wat hulle in die gesig sou staar. Leana ly aan ’n vorm van epilepsie wat dit onmoontlik maak vir haar om ’n voertuig te bestuur. Bertus daarteenoor, ly aan Asperger-sindroom, wat sy sosiale vaardighede bemoeilik, en hy sukkel ook met chroniese epilepsie.

Ná die gesprek het dinge blitsvinnig gebeur. Binne drie maande het hulle verloof geraak en ses maande later is hulle getroud. Hulle was albei reeds in hul dertigs en het besluit dit is nou of nooit.

“Ek het die ‘verliefdheid-stadium’ heeltemal vrygespring – ek het nog nooit in my lewe verlief geraak nie, omdat ek terdeë bewus is van my eie foute en tekortkominge en besef dat geen mens volmaak is nie. Ek is met haar getroud omdat sy kans gesien het vir ’n lewe saam met my en my aanvaar het soos ek is, niks anders nie,” vertel Bertus.

Hy glo in liefde soos dit in 1 Korintiërs 13 opgeteken is, nie in oppervlakkige romantiese snert nie. “Ek beskou liefde nie as ’n emosie nie, maar as ’n wilsbesluit. Daarom glo ek dat die basiese beginsels van liefde, onder meer geduld, vriendelikheid, vergifnis en alles wat daarmee gepaardgaan, baie belangriker is as die romantiese deel daarvan.”

Om die pot aan die kook te hou
Bertus het iemand soos Leana broodnodig in sy lewe, want hy is weens sy siektetoestand glad nie georganiseerd nie en ook nie in staat om die eise van die lewe te hanteer nie. Hy kon nooit sy studies voltooi nie en daarom gaan dit al vir baie jare broekskeur.

Leana moet maandeliks haar chroniese medikasie by ’n kliniek gaan afhaal, aangesien hulle nie oor ’n mediese fonds beskik nie. Dan moet Bertus haar karwei. “Dit maak dat ons mekaar net soveel nodig het as wat ons mekaar lief het. Soms wonder ek of ons behoefte aan mekaar nie sterker is nie. Sy het my nodig om te kom waar sy moet wees, en ek het haar nodig om my finansieel te ondersteun omdat ek op ’n kontrakbasis werk.”

Asperger-sindroom pootjie Bertus verder deurdat hy nie sy gevoelens kan verwoord nie. Dit maak dit onmoontlik om oor ernstige probleme in hul huwelik te kommunikeer. Een van dié sindroom se kenmerke is dat lyers ’n intense, bykans fanatiese belangstelling in enkele onderwerpe het. Dit dryf Leana teen die mure uit!

“Ek het gelukkig sekere sosiale vaardighede wat ek vroeër in my lewe kortgekom het, ontgroei en ek kan, anders as in die verlede, oor meer as een onderwerp gesels. Ek raak deesdae ook makliker met vroue as met mans bevriend, doodeenvoudig omdat vroue meer begrip vir mense met Asperger as mans het,” vertel Bertus.

Tussen die lakens is sake eweneens hartverskeurend gekompliseerd. Leana is in haar kinderjare gemolesteer, met die gevolg dat sy baie pyn tydens seks ervaar. Ten spyte daarvan het die paar twee pragtige kinders, onderskeidelik dertien en tien jaar oud. Maar sprake van ’n sekslewe is daar nie.

“Ek hou maar uit, al is dit glad nie vir my lekker nie. Ons kan nie hierdie probleem te bowe kom nie, omdat ons nie die geld het om by ’n ginekoloog of by ’n huweliksberader uit te kom nie,” vertel Bertus mismoedig.

15 jaar deur dik en dun
En steeds byt die twee vas, al verg dit soms hare op hul tande. Hulle is hierdie jaar al 15 jaar getroud. Volgens Bertus weet hy glad nie hoe Leana dit regkry om so lank met hom en sy siektetoestand uit te hou nie.

“Ek is nie die maklikste mens om mee saam te leef nie en dis ’n wonderwerk dat ons nog hoegenaamd getroud is. Egskeiding is heeltemal teen my Christelike beginsels, en omdat ons albei uit gebroke gesinne kom, sal ek dit nie eens oorweeg nie. Ek hou eerder uit en haat dit, as om haar en die kinders aan die pyn daarvan bloot te stel. Ons albei weet dat ons op straat sou sit as ons dit sou waag om uitmekaar te gaan.”

Vir Bertus en Leana is die hoogtepunte in hul huwelik hul wittebrood en die geboorte van hul kinders. Bertus se raad aan ander in ’n soortgelyke bootjie is: Aanvaar mekaar sonder voorbehoud en probeer om te midde van moeilike omstandighede vas te byt. Ten spyte van die harde bene wat hulle kou, bly hul huwelik vir hulle belangrik.

Hoe om te cope met moeilike omstandighede
Elizma van der Smit, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp, sê indien jy ’n suksesvolle lewe wil lei, moet jy leer hoe om staande te bly in moeilike omstandighede.

Hier is Elizma se raad:
1. Moenie verskonings maak vir jou situasie nie. Verskonings is die leuens wat ons onsself vertel wanneer ons te bang is vir die toekoms.
2. Werk daaraan om jou ondersteuningsnetwerk op te bou en te vergroot.
3. Neem eienaarskap oor jou lewe – aanvaar die dinge wat jy nie kan verander nie en maak proaktiewe planne om te verander wat jy kan. Elke mens is verantwoordelik vir sy eie geluk of ongeluk.
4. Wees altyd op pad na ’n duidelike doel.
5. Beoefen positiwiteit en dankbaarheid. Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. Fokus op wat jy het, eerder as wat jy nie het nie.
6. Kyk mooi na jouself en versorg jou liggaam en emosies. Maak jou tenk vol deur dinge te doen wat jy geniet.

Artikel deur Lize Groenewald