Kim Kardashian se troue met Kris Humphreys het net 72 dae gehou. Kykers van dié realiteitsreeks het op sosiale netwerke verbaas en verontwaardig gereageer. Maar is dit regtig só ’n vreemde verskynsel? ’n INTIEM-leser deel haar wroeging om te trou. Sy is kort na haar troue geskei.

Promosie

Emma (32) en Shaun (40) het ses jaar uitgegaan voordat hulle getrou het. Emma sê sy het die dag wat hy haar gevra het om te trou, gewéét dit gaan nie hou nie. “Voor ek my oë kon uitvee, het ek in die paadjie afgestap en ‘ja’ gesê. Dit moes eenvoudig nooit gebeur het nie.”

Hulle was ’n gelukkige paartjie en vriende het altyd gesê hoe goed hulle by mekaar pas. “Ons was eens op ’n tyd gelukkig, maar daar wás al probleme voordat ons getrou het. Dit was half ’n geval van: ons is nou al ses jaar saam, nou moet ons trou. Ons was heeltemal by mekaar se lewens betrokke en het tot saam gewerk. Ek was ín die ding. Ek kon nie uit nie.”

Die dag toe hy haar vra om te trou, het sy geweet wat kom. “Ek kon dit sommer aanvoel. Ek wou só graag nee sê, maar ek kon nie. Ek kon hom net nie toe teleurstel nie. Ek moes deurdruk.”

Promosie

Die troue is binne ses maande deur haar gereël en sy het geen hulp van Shaun ontvang nie. “Dit was klaar ’n teken. ’n Mens wil darem hê jou verloofde moet betrokke wees. Daar was heeltyd hierdie stem diep binne-in my wat gesê het ek maak ’n fout, maar ek was te bang om daarna te luister. My selfvertroue was nie goed genoeg om daaraan gehoor te gee nie. Ek kon nie die troue afstel nie. Ek was reeds te diep in.”

Sy het heeltyd gevoel Shaun het haar nodig. “Hy het aan depressie gely en ek was te bang om hom te los. Ek was bang hy kry ’n terugslag. Dit het gevoel of ek hom moet oppas. Die dag van ons troue het hy die aand op ’n bank uitgepass. Ek is alleen kamer toe. Daar was nie romanse nie.” Dit is nou nog, ’n jaar ná die skeiding, vir haar moeilik om hieroor te praat.

Die gebrek aan romanse en emosionele ondersteuning het net vererger. “Wanneer jy trou, is jy veronderstel om deel te raak van die ander persoon. Jy bestaan nie meer as net jý nie. Maar as daardie persoon nie aan jou vereistes voldoen nie, veroorsaak dit wrywing. Ek het goed van hom gesien waarvan ek nie hou nie.”

Hy was al hoe minder emosioneel beskikbaar en het baie in homself gelewe. “Ek het heeltyd gesoek na toenadering wat daar nie was nie. Dit was asof daar ná die troue hierdie spasie tussen ons inbeweeg het. Dit het net al hoe groter geword. Ek dink hy het aangevoel ek wil uitkom.”

Hulle het voor die troue besluit hulle gaan nie kinders hê nie. “Die ding van die kinders, dink ek, het ek suiwer besluit omdat ek geweet het dit gaan nie hou nie. Ek kon nie kinders hê by ’n man as ek geweet het ek gaan nie die res van my lewe by hom wees nie. Ek is nou só bly ons het nie kinders saam gehad nie. Dit sou dan baie moeiliker gewees het.”

Hulle het nooit op ’n wittebrood gegaan nie. “Dis tog iets wat die man moet reël, dan nie? Ek het dit half nie eers verwag nie. Maar tog hoop jy hy doen iets romanties. Ek dink hy was net só in homself gekeer dat hy nie eers daaraan gedink het nie. Hy was selfsugtig. Net wat vir hom belangrik was, het saakgemaak. My behoeftes was op die agtergrond geskuif.”

Shaun het ná die troue in ’n erger depressie verval en dit was Emma wat hom heeltyd moes uitlig. “Ek moes na hom kyk en seker maak hy is okay. Hy het gesukkel om gelukkig te wees in homself. Hy het na die troue al hoe donkerder geraak, waar ek iemand is wat meer lig is. Ek wil net gelukkig wees en pret hê. Ons het totale verskillende persoonlikhede gehad. Hoewel dit eens op ’n tyd gewerk het, kon ons mekaar nie meer vind nie.”

Sy moes alles wat sy gedoen het aan hom rapporteer. Hy wou weet waar sy elke sekonde van die dag was en hy het haar van allerhande dinge verdink. “Ek kon dit nie meer vat nie. Hy was agterdogtig oor alles. Ons het nooit dinge saam gedoen nie en het in heeltemal verskillende dinge belanggestel. Wanneer ek saam met my vriende iets doen, wou hy presies weet wat ons doen en waarheen ons gaan. Dit het te erg geraak.”

Ná een jaar het sy besluit tot hier toe en nie verder nie. “Ek het letterlik my kans afgewag. Die oomblik toe ek sien hy is okay in sy loopbaan, het ek my kans gevat en uitgekom. Nadat ek die besluit geneem het om te skei, was ek nie meer bang nie. Ek was net vry.”

Hy was ’n totale wrak toe sy die nuus breek dat sy wil skei. “Ek het verskriklik skuldig gevoel daaroor. Maar ek het eintlik deur die skuld gewerk voor ek gesê het ek wil skei. Ek was baie alleen in die verhouding en nog meer nadat ons getroud is. Die ergste pyn was die alleenheid. Dit het gevoel of ek genoeg deur die verhouding seergemaak is. Ek was klaar daarmee.”

Oor hoekom sy nie voor die troue ’n stap geneem het om uit die verhouding te kom nie, sê sy daar was eenvoudig te veel mense betrokke. “Ek wou niemand teleurstel nie. Ek wou dit net oor en verby kry, sodat ek kon aangaan. Selfs toe ek sê ek wil skei, het ek gemengde reaksie van my familie gekry. Ek moes baie vrae beantwoord. My pa het steeds gevra of ek dit nie maar kon laat werk nie.” Nadat sy geskei is, het sy nie weer kontak met Shaun gehad of enigsins teruggekyk nie.

“Ek het my goed gevat en teruggetrek na my ouers in my tuisdorp toe. Ek het my werk gelos en my vriende het ook agtergebly. Ek moes kom herstel en waar beter as jou ouerhuis? Ja, ek glo nog in die liefde. Daar is altyd liefde. Maar ek sal nie sommer weer trou nie. Ek is definitief nog nie reg vir ’n ernstige verhouding nie. Ek moet eers weer myself vind. Wie weet wat in die toekoms wag?”

Moet jy ’n U-draai maak of is dit net troudag-jitters?

Baie vroue sê dat hulle die dag in die kerk geweet het hulle maak ’n fout, maar tog voortgegaan het met die huwelik. Bygesê, moenie normale senuwees verwar met ’n gut feeling nie. Emma gee raad:
• Gee gehoor aan jou voorgevoel. Dit is selde verkeerd.
• Wanneer jy enigsins oor ’n tydperk van ’n paar dae of weke twyfel of jy moet trou, stel eerder die troue uit en kry sekerheid.
• Dit is nooit te laat om die troue uit te stel nie. Dis makliker om die troue uit te stel as om later te skei.
• Praat met jou familie oor jou gevoelens.
• Neem verantwoordelikheid vir jou eie geluk. As jy nie gelukkig is nie, gaan jy nie die ander persoon gelukkig kan hou nie.
• Gaan sien ’n berader as jy voel dis nodig. Herbesin dan oor die troue.
• ’n Paar vlinders in die maag voor jy trou is heeltemal normaal. Dit beteken nie jy maak ’n fout nie. Net jý sal weet wat regtig in jou hart aangaan.

Artikel deur Jana Engelbrecht