Het jy ’n vriendin of weet jy van ’n kennis wat amper trou? Doen jou deel vir huwelike deur haar uit te neem vir ’n baie spesiale skemerkelkie . . .

Promosie

“Nee, my ma sou sterf voor sy seks met my bespreek het voor my troue!” vertel een vriendin onlangs by ’n kuiergeleentheid. “My ma hét probeer, maar ék het gou die onderwerp verander,” vertel nog een. En nog ’n rooikop voeg by: “Ek het gedink ek hoef glad nie oor seks te praat nie…ek weet mos alles!”

Gedurende ons redaksievergadering op kantoor, vertel Liezel van ’n goeie vriendin van haar se onbaatsugtige “liefdesdaad”. Wanneer haar vriendinne trou, neem sy vooraf elkeen van hulle uit vir ’n skemerkelkie en ’n 2-18PG praatjie oor die bytjies en die blommetjies. Sy praat met hulle oor daardie dinge waarop niemand hulle voorberei nie en wat hulle te skaam is om elders uit te vind . . . wat ’n ongelooflike idee!

Is dit regtig nodig?

Promosie

O ja! Dit is wel so dat ’n baie groot hoeveelheid bruide nié vandag as maagde trou nie, maar elke bruid wil tog hê haar wittebrood moet spesiaal wees. (Kom ons los nou maar die huweliksnag uit die prentjie, want soos ons betroubare kenner, dr Etienne Kok, sê, elke bruidspaar is doodmoeg ná die troue en druk om te presteer gedurende dáárdie nag laat net ruimte vir teleurstelling!)

As jou vriendin wel nog ’n maagd is, het sy waarskynlik talle tydskrifte oor seks gelees, gekyk hoe doen paartjies dit op die televisie en haar eie idee gevorm oor “die perfekte eerste keer/wittebrood/sekslewe”. En jy, as ’n getroude vrou, weet hoe ontnugterend dít kan wees!

En ja, daar is inligting oor al die basics, maar dan is daar dié dingetjies wat niemand regtig bespreek nie…daardie vrae waarmee ’n jong bruid worstel en waarvan sy die antwoorde nêrens kan kry nie! (Net ’n paar uitgesoekte bruide het só ’n tipe verhouding met haar ma dat sy die onderwerp van semenvlekke met haar sal bespreek!)

Hoe doen jy dit?

Jy nooi haar uit en sê jy wil haar graag vir oulaas uitneem as ’n ongetroude jong vrou en met haar gesels oor wat sy alles van haar wittebrood kan verwag! Maak vir haar ’n mooi handgemaakte uitnodiging, stuur vir haar ’n WhatsApp of bel haar om haar te nooi, maar maak seker jy volg op (sy is dalk te skaam om jou uitnodiging te aanvaar).

As sy kan aflei wat jy met haar wil bespreek en nie kans sien nie, sê vir haar sy hoef nie te gesels waaroor sy ongemaklik voel nie, maar dat jy haar in elk geval wil treat met ’n lekker cocktail en nie nee vir ’n antwoord sal aanvaar nie! (Die kans is goed dat die cocktail of twee haar genoeg sal laat ontspan om wel ’n paar vrae te vra as jy die onderwerp aanroer.)

Vanselfsprekend is die rekening vir jou om te betaal (sien dit as jou stukkie liefdadigheid vir die voortbestaan van huwelike). Jy moet ook vir haar ’n pakkie saamneem op jul afspraak. Koop of maak enige houer (’n badkamersakkie is ’n goeie idee) en pak vir haar ’n wittebrood-oorlewingsboks.

Die wittebrood survival kit

• Pille en salfies (van hoofpynpille tot antibakteriese salf vir enige skeet wat moontlik die wittebrood kan bederf).
• ’n Botteltjie bosbessiesap (cranberry juice) vir ingeval die wittebroodsiekte haar oorkom (blaasinfeksie).
• Tandevlos, tandepasta, ’n ekstra tandeborsel en peppermentjies (want ’n vars asem op wittebrood is onontbeerlik).
• Masseerolie (wanneer die senuwees ’n jong paartjie klaarmaak, kan ’n lekker wedersydse massering gou ontslae raak van opgekropte spanning – en dit dien sommer ook as goeie voorspel!).
• Weggooibare skeermesse (vir ingeval sy hare vergeet het).
• Wet wipes (een van daardie meerdoelige items waaruit elke liewe bruid kan voordeel trek).
• Kondome in elke kleur en geur (die kanse is goed dat hulle voorbehoeding reeds mooi onder die knie het, maar interessante kondome is té onweerstaanbaar om nie mee te eksperimenteer nie).
• Smeermiddel (dit maak nie saak hóé gereed ’n paartjie is vir seks op hul wittebrood nie, smeermiddel haal die ongemak uit enige situasie en is ook handig vir stoute quickies op die strand of agter ‘n boom).
• ’n Bottel spuitroom, smeersjokolade, ’n houertjie kersies (sommer net vir die speelse element – een van daardie noodsaaklikhede wat elke bruid gou moet leer onontbeerlik is vir elke gelukkige huwelik).

Bespreek dié dinge met haar!

As sy nog nie weet hoe die meganika van seks werk nie, kan jy dit aan haar verduidelik, maar as sy oud genoeg is om te trou, behoort sy darem die basiese storie reeds te verstaan. Hier is nog ’n paar ongemaklike dinge wat sy dalk wil weet, maar te skaam is om te vra…

1. “Só, gaan dit seer wees? Sê my, rêrig. En moenie my die detail spaar nie.”
2. “Is dit okay om die eerste nag te skip en eerder op honeymoon vir die eerste keer seks te hê? Ek bedoel, ons het tog die hele vakansie wat voorlê?”
3. “Dit lyk altyd só romanties as die bruidegom die bruid se rok uittrek, maar moet ons nie eers stort nie . . . ek is bang vir allerhande reuke?”
4. “Ek het alles met my ginekoloog bespreek en drink my Pil só dat my timing perfek uitwerk, maar wat as my hormone deurmekaar raak en ek onverwags begin menstrueer op my wittebrood?”
5. “Gaan ek die volgende dag . . . eh . . . buite aksie wees? Ons wil graag gaan diepseeduik, maar ek is bang ek kan skaars loop . . . wat nog te praat van duik!”
6. “Moet ek voor hom uittrek, of moet ek laat hy my uittrek? Wat verwag hy van my? Moet ek wit onderklere dra of swartes? Sexy of vroom? Brasiliaanse waks of Hollywood-strip?”
7. “Wat maak ons as ons op die lakens mors? Vlek dit? En hoe haal ’n mens ’n bloedvlek of ’n semenvlek uit hotellakens uit?”
8. “Het ons lube nodig die eerste keer? Ek wil hom nou nie laat dink ek het nie die hots vir hom nie?”
9. “Hoe lank is dit veronderstel om aan te hou? Heelnag?”
10. “Het ons kinky gadgets nodig om die honeymoon spesiaal te maak?”
11. “Wat as een van ons te benoud is, en hoe hanteer ek dit as hy sukkel om dinge regop te kry?”
12. “Wat kan alles ‘verkeerd’ loop tydens seks en hoe hanteer ek dit?”
13. “Wat is honeymoon sickness en wat as dit my oorkom?”

Jy was eens op ’n tyd in dieselfde situasie en net jy, ’n getroude vriendin, kan haar onsekerhede laat bedaar. Herinner haar dat daar niks vreesaanjaend hoef te wees aan die eerste keer wat sy seks het met haar nuwe maat nie en dat hulle ’n leeftyd het om dinge uit te pluis . . . jou gerusstelling gaan vir haar selfs meer werd wees as jou raad. Wat ’n voorreg is dit nie om jou nuwe vriendin te vertel hoe asemrowend die huwelik wel kan wees nie. Geniet elke oomblik hiervan!