Elke vrou kom in die een of ander stadium van haar lewe voor ’n gesondheidskwessie te staan wat uitsluitlik tot die Evasgeslag beperk is. En sommige hiervan kan waarlik ’n demper op jou sekslewe plaas…

Promosie

Dis daardie tyd van die maand en manlief wag geduldig vir dié dae om verby te gaan, sodat julle jul eie weergawe van die Kama Sutra kan hervat. Die enigste probleem is, dit gaan nie verby nie, maar duur verbete voort. Natuurlik is dit later nie net sý geduld wat opraak nie (hy is immers baie opgewonde oor die nuwe tegniek wat hy wil beproef!), maar ook joune.

En net sodra die eindstreep in sig is, steek ’n nuwe probleem sy kop uit! As jou vrouegesondheidsake nie op koers is nie, kan dit jou sekslewe lelik in die wiele ry. Ons kyk na agt van die grootste vrouekwessies wat jul pret kan bederf…

1. “Hier steek ’n droogte sy kop uit, wat ons sekslewe ’n uitdaging maak!”

Promosie

Alles verloop seepglad, tot dit op ’n dag nie meer seepglad verloop nie. Julle het hulp uit ’n botteltjie nodig – elke keer! ’n Tekort aan natuurlike smeermiddel kan alle vroue affekteer, maar dit kom meer algemeen voor onder post-menopousale vroue tussen die ouderdomme van 51 en 60.

Jou liggaam is ontwerp om natuurlike smeermiddel te vervaardig en span die kliere aan die nek van die baarmoeder in om die vagina soepel en vogtig te hou. Dit help ook om die vagina te reinig en van dooie selle ontslae te raak. Dit hou jou gesond en beskerm jou teen infeksies.

Wanneer ’n droogte toesak, kan daar verskeie oorsake wees: Dehidrasie, oor-die-toonbank medikasie, voorskrifmedisyne, veranderde hormoonvlakke of die feit dat jy borsvoed. Soms gebeur dit bloot omdat daar nie voldoende seksuele opwekking is nie (wat beteken dat manlief sy voorspel ’n bietjie moet opknap!).

As jou probleem tydelik is, moenie té bekommerd wees nie. Daar is wonderlike smeermiddels (lube) op die rakke wat seks lekker kan maak (en wat ingespan kan word, selfs al het julle dit nie nodig nie!). As die probleem voortduur, gesels met jou dokter of ginekoloog oor voorskrifmedikasie wat die probleem kan oplos of jou kan help om dit beter te bestuur.

2. “My blaas en my sekslewe stamp koppe…”

In die hitte van die oomblik moet jy weer badkamer toe hardloop, net om daar te ontdek niks wil gebeur nie. Gereelde besoeke aan die badkamer, pyn wanneer jy wel urineer en gevoeligheid in jou laer buik, rug of sye, is alles klinkklare tekens van urienweginfeksie.

En hoewel dit nie uitsluitlik aan die Evasgeslag behoort nie, kom dit beslis meer onder vroue voor. Wanneer jy swanger is, die menopouse of peri-menopouse betree, is jou risiko hiervoor groter. Blameer die hormone en ’n vergrote uterus tydens swangerskap, wat dit soms moeilik maak om die blaas volkome te ledig.

Urienweginfeksies kom voor wanneer bakterieë die blaas betree en pynlike urinering of ongemak veroorsaak. Terwyl baie van ons dit minstens een keer in ’n leeftyd moet trotseer, kan dit ook herhaaldelik voorkom – wat jou moed in jou skoene kan laat sak! Soms kan ’n urienweginfeksie deur seksuele aktiwiteit geaktiveer word (dit word immers ook “honeymoon sickness” genoem!), maar dit is nie altyd die geval nie. En seks wanneer jy reeds so ’n infeksie het, is allermins wittebrood-waardig!

As jy enigsins ongemak of branderigheid ervaar wanneer jy urineer, besoek jou dokter om seker te maak die infeksie versprei nie. Sommige oor-die-toonbank medikasie kan jou tydelik beter laat voel (daar is ook diegene wat glo in bosbessiesap), maar slegs antibiotika kan ’n aktiewe infeksie hokslaan.

Drink genoeg water sodat jou liggaam van die bakterieë ontslae kan raak en maak seker jy voltooi jou kursus antibiotika sodat die infeksie nie weer intree nie. Een van die topwenke is egter om reg voor en reg ná jul katelkaskenades te urineer.

3. “My periodes is ondraaglik swaar en uitgerek!”

Terwyl die meeste van ons geleer het om met die ongemak saam te leef, is maandstonde vir sommige vroue beslis nie kinderspeletjies nie. As jou periodes langer as sewe dae duur en behels dat jy jou doekie of tampon elke twee ure of meer gereeld moet vervang, ly jy waarskynlik aan menorrhagia, wat beteken dat jy meer as 80ml menstruele bloed per periode verloor.

Hewige vloei kom veral voor onder tieners en vroue in hul peri-menopouse, wanneer die estrogeenvlakke hoër en progesteroonvlakke laer is. Onthou egter ook dat swaar, uitgerekte periodes van bloeding ook ander oorsake kan hê, so laat jou bloed toets en maak seker dat bloedarmoede of ’n bloedstollingsprobleem nie jou probleem is nie.

Die meeste vroue wat aan menorrhagia ly, het ’n lae bloedtelling of ’n ystertekort. Jy kan ’n paar dinge doen, soos om pynpille te drink, rekord te hou van die bloeding, of die bloedverlies aan te vul met ekstra vog en sout. Jou dokter kan ook orale voorbehoedpille, progesteroon-aanvullings of ander medikasie of prosedures voorskryf.

4. “Sal die beendere in my liggaam die impak van seks kan dra?”

Beendigtheid verminder ná die ouderdom van 35 jaar en beenverlies kom al hoe meer gereeld voor onder vroue ná menopouse. Die oorsake sluit hoofsaaklik in: Genetika, ’n tekort aan oefening, ’n tekort aan kalsium en vitamien D, ’n persoonlike geskiedenis van frakture as volwassene, sigaretrook, oormatige alkoholgebruik, ’n geskiedenis van artritis, ’n lae liggaamsgewig en ’n familiegeskiedenis van osteoporose.

As verswakte bene en verkrummelde beenmassa (osteoporose) dus jou probleem is, kan seks ’n bron van kommer wees. Jy is bang dat spanning op ’n gewrig of op ’n been pyn kan veroorsaak. Hierdie vrees kan só oorneem dat jy seks eerder wil vermy. Onthou egter: ’n Gesonde sekslewe is goed vir jou en die endorfiene wat tydens seks vrygestel word, laat jou goed voel.

Gesels dus met jou maat en maak aanpassings rakende posisies sodat jy seker kan maak jy kry nie ’n fraktuur nie. Die woman on top-posisie is waarskynlik die veiligste – jy is in beheer van jou bewegings en daar is ’n lae risiko van drukking op enige van jou gewrigte. Maak ook staat op kussings vir ekstra gemak!

5. “Endometriose maak seks vir my ondraaglik seer…”

Endometriose is nie bloot ’n lastige probleem nie en kan jou lewe tot ’n ernstige mate beïnvloed. Dit kom voor wanneer die weefselwand van die uterus, genaamd die endometrium, buite die baarmoeder groei. Dit is ’n progressiewe, chroniese toestand en kan baie pynlik wees – maar daar is behandeling hiervoor beskikbaar.

As jy endometriose het, ervaar jy waarskynlik swaar periodes, maag- of bekkenpyn wanneer jy toilet toe gaan, bloeding tussen jou periodes, moegheid, opgeblasenheid en buierigheid. Intussen is die kanse goed dat jy in stilte swyg oor die pyn wat jy gedurende seks ervaar, of bloot alles in jou vermoë doen om seks te vermy!

Meer as 60% van vroue ervaar intense pyn gedurende seks, wat hul seksuele begeerte, opwekking, vermoë tot orgasme en seksuele tevredenheid heeltemal kan demp. Die pyn wat met endometriose gepaardgaan, kan vroeg na seks begin en ure daarna voortduur. Afgesien van die fisieke impak, is die sielkundige impak hiervan groot. Dit kan depressie veroorsaak en ’n gevoel van eensaamheid by jou ontketen omdat jy nie seksueel met jou maat gekonnekteer kry nie.

Gevolglik is daar ook skuldgevoelens en ’n vrees vir verwerping. Dít wat veronderstel is om jou en jou maat nader aan mekaar te bring, kan ’n wig tussen julle indryf en daarom is dit baie belangrik vir jou om jou dokter te spreek, sodat julle die beste metode van behandeling kan vasstel.

6. “Gisinfeksies is vir my ’n baie onwelkome probleem”

Wanneer die natuurlike balans van die flora in die vagina versteur word, kan bakteriële gisinfeksies ontstaan. Dit kan gebeur gedurende swangerskap, met die gebruik van antibiotika, wanneer diabetes ’n probleem is, as jy stywe onderklere dra, as jy siek is of as jy medikasie gebruik wat jou liggaam se weerstand teen infeksies verlaag.

Gisinfeksies kom algemeen voor onder vroue vanaf hul middel-twintigerjare. Dit is nie gevaarlik nie, maar kan frustrerend wees – veral wanneer dit herhaaldelik terugkeer! Dit is nie ’n seksueel oordraagbare siekte nie en die algemeenste simptoom is ’n gejeuk en sensitiwiteit by die opening van die vagina.

Dit kan ook ’n branderige sensasie tydens urinering tot gevolg hê en seks kan ongemaklik wees. Soms is daar ’n waterige of ’n dik, wit afskeiding. Die area rondom die vulva kan ook rooi wees. Gesels met jou dokter of ginekoloog – daar is verskeie behandelingsmetodes beskikbaar om gisinfeksies teen te werk.

7. “My dermkanaal is geïrriteerd met my – en ek met hom!”

Geïrriteerde dermkanaal sindroom of IBS (irritable bowel syndrome) kan jou sekslewe baie negatief beïnvloed. Om soveel tyd aan badkamerprobleme te bestee, laat ’n mens nie juis sexy voel nie. Om nie eens te praat van die vrees dat jy dalk beheer oor jou dermkanaal kan verloor nie! Fisieke simptome sluit in hardlywigheid, diarree, opgeblasenheid, maagpyn en krampe. Daarom kan geïrriteerde dermkanaal sindroom jou in ’n moeilike posisie plaas. Vroue word meestal hierdeur geaffekteer.

Omdat die kolon se aksies onvoorspelbaar is as jou dermkanaal geïrriteerd is, kan jy nooit voorspel wat volgende gaan gebeur nie – veral nie midde-in ’n stomende slaapkamersessie nie! Navorsing toon dus dat sowat 83% van mense wat hieraan ly, ook seksuele disfunksie ervaar. ’n Lae libido en pynlike seks is bo-aan die lysie.

Mense rapporteer dat hulle seks liefs vermy wanneer hulle simptome ervaar, uit vrees vir die onvoorspelbaarheid van hul dermkanaal wat ’n wil van sy eie het. Dit is egter ’n probleem wat bestuur kan word. Gesels met jou dokter. Hy sal moontlik leefstyl-aanpassings aanbeveel, soos om gasserige kosse te vermy en gluten uit te skakel, maar hy kan ook medikasie voorskryf wat baie kan bydra tot die verligting van jou probleem.

8. “Ek sal nooit kan lyk soos Victoria Beckham na die geboorte van my kinders nie”

Nog ’n vrouekwessie waarmee die meeste vroue waarskynlik worstel, is tydelik en kom voor gedurende swangerskap en die tyd van herstel daarná. Dis beslis nie ’n siekte nie, maar wel ’n toestand wat ’n demper op jou sekslewe kan plaas. Gedurende dié tyd vier hormone hoogty en waar sommige vroue geseën word met ’n verhoogde seksdrang, voel ander net te moeg, naar of sleg om seks eens te oorweeg!

Voeg daarby die hersteltydperk ná die geboorte van jou kind, ’n veeleisende nuweling wat al jou aandag, tyd en energie verg en die selfbeeldkwessies wat hiermee gepaard gaan, en die rooi ligte flikker vir jou sekslewe! As jy minderwaardig voel ná jou swangerskap, onthou dat jou probleem meestal selfbeeld-verwant is en dat alles weer in plek gaan val, maar dat jy tyd nodig het om aan die nuwe fase in jou lewe gewoond te raak.

Vergeet Hollywood se persepsie van ’n “yummy mummy” – jou liggaam en jou selfbeeld sal weldra terugkeer na normaal, sodra jy gereed is. Maak egter seker dat jou blues nie postnatale depressie is nie – ’n baie ernstige vorm van depressie wat jou kan oorkom na die geboorte van jou kind – in welke geval jy dringend die hulp van ’n kenner moet inroep.

Die een ding wat al hierdie toestande gemeen het, is die feit dat daar wel oplossings en behandelings hiervoor beskikbaar is. Jy hoef nie in stilte te ly nie. Maak ook jou gevoelens en jou simptome aan jou maat bekend.

Dit is net weereens ’n toets vir julle huwelik en ’n bewys dat ope kommunikasie noodsaaklik is vir ’n huwelik om te gedy. Die meeste probleme is tydelik en kan met die regte leiding herstel word. Behou perspektief, behou moed en hou jou dokter se telefoonnommer op speed dial!

Artikel deur Annelize Steyn