Die liefde is veronderstel om alles te kan oorwin. Alles behalwe onmin oor geld as ’n mens na statistieke kyk, wat bewys dat geld een van die grootste oorsake is waarom liefdesbootjies skipbreuk lei.  

Promosie

‘n Eerlike gesprek oor jul finansies is dalk baie onromanties, maar kan daartoe bydra om jul huweliksgeluk in stand te hou.

Kaarte op die tafel

Charmaine Maritz* het ná ’n warrelwind-romanse met haar droomman, Philip*, getrou. Ongelukkig het hul huwelik aanvanklik nie ontvou soos die sprokie waarvan sy gedroom het nie.

Promosie

“Ek het nooit oor ons finansies as ’n paartjie gedink nie en dit was ’n skok om te sien hoeveel ek moes bydra vir huur, rekeninge en skuld ná die troue. Toe ek boonop kort na ons troue swanger raak, het die prentjie net al hoe bleker begin raak.”

Ná maande se argumente en hartseer het ’n vriendin voorgestel dat hulle met ’n gekwalifiseerde finansiële adviseur praat. “Dit het ons huwelik gered,” sê Charmaine. Volgens dr Anton Hay, direkteur van Ecsponent Financial Services, is die sleutel tot finansiële sukses in die huwelik eerlikheid en deursigtigheid.

Charmaine stem hiermee saam en vertel: “Ons het verkeerde keuses gemaak omdat ons met vals inligting gewerk het. Ek het byvoorbeeld aangeneem Philip se inkomste is op ’n sekere vlak en hy het ook gedink ek verdien heelwat meer.”

’n Begroting vir twee (of meer)

Die tweede harde les wat hulle geleer het, was om saam te begroot. Dit het hulle gehelp om te sien waar hulle onnodig geld bestee en ook om hul finansiële verpligtinge regverdig te verdeel.

Om die begroting realisties te maak, het elkeen ’n bedrag gekry om op hulself uit te gee en hulle het saam iets opsygesit vir onvermydelike noodgevalle.

Maak ’n plan om skuld te elimineer

Die paaiemente en rente ten opsigte van skuld het maandeliks ’n reuse hap uit hul begroting geneem. Met behulp van hul finansiële adviseur kon die paartjie egter ’n plan saamstel om dit te elimineer.

“Dit was die moeilikste stap in die proses,” vertel Charmaine, “maar binne ses maande was die eerste kredietkaart ten volle afbetaal en daarna was ons motivering onkeerbaar, en na twee jaar was ons amper skuldvry.”

Droom, spaar en belê saam

’n Waardevolle les van hulle finansiële adviseur was om hulself eerste te betaal. Dit beteken voordat hulle enige iets anders betaal, hulle eers spaar. Aanvanklik was die bedrag klein, maar vandag bou albei aan ’n gesonde neseier vir aftrede en hulle het ook geld om vir hul drie dogters se toekoms eenkant te sit.

Charmaine som hul situasie op deur te sê: “’n Gebrek aan kommunikasie oor ons geldsake het amper die einde van ons huwelik beteken. Gelukkig kon ons die storms oorleef, en ná twaalf jaar saam is Philip steeds my droomman en die beste belegging van my lewe.”

 

*Skuilname is gebruik