As jy langer as ‘n jaar getroud is, weet jy teen dié tyd beslis dat die huwelik nie altyd maanskyn en rose is nie. In swaar tye het jy en jou maat beslis hoop nodig vir jul huwelik om te oorleef. En wanneer jou  maat se hoop taan, is dit jóú taak om dit weer lewendig te hou.

Promosie

Die antieke Grieke het so ‘n interessante mitologiese storie oor hoop vertel. Dit gaan so:

Die hoofgod Zeus het besluit om die mensdom te straf omdat hulle die gode se vuur gesteel het. Zeus beveel toe dat Hephaestus (die god van kunstenaars) klei en spoeg moes gebruik om ‘n mooi jong menslike vrou te maak. Hierdie vrou het goddelike skoonheid gehad. Al die ander gode het ‘n verskeidenheid van gawes en talente aan haar geskenk. Geen wonder dan ook dat hierdie vrou die naam Pandora gekry het nie. “Pandora” beteken “Draer van alle gawes”.

Zeus gee toe vir haar ‘n kruik vol geheime as bruilofsgeskenk, met die uitdruklike opdrag dat sy die kruik nooit mag oopmaak nie. (Die tradisie het later gepraat van “Pandora se kissie”, maar die Griekse woord moet eintlik met ‘n “kruik” en nie met ‘n “kissie” vertaal word nie).

Promosie

Een dag kon Pandora nie haar nuuskierigheid beteuel nie, en sy maak die kruik oop. Daar vlieg toe allerhande booshede uit, soos rampe, siektes, bekommernisse, bedrog, ouderdom, onmin, pyn, hongersnood, twis – absoluut elke soort pes en ellende wat maak dat die mens lyding op aarde verduur. So word die Griekse vrou Pandora dus byna soos Eva (van wie ons in die Bybel lees) wat swaarkry vir die mensdom veroorsaak het.

Pandora het die kruik so vinnig as moontlik weer toegemaak, maar al die ellendes het reeds uitgevlieg,  en slegs ‘Hoop’  het in die kruik agtergebly. Hierdie mitologiese storie het die wyse mense in die eeue daarna baie laat kopkrap.

Sommige het gesê dat ons dankbaar kan wees dat ‘Hoop’ in die kruik vasgevang is, want nou het ons immers darem nog hoop wat ons lewens leefbaar kan maak te midde van al die rampe en ellende.

Ander wyse mense sê weer dat hierdie geen positiewe storie is nie, want die feit dat ‘Hoop’ in die kruik vasgevang is, is vir ons van geen nut nie. Dit sou veel groter nut hê as ‘Hoop’ ook vrygelaat kan word in hierdie wêreld. Nog ander wyse mense sê weer dat ons moet onthou dat ‘Hoop’ nie as ‘n positiewe gawe deur die antieke mens beskou is nie. Hoop is eintlik net so ‘n pes soos al die ander peste en ellendes wat in daardie kruik was, want ‘Hoop’ bring so dikwels erge teleurstellings. Daarom dat ons so dikwels praat van “valse hoop”, of “blinde hoop”. Hoop veroorsaak so dikwels hartseer, omdat hoop nie altyd realiseer nie! Dit lyk dus of hoop nie juis die antieke Grieke opgewonde kon maak nie. Hoop het dus vir die Grieke ongelukkig ook ‘n negatiewe klankie gehad.

Gelukkig gee die Bybel vir ons ‘n ander perspektief op hoop. Wanneer die Bybel oor hoop praat, gaan dit oor baie meer as ‘n soort van “mogge troffe” aangeleentheid – soos wanneer jy met ‘n haelgeweer in die lug skiet en dan wag en kyk of jy dalk iets getref het.

Die hoop waarvan die Bybel ons vertel, bevat ook ‘n element van geloof en ‘n element van sekerheid. Immers, vir ‘n gelowige gaan dit nie net oor die inhoud van hoop nie, maar ook omdat ‘n gelowige se hoop geanker is in die Gewer van hoop, naamlik God.

Romeine 15:13 sê mos “God is die bron van ons hoop”. Ons weet dat God in beheer is, sonder om daarmee te sê dat ons in ‘n fatalistiese houding moet verval, en moet glo dat elke gebeure tot in die fynste detail vooraf beplan is, en dat ons niks daaraan kan doen nie. Maar ons weet dat God ‘n liefdevolle plan vir ons het, en dat Hy wel in beheer is van alle faktore wat ons lewe kan beïnvloed. Verder het God ook natuurlike wette en lewensbeginsels daargestel en ons ook toegerus met kennis om goeie keuses te kan maak. Met so ‘n beskouing van God, die mens en die wêreld kan ons wel ons hoop op God vestig.

Dit is seker maklik om rondom ons te kyk en ons vinger te wys na gebeure en persone wat ons hoop verydel het. Nooit moet ons vergeet dat ons self ook draers en waarmakers van hoop in ander mense se lewens moet wees, en dat ons moet sorg dra dat ons nie die hoop in ander se lewens vernietig nie. So het elkeen van ons die plig om byvoorbeeld die hoop in ons lewensmaat se lewe lewendig te hou en dit te laat realiseer. Dit is hoop wat ons lewensreis soet maak, en geur aan die lewe gee.

Daarom kan ons afsluit met die kragtige getuienis van die skrywer van Hebreërs 10:23 wat sê: “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het”.

Artikel deur professor Hennie Stander