Die God-kol is glo daardie deel in die brein wat vir die mens se spiritualiteit verantwoordelik is. Maar al is dit dalk net spekulasie, die waarheid is dat Geloof en God, en ook Geloof in God ‘n baie belangrike impak op ‘n verhouding het. Hierdie impak kan negatief of positief wees.
Kom ons begin deur eers na geloof se negatiewe impak op ‘n verhouding te kyk, sodat ons immers met die positiewe impak kan afsluit!
Geen twee mense se spiritualiteit het dieselfde intensiteit nie. Nogtans, wanneer ‘n paartjie nie op dieselfde geloofsgolf is nie, kan dit maklik spanning in hul verhouding bring, as hulle dit nie vroeg-vroeg aanspreek nie. Dit is geen wonder die Skrif sê dat gelowiges en ongelowiges nie in dieselfde juk kan trek nie (2 Kor. 6:14). Dit gaan wel nie in 2 Korintiërs 6 oor die huwelik nie, maar die beginsels sluit ook nie die huwelik uit nie.
So, dit is belangrik dat ‘n paartjie ook hieroor sal gesels voordat hulle besluit om in ‘n vaste verbintenis aan te gaan. (Wees maar versigtig om te dink dat julle twee dit later sal uitsorteer, en dat die ander persoon sal verander. Dit gebeur nie so maklik nie, en dan kan dit ‘n kloof word wat al dieper in die verhouding insny).
1 Petrus 3:1 maak ‘n interessante stelling. Petrus sê dat “as daar vroue is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe Godvresend hulle is, en hoe voorbeeldig hulle hul gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir hulle nodig wees om ‘n woord te sê nie!” So ja, lewensmaats kan ‘n geweldige invloed op mekaar se geloofslewe hê. Dit kan selfs die ander persoon tot bekering lei.
Paulus maak egter ‘n baie vreemde opmerking in 1 Korintiërs 7:13-14. Hy sê daar dat “as enige broeder ‘n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie; en as ‘n vrou ‘n ongelowige man het en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie verstoot nie. Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man!”
Sjoe, dit is vreemd! Dit klink amper of altwee hemel toe gaan as een van die twee gelowig is! Dit is dan darem baie maklik: As die een glo, is beide se saak met die Here sommer reg. Dit klink nie reg nie …
Maar dit is nie wat hierdie vers wil sê nie. Paulus wil bloot sê dat God nie ‘n egpaar verwerp wanneer slegs een lid van die huwelikspaar gelowig is nie, aangesien die gelowige lid tog ook ‘n atmosfeer van gewydheid en geestelikheid na die huwelik bring.
Maar kom ons fokus nou op duidelike positiewe aspekte van ‘n huwelik tussen gelowiges. Dit bied dadelik ‘n gemeenskaplike fondasie vir die huwelik. Beide partye weet nou ook wat die etiese uitgangspunt van die ander persoon is, en dit bou vertroue in mekaar. Die paartjie kan mekaar ook geestelik versterk en vir mekaar bid. Dit bied tegelykertyd ‘n veilige omgewing waarbinne die ontwikkeling van kinders kan gedy.
Indien geloof regtig ‘n prioriteit vir beide partye in die verhouding is, en beide ‘n begeerte het om hul geloof uit te leef, sal dit vir hulle ‘n taak van erns wees om mekaar te dien. Daar is dan géén plek vir baasspelerigheid in die huwelik nie.
Paulus sê in Efesiërs 5:25 dat mans hul vroue lief moet hê soos wat Christus sy kerk liefhet. Christus was selfs bereid om sy lewe vir sy bruid (die kerk) te gee. Christus wil die mooi in die kerk na vore bring om die kerk so aan God te wy. Dink daaraan dat dit ook die doel van ‘n gelowige man en vrou moet wees om mekaar te help sodat die mooi in die ander na vore kan kom!
Onthou: “Those who pray together, stay together!”
Artikel deur prof Hennie Stander
***
Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?
Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!
‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!