Almal verskil oor romanse, oor watter kosse waarlik aphrodesiacs is en hoeveel gegeurde kerse nou regtig die ding sal doen, maar uiteindelik gaan dit oor ’n paar basiese reëls en intensie. As jy dit reg doen . . .
. . . sal dit nie saak maak of jy vir haar gebrande toast of ’n driegang maaltyd opdis nie. Dit sál eindig met haar wat vir jou dankie sê nes jy daarvan hou.

Die meeste mans word afgesit van die romantiese ete-idee omdat hulle hulself nie as goeie kokke beskou nie. Hier is egter die geheim agter elke romantiese ete: Dit gaan nie oor wat jy voorberei nie, maar oor die feit dat jy raaksien wat sy elke dag vir jou doen.

As jy bloot by ’n gewone romantiese ete wil bly, bespreek plek by ’n goeie restaurant en jou vrou gaan dalk vir ’n dag of twee op wolk nommer nege sweef, maar gou weer aarde toe kom ná ’n week se roetine. Maar as jy self ’n romantiese ete vir haar opdis …

Sien raak wat sy elke dag vir jou doen

Saam met enige romantiese ete waarmee jy haar bederf, moet jy dit duidelik maak dat dit maar net ’n klein teken van jou waardering is vir die etes wat sy elke dag vir jou en die gesin maak. Komplimenteer haar oor die dinge wat jy al as vanselfsprekend aanvaar het, soos sy wat elke aand aandete maak.

Ontbyt in die bed en seks in die kombuis

Hoe meer onverwags die ete, hoe meer romantiese punte is daar vir jou. Moet haar nie probeer beïndruk met ’n Valentynsete, verjaardagete of uiteet op jul huweliksherdenking nie (dit word reeds van jou verwag!). Jy moet haar verras, sommer vir geen rede nie. Kos in die bed het dalk seks in die kombuis tot gevolg! Breek weg van die normale. ’n Gesonde huwelik is een waar daar nog misterie aan gekoppel is. Moenie toelaat dat julle in ’n boring groef verval nie.

Ontbyt in die bed . . . só doen jy dit:

1. Staan ’n bietjie vroeër op as sy en gaan sit die ketel en oond aan (180 °C). In plaas van die normale spek en eiers, maak vir haar ’n bacon-en-eier muffin. Haal ’n muffin-pan uit en smeer dit met botter.
2. Neem ’n gewone sny brood en sny die korsies af. Plaas ’n gesnyde brood in elke muffin-houer en vorm dit soos die onderkant van ’n muffin.
3. Breek een eier in die middel van elke “brood-muffin”. Jy kan dit ook opvul met tamaties, groenpeper, mushrooms en stukkies spek.
4. Rond dit af met gerasperde kaas bo-oor en plaas dit in die oond. Gee so ’n paar minute kans vir die eier om te bak om die “brood-muffin” te vul.
5. Bedien dit vir jou vrou saam met tee of koffie en ’n blom uit die tuin, met die boodskap dat hierdie maar net ’n klein blykie van waardering is vir alles wat sy elke dag vir jou doen.

Seks in die kombuis . . .

Die beste manier om enige ete romanties te maak is om dit saam aan te pak. Help haar dus in die kombuis sodat jou vrou nie voel seks is een van die honderde take wat sy nog moet “afhandel” voor slaaptyd nie. Ruim die huis op, maak aandete, sit die kinders in die bed en kyk wat gebeur . . .

Wanneer jy weer jou vrou sien wat voor die stoof staan en kos maak, dink aan die fliek Ghost, waar Patrick Swayze agter Demi Moore kom staan en saam met haar pottery doen. Seks in die kombuis is nie om regtig in die kombuis seks te hê nie, maar om die alledaagse van aandete maak ’n romantiese twist te gee. Só maak jy seker dat uie kap en witsous maak een van die mees erotiese dinge ooit word!

Artikel deur TIMOTHY KIESWETTER

Artikel aan jou gebring deur Desir – Honour yourself – www.desir.co.za