Al ooit gesien hoe lyk ’n man voor die kassie wanneer hy na die een of ander aksiefliek kyk? Hy is vasgenael, tjoepstil en die ene konsentrasie… soos ’n jaghond wat sy prooi point. Asof dit die eerste voorspelbare held-tree-in-en-red-die-samelewing storie is wat hy nog ooit gesien het!

Hoekom vang aksieflieks mans se aandag so vas? Om die­selfde rede as waarom ons nie ’n Kate Hudson-romcom mis nie – ons wens ons het haar lyf, haar looks, haar wit en haar fairytale gehad! Jou man begeer ook wat die hoofkarakters in sy flieks het – veral sy status – en die antwoord op die aksiefliek-vraag lê in die titel van een van my seuntjie se animasieflieks: Everybody’s Hero. Dís wie hy wil wees. Maar veral jóúne.

Daarom behoort elke jong bruid én gesoute getroude vrou gewaarsku te word dat sy in besit is van iets baie broos – haar man se ego.

Daar ís tye wat elke vrou verwonderd staar na die man met wie sy getroud is – veral wanneer Pappa met sy onderbroek en wit help-my-sterk-lyk hempie (waaronder die naeltjie met volle fors vorentoe beur) deur die huis paradeer. Maar glo ons wanneer ons sê dat, hoewel dit baie maklik is om jou man se ego ’n goeie boost te gee, dit ewe maklik is om daardie Titanic te laat sink!

En omdat ’n man glo sy manlikheid is gesetel in sy Baie Belangrike Instrument (sy penis!), verg dit net die woorde: “Nie vanaand nie,” en Meneer Super-Ego lê plat teen die grond (dit kan jy ook meet aan die rigting waarin sy BBI nou wys).

Dis nie maklik om met ’n geknakte riet saam te leef nie, so sorg dat dinge dus suidwaarts wys (of minstens in die een of ander oostelike of westelike windrigting). Ons gee jou ’n paar wenke vir hoe om manlief se ego gesond te hou!

  1. “Liefie, jy is die mooiste ding op twee bene!” Komplimenteer hom oor sy voorkoms. Elke man wil weet hy lyk goed. Jy kan hom ’n algemene kom­pliment soos dié een gee, of jy kan meer spesifiek wees deur te noem hoe sy hemp sy mooi blou oë beklemtoon of hoe jy kan sien dat die ure in die gimnasium vrugte afwerp.
  2. Sjoe, daardie kelnerin is jaloers op my.” Laat jou man begeerlik voel. Elke man wil weet hy is nog aantreklik vir die skoner geslag. So, noem terloops hoe jy weet dat ander vroue dink hy is sexy (moet net nie die pap té dik aanmaak nie – jy wil hê hy moet goed voel oor homself, en nie glo dat hy jou nou kan inruil vir enige jong dingetjie nie!).
  3. “Net jý kan daardie grap vertel dat almal huil soos hulle lag.” Gee hom ’n kompliment wat uniek is aan hom en juis daardie uniekheid beklemtoon. Wees egter een honderd persent eerlik, hy sal weet as jy jok.
  4. “Dít is nou vir jou ’n sexy kar.” Komplimenteer manlief se gadgets, tegnologie of kar. Mans sien nogal hul besittings as “verlengstukke” van hulself, veral hul karre. As jy dus sy kar komplimenteer, is dit so half asof jy hóm komplimenteer.
  5. Gooi jou flikkers! As jy met manlief flankeer (met ander woorde, subtiel vir hom wys dat jy hom aantreklik vind), is dit soos wanneer jy ’n sexy, nou swart rok aanhet. Al is die hals nie laag of die soom hoog nie, is die suggestie daar, en ’n man vind dit uiters aantreklik. Jy komplimenteer hom dus sonder om woorde te gebruik.
  6. “Ek wou nog altyd pienk teddie-pantoffels met rooi harte op gehad het!” (Al is dit die lelikste goed wat jy nog ooit gesien het!) Ja, daar is soms plek vir ’n wit leuentjie, al is dit net om jou man se ego te red. As jy wys dat hy ’n lelike/simpel/belaglike/aaklige geskenk vir jou gekoop het, voel hy soos ’n mislukking – en dit is allermins wat jy wil hê! Voeg miskien net by: “Ek gaan hulle min dra, sodat hulle altyd kan hou en ek nóóit weer hoef te soek vir teddie-pantoffels nie.”
  7. “Jou mielies lyk die mooiste in die hele kontrei.” Van vroeg af reeds leer mans dat hul hoofrol in die lewe is om die “voorsiener” te wees. Ja, selfs al woeker jy in die boardroom, is dit steeds deel van wie hy is. Mans voel dat hul vermoë om geld te verdien, die rede is vir hul bestaan – hulle word onderbewustelik daarmee gepeper dwarsdeur hul lewens. Vir mans is sukses en mag gelyk aan mekaar. Wys dus jy stel belang, prys hom en gee hom erkenning vir die werk wat hy doen – dit sal sy ego ’n hupstoot gee en jul verhouding versterk.
  8. “Jy is ’n hings in die bed!” Laat manlief verstaan hoe ’n ongelooflike goeie minnaar hy is. Dit gee sy ego ’n hupstoot, hy voel goed oor homself en geseënd om jou as ’n lewensmaat te hê. Om in ’n man se ego te belê, is krities vir ’n goeie verhouding.
  9. “Jinne, hierdie man van my het ’n algemene kennis wat skrik vir niks!” Komplimenteer hom voor jul vriende. Daar is niks wat ’n man so goed laat voel soos wanneer hy ’n kompliment voor jou vriendinne of sy vriende kry nie.
  10. “Sal jy asseblief vir my hierdie bottel oop­maak?” Boost sy ego deur hom manlik en sterk te laat vóél. Deur vir hom ’n konfytbottel te gee om oop te maak, iets te gee om reg te maak en te vra: “Kan jy dit doen? Ek kry dit nie reg nie,” laat hom voel asof jy hom nodig het om te oorleef en dit versterk net sy oerinstink om jou te versorg (met die geloof dat nét hy dit kan doen).

Dit is só belangrik om manlief se ego ’n goeie hupstoot te gee. Selfs al loop hy met daardie wit hempie in die huis rond, beteken dit nie dat hy nié soms onseker van homself is nie. Onthou ook om nie net komplimente uit te deel wanneer jy goed voel nie, maar om hom ook te respekteer wanneer jy nié so goed voel nie… dit is baie natuurlik om sy ego met ’n beiteltjie by te kom wanneer jy kwaad of ongelukkig is. Dink twee keer voor jy iets verkleinerend kwytraak. Voed jou man se ego, bou dit en jul huwelik sal floreer.

Onthou egter ook – soos alle goeie dinge, is te veel nooit ’n goeie ding nie. Manlief sal agterkom dat iets vreemds aangaan en dit sal lyk asof jy oneerlik is. Kies jou oomblikke fyn om hom te laat besef jy waardeer hom en bewonder hom. Laat hom goed verstaan hóékom, en hy sal voel soos Everybody’s Hero. En selfs gedurende daardie tye wat dit nié so goed gaan nie, sal hy weet hy is steeds jóú superheld.

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: wikihow.com, voices.yahoo.com, divinecaroline.com, instructables.com